Die
jongste nuus vanuit die burgemeesterskantoor te Pretoria is dat die stad
se naam wel mag verander, hangende die bevinding van die sogenaamde "deskundige
komitee". Die bevinding van die komitee is voorspelbaar, want dit is
gepak met sogenaamde "deskundiges" wat vyandig staan teenoor die
naam Pretoria.
Die
enigste gevolgtrekking waartoe ons kan kom, is dat burgemeester Smangaliso
Mkhatshwa voortgaan met sy naamsverandering, ongeag die teenkanting van
Minister Mosiuoa Lekota en ander ANC-hooggeplaastes. Hiermee het die
agbare burgemeester hom nie net in konflik met die inwoners van Pretoria
gebring nie, maar ook met elemente in sy eie party.
Wat
PRAAG betref, is ons geheel en al ontnugter met die dubbelspel van die ANC
in Pretoria. Die woede van die inwoners is besig om op te vlam, en enkele
Tshwane-tekens is reeds verander. Ons doen hiermee 'n beroep op alle
inwoners om enige bord met die onwettige en ongewenste naam Tshwane
onmiddellik dood te verf of te vervang met 'n teken waarop Pretoria pryk.
Indien
die burgemeester ná die bekendmaking van die sogenaamde "deskundige"
komitee se bevinding, steeds voortgaan met sy naamsverandering, sal dit
beveg word met boikotaksies, die doodverf van naamborde en verdere
betogings. Nóg PRAAG nóg die inwoners van Pretoria aanvaar hierdie neo-koloniale
naamskending en aanslag op Afrikaans.
PRAAG
doen hiermee 'n beroep op alle opposisiepartye om teen die ANC in Pretoria
te verenig ten einde die mag aanstaande jaar tydens die munisipale
verkiesings van die ANC weg te neem. Die DA, daarenteen, behoort dringend
te besin of hy nog 'n rol het om in Pretoria te speel aangesien dié party
tot dusver afwesig was in die stryd om Pretoria se naam te behou. Die
manier waarop die DA insgelyks vir Mkhatshwa toelaat om die stad te regeer
asof dit sy eie persoonlike leengoed verteenwoordig, is eenvoudig
skandalig en getuig van 'n lamsakkige, ondoeltreffende en verbeeldinglose
opposisie.
Dit
is van die allergrootste belang om die ANC se mag in Pretoria te breek,
nie net om die naam te behou nie, maar om ten minste die een stad in die
land waar die grootste aantal Afrikaners saamgetrek is, uit die tentakels
van die oorheerser te bevry.