13 Augustus 2002, Munisipaliteit weier toestemming!

MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRAAG OP 13 AUGUSTUS 2002 VIR ONMIDDELLIKE VRYSTELLING

 
Die Pretoriase Munisipaliteit, by monde van mnr. Paki Peta, het toestemming geweier dat PRAAG-Tuks en TAS (Tuks-Afrikaanse Studente) môre deur die strate van Hatfield stap tydens 'n optog vir Afrikaans.
 
Dr. Dan Roodt van PRAAG het na afloop van 'n vergadering met mnr. Peta en verteenwoordigers van die polsisie- en verkeersdiens van Pretoria sy misnoeë uitgespreek hieroor.  "Weer eens sien ons dat daar teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer word.  Op dieselfde dag word toestemming verleen aan die plakkers van Marabastad om te betoog, maar die Afrikaanse studente se versoek word geweier."
 
Nietemin gaan môre se betoging op die kampus van die Pretoriase Universiteit volstoom voort.  Pleks van om op straat te gaan betoog, gaan die optog nou op die kampus self plaasvind, waarna 'n groep studente voor Sol Plaatjiehuis in Schoemanstraat sal gaan protesteer tydens die oorhandiging van 'n memorandum van griewe aan Minister Kader Asmal.  Dieselfde memorandum sal ook aan die kantoor van die rektor, prof. Calie Pistorius, oorhandig word.
 
Volgens 'n kampuswoordvoerder van TAS, is daar "enorme belangstelling" vir die betoging, en daar word beplan om tydens die optog Afrikaanse liedere te sing.
 
Groepies studente was vandag reeds besig om plakkate en baniere te verf vir môre se betoging.  Van die studenteleiers sal reeds teen tienuur môre-oggend op die piazza voor die Studentekafeteria teenwoordig wees.
 
Die optog sal teen twaalfuur van die piazza vertrek.
 
Intussen het PRAAG Bloemfontein laat weet dat 'n Afrikaanse filmfees op die kampus van die Vrystaatse Universiteit môre op GRA-dag gehou word.  Studente aldaar het hulle solidariteit met die Tukkies uitgespreek, en 'n spesiale boodskap sal ten aanvang van die filmfees voorgelees word waarin die geskiedenis van die Afrikaanse taalbewegings in herinnering geroep word, en die noodsaak om vandag op te staan vir taalregte benadruk word.
 
Kontakpersoon:  Dan Roodt 0824901036