Pretoria se naam gaan nie
meer verander nie. Tydens 'n verrassingsbesoek aan 'n vergadering van die
Konfederale Afrikanerforum Saterdag in die Ou Raadsaal, Pretoria, het die
Minister van Verdediging en voorsitter van die ANC, mnr. Mosiuoa Lekota,
onomwonde verklaar dat Pretoria se naam nie meer gaan verander nie.
Toe 'n paar ongelowige
toehoorders hom begin uitvra het, het hy gesê: Pretoria bly Pretoria. Hy
het ook die versekering gegee dat die ANC hoë waardering vir Afrikaans en
Afrikaanse plekname het en dit as gedeelde Suid-Afrikaanse erfenis beskou.
PRAAG is verheug oor
hierdie besluit van die ANC, en spreek sy tevredenheid uit met die
maandelange veldtog wat lede van die aksiegroep, asook die inwoners van
Pretoria, gevoer het teen die beoogde naamsverandering met petisies,
betogings en dreigemente van belastingboikotte. Uiteindelik het redelikheid
geseëvier. Hiermee doen PRAAG ook 'n beroep op alle inwoners wat begin het
om betaling van plaaslike belastings te boikot, om sodanige boikot onverwyld
op te skort.
Terselfdertyd versoek PRAAG
die burgemeester, mnr. Smangaliso Mkhatshwa, om so gou moontlik sy stem by
dié van Minister Lekota te voeg en die publiek te verseker dat die naam nie
gaan verander nie. Ook die huidige komitee van deskundiges wat teen groot
koste aangestel is om die naamsverandering te ondersoek, behoort ontbind te
word en alle onbestede fondse moet na die munisipaliteit terugkeer.
Die olyftak wat die ANC
hiermee na die Afrikanergemeenskap van Pretoria uitsteek, moet gegryp word.
Terselfdertyd moet die ANC egter besef dat ander naamsveranderings, soos
dié in die Noord-Transvaal, steeds ongelukkigheid onder Afrikaners
veroorsaak. PRAAG sal dus voortgaan om te agiteer dat alle naamsveranderings
opgeskort word, en dat Afrikaanse name nie van die landkaart af verdwyn nie.
Minister Lekota word ook
bedank vir sy belangwekkende deelname aan die oop gesprek van die
Afrikanerforum oor die rol van opposisie in die huidige politieke bestel.
Die vergadering in die Ou Raadsaal is bygewoon deur omtrent 70 mense, en
daar was verteenwoordigers van alle politieke partye, van die HNP tot die
ANC. Slegs die NNP-verteenwoordiger, mnr. Johan Durand, het versuim om op te
daag.
Die Konfederale
Afrikanerforum is nou reeds in sy tweede jaar besig om een van die
belangrikste gespreksforums in die land te word. Dat Minister Lekota verkies
het om dié belangwekkende aankondiging te doen in die historiese Ou
Raadsaal waar die betrokke Metroraad ook vergader, spreek boekdele oor die
beduidenis wat die regering reeds heg aan dié maandelikse byeenkoms van
invloedryke Afrikaners. Die forum beywer hom ook vir die totstandkoming van
'n verteenwoordigende Afrikanerraad en die aankondiging oor Pretoria se naam
toon die noodsaak van 'n liggaam wat namens alle Afrikaners kan praat.