12
Augustus 2002, Optog vir Afrikaans
MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR
PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP MAANDAG 12 AUGUSTUS 2002,
VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING:
Op Woensdag 14 Augustus vind 'n
"Optog vir Afrikaans" in Hatfield, Pretoria plaas.
Die optog vertrek om 12:00 vanaf die piazza buite die
Studentekafeteria van die Universiteit van Pretoria.
Twee studente-organisasies, PRAAG-Tuks en Tuks-Afrikaanse
Studente, organiseer die betoging. 'n Ander groep
studente van die Pretoriase Technikon sal ook aan die optog
deelneem.
Die optog wil protes aanteken teen
taaldiskriminasie, en die uitdryf van Afrikaans uit skole en
universiteite. Veral Minister Kader Asmal se pogings om
Afrikaanse universiteite te dwing om te verengels, is die
onderwerp van hul misnoeë.
Die gekose datum, 14 Augustus, is
simbolies van die stryd vir die behoud en erkenning van
Afrikaans wat 'n aanvang geneem het op dié datum in 1875 met
die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners. 'n
Eeu en 'n kwart later word Afrikaans steeds nie erken as 'n
amptelike taal nie, en geniet Afrikaanssprekendes steeds nie
dieselfde regte en voorregte as Engelssprekendes nie.
Na afloop van die optog sal 'n
memorandum van griewe by Asmal se kantoor afgelewer word.
Hierdie is die begin van 'n reeks
aksies vir die herstel van die amptelike status van Afrikaans,
wat tans in Suid-Afrika gruwelik misken word deur 'n
Afrikaansvyandige regering wat taalregte op Mugabeagtige wyse
minag.
Die studente wil ook met die optog
bewys dat die kwaadwillige mite wat versprei word, as sou
jongmense nie belang stel in die taalstryd nie, 'n infame
leuen is.
PRAAG-Tuks, asook Tuks-Afrikaanse
Studente, nooi alle belangstellendes uit om deel te neem aan
die optog ten einde hul solidariteit te betoon met die
daaglikse probleme van studente om lesings en studiemateriaal
in Afrikaans te bekom.
Kontakpersoon: Dr. Dan
Roodt, PRAAG 0824901036