wie is ons?

nuus!

sluit aan by praag!

donasies

roodt-geskrifte aanlyn

afrikanerforum

boekwinkel 

chronologie

menings

rubrieke

opstelle

resensies

poësie

satire

mediaverklarings

aksies

skrywers

abba

skakels

briewe

uit-BEELD

uit-RAPPORT

out-STAR

KRYT

tuis

 


MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 15 APRIL 2004

KOMMENTAAR OP VERKIESINGSUITSLAE

 

Die uitslae van gister se verkiesing bevestig weereens die sinloosheid van deelname deur minderheidskiesers aan 'n proses wat grotendeels neerkom op 'n rassesensus. Vroeë syfers dui reeds daarop dat swart Suid-Afrikaners in groter getalle as ooit vir die regerende ANC gestem het, terwyl minderheidskiesers steeds hul stemme tussen die kleiner partye verdeel.

Die een uitstaande verwikkeling is egter die skouspelagtige afgang van die Nuwe Nasionale Party. In die provinsie waar die Nasionale Party in 1914 gestig is, naamlik die Oranje-Vrystaat, het die NNP tot dusver slegs een persent van die stemme op hom verenig. Landwyd lyk dit asof die party met twee persent van die stemme tevrede sal moet wees. Vir 'n party wat Suid-Afrika vir lang tydperke gedurende die twintigste eeu regeer het, moet dit sekerlik 'n bitter pil wees om te sluk, maar die verwerping  van die NNP deur die kiesers, en veral die Afrikaner-kieser, is nie onverdiend nie.

Wat dit nog veelseggender maak, is dat die NNP nog tot voor die verkiesing groot geldelike en mediasteun geniet het. Selfs oud-president F.W. de Klerk het 'n poging aangewend om lewe in die NNP-lyk te plaas deur sy persoonlike ondersteuning en hulp met fondsinsameling.

Gegewe die ongewildheid van die NNP onder Afrikaners, is dit verbasend dat vele establishment-kommentators steeds klakkelose aanhangers van NNP-denke bly, veral in die Afrikaanse media. Afrikanerskuld, 'n verskonende houding teenoor die ANC, ondergeskiktheid en 'n kruiperige meelopery word voortdurend aan ons voorgehou as die model vir politieke sukses.

Die groei van die Vryheidsfront Plus moet toegeskryf word aan die belangrikheid wat taal- en identiteitskwessies vir Afrikaners ingeneem het oor die afgelope vier jaar, danksy die volgehoue openbare debat en die rol wat groepe soos PRAAG en die Groep van 63 hierin gespeel het. Nietemin is dit ook duidelik dat die Vryheidsfront Plus ook nie oor 'n antwoord beskik om die toenemende ANC-hegemonie te stuit of teen te gaan nie.

Soos ons voorheen aangedui het, gaan politiek nie in die eerste plaas om 'n stemmery nie, maar oor idees. Die Afrikaner is reeds die afgelope drie of vier dekades in 'n intellektuele en ideologiese stryd gewikkel wat hy byna konstant verloor het. Die val van die Nasionale Party wat gereduseer is tot die jammerlike reste van die NNP met sy patetiese sikofant van 'n leier, Marthinus van Schalkwyk, is bloot die simptoom van hierdie groter ideologiese en propaganda-neerlaag wat Afrikaners oor 'n tydperk van dekades gely het.

Vir die oomblik is daar nog geen opwaartse neiging in die Afrikanerpolitiek nie, en op grond van die verkiesingsuitslae kan ons slegs uitsien na verdere verliese sover dit die behoud van ons taal, kultuur, instellings en posisie in Suid-Afrika betref.

Die enigste twee ligpunte is:

  1. die bereidheid van 'n klein groepie intellektuele en betrokke individue om toe te tree tot die felle ideologiese stryd wat daar steeds teen Afrikaners heers, en wat op die duur bedoel is om hul van enige aanspraak op hul erfenis in Suid-Afrika te beroof deur hulle as "uitheems", "blanke setlaars" en dergelike te tipeer;

  2. die snel veranderende internasionale klimaat wat die tradisionele kwessies wat Afrikanerdenkers in die twintigste eeu besig gehou het, tans op die voorgrond plaas, soos beskawingsbotsings of 'n Kulturkampf, identiteitskwessies rondom ras, taal en afkoms, die uitsonderlike ontwikkelings- en regeringsprobleme van Afrika, ens.

Vir die eerste keer in vier dekades, veral ná Zimbabwe, is daar in vandag se wêreld groter begrip vir die Afrikaner se situasie as etno-Europese minderheid op 'n swart kontinent waarvan die leiers en politici al hoe verder versink in 'n selfgesentreerde narcisme en rasse-identiteit. Daar wag opwindende politieke moontlikhede op Afrikaners, wat egter hoegenaamd nie deur enige van die partye in die huidige verkiesing ontgin is nie.

Waarskynlik het die meeste Afrikaners by verstek vir die Demokratiese Alliansie gestem, wat 'n beter vertoning as voorheen gelewer het, hoofsaaklik weens die wins aan kiesers wat die NNP versaak het. Intellektueel en ideologies is die DA egter 'n dinosourus wat 'n oudmodiese en koloniale liberalisme op Suid-Afrika probeer toepas soos Aspoestertjie se suster wat willens en wetens die verkeerde skoen probeer aantrek. Die hele verkiesingsuitslag, waar die ras- en identiteitspatroon ten hemele skrei, negeer die paradigma van liberale individualisme wat die DA klakkeloos vanuit Brittanje en ander Westerse lande oorgeneem het. Die ongevoeligheid van die DA vir die benarde toestand van Afrikaans en die afgang van Afrikaanse instellings, verteenwoordig 'n verdere diskwalifikasie om hoegenaamd na die Afrikaner se belange te kan omsien.

Dit lyk ook asof dit 'n uitgemaakte saak is dat die ANC 'n tweederde-meerderheid gaan behaal, wat die veelbesonge Grondwet van 1996 as waarborg vir Afrikanervoortbestaan nog verder in die gedrang gaan bring. Indien daar hoegenaamd 'n klousule in die grondwet sou wees wat deur Afrikaners gebruik sou kon word om hul gestadigde vernietiging - hetsy deur assimilasie, hetsy deur verdrywing uit die land - teen te werk, kan dit nou met 'n pennehaal verwyder word.

Die erfenis van FW de Klerk en Roelf Meyer staan vandag onthul in sy naakte verskrikking waar ons totaal uitgelewer is aan die welwillendheid van 'n swart-nasionalistiese regering wat kan maak en breek soos hy wil in Suid-Afrika, iets wat tot onlangs en vir 'n eeu lank in elke Afrikaanse politieke geskrif as die ergste denkbare nagmerrie beskryf is. Geen ander volk op aarde sou, indien hy dit kon verhelp, in so 'n situasie wou verkeer nie.

Diegene wat voorspel het dat Suid-Afrika uit die greep van 'n eenpartystaat wat op rassegronde aangewys word, gaan ontkom om 'n "normale demokrasie" te word, is vir die derde keer agtervolgens verkeerd bewys. Daarom is dit gebiedend noodsaaklik dat die intellektuele en ideologiese stryd waarin Afrikaners reeds heelwat punte aangeteken het oor die afgelope jaar of twee, voortgesit sal word. Totdat ons oor 'n stewige intellektuele basis beskik wat 'n alternatief vir die ANC-hegemonie bied, gaan deelname aan verkiesings 'n frustrerende en futiele aangeleentheid bly.

boontoe