MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG:
MICROSOFT, NOKIA EN AFRIKAANS
VRYSTELLING: ONMIDDELLIK, 18 JUNIE 2003
Die Vriende van Afrikaans
verdien 'n pluimpie vir hul goeie werk om Microsoft te oorreed om hul
programmatuur in Afrikaans beskikbaar te stel. Nokia was egter die eerste
multinasionale tegnologiemaatskappy wat aangekondig het dat hy Afrikaanse
programmatuur in sy produkte gaan inbou.
Hierbenewens het Nokia dit ook moontlik gemaak
om bestaande selfone gratis op te gradeer na 'n veeltalige model met Afrikaans
daarop. 'n Mens sou graag wou sien dat Microsoft modules beskikbaar te stel om
ouer weergawes van hul programmatuur ook op te gradeer met Afrikaans.
Terwyl Afrikaans steeds op alle gebiede
agteruitboer, veral in die onderwys, verteenwoordig hierdie deurbrake om
basiese aspekte van die moderne lewe soos persoonlike rekenaars en selfone in
die taal om te skakel, tekens dat die keerpunt bereik is in die aftakeling wat
veral sedert 1994 die norm is. Ten minste het die harde werk van
taalorganisasies, asook die individuele lede van die publiek wat teen groot
vyandigheid in poog om hul taal in winkels en teenoor die staat te handhaaf,
'n klimaat geskep waarin dit nou moontlik is om eise vir taalregte te stel.
Desnieteenstaande hierdie ligpunte, het
Afrikaans geweldig veld verloor teenoor Engels oor die afgelope tien jaar, en
om dit in te haal gaan steeds reuse-inspanning verg van alle taalaktiviste.
Daarom is dit noodsaaklik dat alle taalstryders
hul aktiwiteite behoort te koördineer en maandelikse sittings van die
Konfederale Afrikanerforum by te woon sodat ons wedersyds op hoogte kan bly
met vordering in die taalstryd.
Kontakpersoon: Dan Roodt 0824901036