Dit is met skok dat PRAAG verneem het van
die plan om Kerkplein te "hervorm" om die Afrikaanse en historiese
karakter van die plein te skend. Die plan, wat byna reeds 'n fait accompli
is, om 'n betonkonstruksie in die noord-westelike hoek van die plein op te
rig om as toespraakplatform te dien. Dit is onbekook, onesteties en 'n
direkte aanslag op die Afrikaner-erfenis.
Die feit dat mede-Afrikaners
besig is om hulself te verryk deur die erfenis van hul voorvaders te skend
en af te breek, is miskien selfs meer skandalig as die afskuwelike bouwerk
self. By vandag se vergadering het PRAAG verneem dat daar reeds R2 miljoen
bestee is tydens die aanvangsfase van die projek, en dat die uiteindelike
koste soveel as R12,5 kan beloop. Hierdie fondse kon veel beter bestee
gewees het om kulturele aktiwiteite in die Pretoriase middestad te finansier
ten einde die verval van die stadskern te stuit en kulturele toeriste na die
vele pragtige monumente en geboue te lok.
'n Verdere ontstellende
aspek is dat die segsman van die liggaam wat die skeding op Kerkplein gaan
pleeg, mnr. Christiaan van der Wath, taamlik selfvoldaan laat blyk het dat
die huidige projek slegs die begin verteenwoordig van die uiteindelike
"hervorming" van Kerkplein om alle spore van
Afrikanerteenwoordigheid voorheen op die plein uit te wis. Die uiteindelike
verskuiwing van President Paul Kruger se standbeeld is dus geensins
uitgesluit nie.
Volgens mnr. Maketa Sefale
van die Pretoriase stadsraad is Kerkplein nou "verower" en behoort
dit nie meer aan Afrikaners nie, maar aan die "meerderheid" in
Hammanskraal, Temba, Shoshanguve en ander gebiede, en is dit hul prerogatief
om die plein na goeddunke te verander.
PRAAG moet ook sy
teleurstelling uitspreek met die standpunt wat voorheen ingeneem is deur die
Beweging Red Kerkplein, onder voorsitterskap van mev. Lillibeth Moolman. Die
BRK is oorspronklik opgerig deur mev. Johanna Raath wat in die
middelsewentigerjare voor die stootskrapers gaan staan het om te keer dat
die Wesfasade van die plein gesloop word onder administrateur Sybrand van
Niekerk. Pleks dat die BRK gehandel het soos sy roemryke voorganger en die
sogenaamde Lalela-projek teengestaan het, het dié organisasie gepoog om 'n
"kompromie" met die stadsraad te bereik.
Intussen het dit geblyk dat
die BRK groter afgebyt het as wat hy gedink het, en pleks van enkele
vierkante meter plaveisel, het die projek aangegroeit tot die geldslurpende
betonmonster wat binnekort onder Oom Paul se oë losgelaat gaan word.
Hierdie oordeelsfout en gebrek aan kragdadige optrede deur die Beweging Red
Kerkplein mag die Afrikanervolk nog duur te staan kom.
Intussen het die publiek
slegs tot Vrydag 5 Maart om hul teenstand teen die projek uit te spreek aan
die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne-agenskap, oftewel SAHRA. Op dié
stadium is dit onduidelik of die publiek moet kla by SAHRA of sy Gautengse
ekwivalent oor die Lalela-projek. Ons doen 'n beroep op alle Afrikaners, in
Pretoria en landwyd om hul protes te laat hoor. PRAAG het ook 'n
elektroniese petisie beskikbaar op ons webwerf www.praag.org waar lede van
die publiek hul naam kan voeg by ons eie beswaarskrif waarvan die inhoud
môre bekend gemaak sal word.
PRAAG sien die aanslag op
Kerkplein as samehangend met die ongewenste en ongewilde naamsverandering
van Pretoria. Net soos wat PRAAG sal aanhou om die naamsverandering te beveg,
sal ons hierdie jongste skending van die Afrikaner-erfenis wat indruis teen
aanvaarde internasionale menseregtepraktyk, teenstaan.
PRAAG ondersoek steun die
dringende aansoek van die Kerkpleinhandelaarsvereniging in die Pretoriase
Hooggeregshof om die Leledi-projek te stuit. Terselfdertyd gaan PRAAG begin
met 'n nasionale en internasionale veldtog om die publiek bewus te maak van
die flagrante skending van die Afrikaanse kultuurerfenis.
PRAAG ondersoek verder 'n
klag by die VN se kulturele agentskap, UNESCO, omdat die Laledi-projek
duidelik gegrond is op etniese weerwraak jeens Afrikaners. Ons gaan ook poog
om Kerkplein geklassifiseer te kry as 'n "Wêrelderfenisgebied"
wat die skending daarvan 'n internasionale kwessie sal maak.
Ons doen hiermee 'n beroep
op die Beweging Red Kerkplein om sy aanvanklike toestemming vir die projek
onvoorwaardelik terug te trek, en insgelyks die skending van Kerkplein te
beveg net soos wat sy stigter, mev. Johanna Raath, byna dertig jaar gelede
gedoen het.