MEDIAVERKLARING
UITGEREIK DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP DINSDAG 16
SEPTEMBER 2003
VRYSTELLING:
ONMIDDELLIK
PRETORIANAAMSVERANDERING:
ONTMOETING MET MKHWANAZI
PRAAG het gister namens die inwoners
van Pretoria en alle belanghebbendes 'n lywige dokument met meer
as 1 000 name van elektroniese petisionarisse wat teen die
naamsverandering gekant is, aan mnr. Ata Mkhwanazi van die
burgemeesterskantoor oorhandig. Tydens die ontmoeting is die
volgende aan mnr. Mkhwanazi oorgedra:
- die inwoners van die historiese
Pretoriagebied, asook die meerderheid Afrikaners, is geheel en
al gekant teen die beoogde naamsverandering;
- dit gaan die huidige toestand
van vervreemding onder Afrikaners vererger;
- dit gaan groot bedrae geld kos
wat op ander sake soos veiligheid of armoedeverligting bestee
kon gewees het.
Beide mnr. Mkhwanazi en PRAAG het
die gesprek, wat langer as twee ure geduur het, van groot waarde
gevind aangesien daar kennis geneem is van mekaar se standpunte.
PRAAG is verteenwoordig deur dr. Dan Roodt, 'n Afrikaanse
skrywer en intellektueel, me. Lydia van Eeden, werknemer van 'n
parfuummaatskappy en mnr. Kobus Wolvaardt jnr., 'n
finalejaaringenieurstudent aan die Universiteit van Pretoria.
Mnr. Mkhwanazi het sy verbasing
uitgespreek dat nòg die opposisiepartye in die Pretoriase
stadsraad, nòg ander Afrikaanse organisasies tot dusver moeite
gedoen het om die teenkanting teen die naamsverandering uiteen
te sit. Daarvoor het hy PRAAG bedank, en beklemtoon dat 'n
opvolggesprek noodsaaklik sou wees. Daar was 'n wedersydse
voorstel dat 'n openbare debat of konferensie oor die
naamsverandering gehou moet word.
In weerwil van die hoflike ontvangs
en indringende gesprekvoering, is dit vir PRAAG duidelik dat die
naamsverandering nog geensins van die baan is nie. Die standpunt
van die stadsraad is dat alle inwoners van die metropolitaanse
gebied, ook dié buite Pretoria, inspraak moet hê in die
naamsverandering en die aanname is dat die meerderheid ten
gunste daarvan is. So 'n aanname is egter deur PRAAG betwis en
daar is voorgestel dat 'n referendum oor die naamsverandering
gehou word waaraan inwoners in die historiese Pretoriagebied
behoort deel te neem.
Die stadsraad gaan voort met wat
genoem word 'n "konsultasieproses" om inwoners van die
groter Tshwanegebied wat tot in die Noordwesprovinsie strek, in
te lig oor die voorgenome naamsverandering en ook hul menings in
te win. Dit mag wees dat hierdie konsultasieproses geensins op
demokratiese beginsels berus nie, maar bloot bedoel is om die
wetlike vereistes sover dit naamsveranderings betref, na te kom.
Die algemene indruk van die
PRAAG-verteenwoordigers is dat die aksies wat tot dusver gevoer
is, naamlik die optog na Kerkplein op 16 Augustus, asook die
elektroniese petisie op www.praag.org
en die petisie op die Tukkie-kampus wat deur vierduisend
studente onderteken is, besig is om vrugte af te werp.
Dit moet egter beklemtoon word dat
die stryd nog nie gewonne is nie. Indien niks verder gedoen word
nie, sal die naamsverandering waarskynlik sonder slag of stoot
deurgevoer word. Daarom is dit allernoodsaaklik dat meer mense
die elektroniese petisie op www.praag.org
moet teken en ook geldelik moet bydra om die kostes van die
aksie teen naamsverandering te dek.
Kontakpersoon: dr. Dan Roodt
0824901036
boontoe