MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR
PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 15 APRIL 2004KOMMENTAAR
OP VERKIESINGSUITSLAE
Die
uitslae van gister se verkiesing bevestig weereens die sinloosheid van
deelname deur minderheidskiesers aan 'n proses wat grotendeels neerkom op 'n
rassesensus. Vroeë syfers dui reeds daarop dat swart Suid-Afrikaners in
groter getalle as ooit vir die regerende ANC gestem het, terwyl
minderheidskiesers steeds hul stemme tussen die kleiner partye verdeel.
Die
een uitstaande verwikkeling is egter die skouspelagtige afgang van die Nuwe
Nasionale Party. In die provinsie waar die Nasionale Party in 1914 gestig
is, naamlik die Oranje-Vrystaat, het die NNP tot dusver slegs een persent
van die stemme op hom verenig. Landwyd lyk dit asof die party met twee
persent van die stemme tevrede sal moet wees. Vir 'n party wat Suid-Afrika
vir lang tydperke gedurende die twintigste eeu regeer het, moet dit sekerlik
'n bitter pil wees om te sluk, maar die verwerping van die NNP deur
die kiesers, en veral die Afrikaner-kieser, is nie onverdiend nie.
Wat
dit nog veelseggender maak, is dat die NNP nog tot voor die verkiesing groot
geldelike en mediasteun geniet het. Selfs oud-president F.W. de Klerk het 'n
poging aangewend om lewe in die NNP-lyk te plaas deur sy persoonlike
ondersteuning en hulp met fondsinsameling.
Gegewe
die ongewildheid van die NNP onder Afrikaners, is dit verbasend dat vele
establishment-kommentators steeds klakkelose aanhangers van NNP-denke bly,
veral in die Afrikaanse media. Afrikanerskuld, 'n verskonende houding
teenoor die ANC, ondergeskiktheid en 'n kruiperige meelopery word
voortdurend aan ons voorgehou as die model vir politieke sukses.
Die
groei van die Vryheidsfront Plus moet toegeskryf word aan die belangrikheid
wat taal- en identiteitskwessies vir Afrikaners ingeneem het oor die
afgelope vier jaar, danksy die volgehoue openbare debat en die rol wat
groepe soos PRAAG en die Groep van 63 hierin gespeel het. Nietemin is dit
ook duidelik dat die Vryheidsfront Plus ook nie oor 'n antwoord beskik om
die toenemende ANC-hegemonie te stuit of teen te gaan nie.
Soos
ons voorheen aangedui het, gaan politiek nie in die eerste plaas om 'n
stemmery nie, maar oor idees. Die Afrikaner is reeds die afgelope drie of
vier dekades in 'n intellektuele en ideologiese stryd gewikkel wat hy byna
konstant verloor het. Die val van die Nasionale Party wat gereduseer is tot
die jammerlike reste van die NNP met sy patetiese sikofant van 'n leier,
Marthinus van Schalkwyk, is bloot die simptoom van hierdie groter
ideologiese en propaganda-neerlaag wat Afrikaners oor 'n tydperk van dekades
gely het.
Vir
die oomblik is daar nog geen opwaartse neiging in die Afrikanerpolitiek nie,
en op grond van die verkiesingsuitslae kan ons slegs uitsien na verdere
verliese sover dit die behoud van ons taal, kultuur, instellings en posisie
in Suid-Afrika betref.
Die
enigste twee ligpunte is:
-
die
bereidheid van 'n klein groepie intellektuele en betrokke individue om
toe te tree tot die felle ideologiese stryd wat daar steeds teen
Afrikaners heers, en wat op die duur bedoel is om hul van enige aanspraak
op hul erfenis in Suid-Afrika te beroof deur hulle as "uitheems",
"blanke setlaars" en dergelike te tipeer;
-
die
snel veranderende internasionale klimaat wat die tradisionele kwessies wat
Afrikanerdenkers in die twintigste eeu besig gehou het, tans op die
voorgrond plaas, soos beskawingsbotsings of 'n Kulturkampf,
identiteitskwessies rondom ras, taal en afkoms, die uitsonderlike
ontwikkelings- en regeringsprobleme van Afrika, ens.
Vir
die eerste keer in vier dekades, veral ná Zimbabwe, is daar in vandag
se wêreld groter begrip vir die Afrikaner se situasie as etno-Europese
minderheid op 'n swart kontinent waarvan die leiers en politici al
hoe verder versink in 'n selfgesentreerde narcisme en rasse-identiteit. Daar
wag opwindende politieke moontlikhede op Afrikaners, wat egter hoegenaamd
nie deur enige van die partye in die huidige verkiesing ontgin is nie.
Waarskynlik
het die meeste Afrikaners by verstek vir die Demokratiese Alliansie
gestem, wat 'n beter vertoning as voorheen gelewer het, hoofsaaklik weens
die wins aan kiesers wat die NNP versaak het. Intellektueel en ideologies is
die DA egter 'n dinosourus wat 'n oudmodiese en koloniale liberalisme op
Suid-Afrika probeer toepas soos Aspoestertjie se suster wat willens en
wetens die verkeerde skoen probeer aantrek. Die hele verkiesingsuitslag,
waar die ras- en identiteitspatroon ten hemele skrei, negeer die paradigma
van liberale individualisme wat die DA klakkeloos vanuit Brittanje en ander
Westerse lande oorgeneem het. Die ongevoeligheid van die DA vir die benarde
toestand van Afrikaans en die afgang van Afrikaanse instellings,
verteenwoordig 'n verdere diskwalifikasie om hoegenaamd na die Afrikaner se
belange te kan omsien.
Dit
lyk ook asof dit 'n uitgemaakte saak is dat die ANC 'n tweederde-meerderheid
gaan behaal, wat die veelbesonge Grondwet van 1996 as waarborg vir
Afrikanervoortbestaan nog verder in die gedrang gaan bring. Indien daar
hoegenaamd 'n klousule in die grondwet sou wees wat deur Afrikaners gebruik
sou kon word om hul gestadigde vernietiging - hetsy deur assimilasie, hetsy deur
verdrywing uit die land - teen te werk, kan dit nou met 'n pennehaal
verwyder word.
Die
erfenis van FW de Klerk en Roelf Meyer staan vandag onthul in sy naakte
verskrikking waar ons totaal uitgelewer is aan die welwillendheid van 'n
swart-nasionalistiese regering wat kan maak en breek soos hy wil in
Suid-Afrika, iets wat tot onlangs en vir 'n eeu lank in elke Afrikaanse
politieke geskrif as die ergste denkbare nagmerrie beskryf is. Geen ander
volk op aarde sou, indien hy dit kon verhelp, in so 'n situasie wou verkeer
nie.
Diegene
wat voorspel het dat Suid-Afrika uit die greep van 'n eenpartystaat wat op
rassegronde aangewys word, gaan ontkom om 'n "normale demokrasie"
te word, is vir die derde keer agtervolgens verkeerd bewys. Daarom is dit
gebiedend noodsaaklik dat die intellektuele en ideologiese stryd waarin
Afrikaners reeds heelwat punte aangeteken het oor die afgelope jaar of twee,
voortgesit sal word. Totdat ons oor 'n stewige intellektuele basis
beskik wat 'n alternatief vir die ANC-hegemonie bied, gaan deelname aan
verkiesings 'n frustrerende en futiele aangeleentheid bly.
boontoe