MEDIAVERKLARING
OP 1 NOVEMBER 2006
OP DIE DOOD
VAN PW BOTHA
PRAAG wil sy innige simpatie
en medelye met mev. Barbara Botha, mnr. PW Botha se kinders en ander
naasbestaandes uitspreek. Hoewel mnr. PW Botha reeds 90 jaar oud was, was hy
so helder, sterk en gesond dat sy skielike dood as 'n skok vir almal gekom het.
PW Botha was iemand wat sy
hele lewe lank in die politiek gestaan het en wat historiese figure soos genls.
Hertzog en Smuts persoonlik geken het. Sy heengaan verteenwoordig daarom ook
'n breuk met die geskiedenis wat onherroepelik is. In vele opsigte was PW
Botha die laaste van die ou skool van Afrikanerstaatshoofde wat
Afrikanervryheid hoër as mededingende beginsels soos demografiese demokrasie
geplaas het.
Die oordeel oor mnr. Botha of
hy reg was om 'n ANC-oorname teen te staan of nie, sal nog deur die
geskiedenis gevel word. Indien Suid-Afrika sou ontwikkel tot 'n liberale
demokrasie van die Westerse tipe sou die eensydige en dikwels onbillike
kritiek wat hy vandag in die media verduur in 'n mate geregverdig wees. Maar
indien Suid-Afrika van hier af versink in nog 'n Zimbabwe met etniese
suiwering van blankes en Afrikaners, ekonomiese stagnasie en ellende soos in
vele Afrikalande aangetref word, sal hy vir seker anders geoordeel word en was
sy weerstand teen revolusie terugskouend geregverdig.
In gesprekke wat dr. Dan
Roodt van PRAAG verlede jaar met PW Botha gevoer het, het hy te kenne gegee
dat hy geensins in 1989 beroerte gehad het nie, maar dat hy moontlik vergiftig
kon gewees het. Die destydse geneesheer-generaal en bekwame mediese
spesialiste het hom ondersoek en kon geen spoor van beroerte vind nie. Ook die
verstandelike helderheid wat hom tot aan die einde van sy lewe gekenmerk het,
plaas 'n vraagteken oor die destydse bewerings van beroerte.
Hierdie en ander gebeure sê
vir ons dat die tagtigerjare toe mnr. Botha aan bewind was, 'n duistere
periode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verteenwoordig. Dit was die tyd van
die Kerkstraatbom, van buitelandse moondhede en selfs Westerse ambassades wat
hulle openlik met die binnelandse politiek in die land bemoei het deur hul
steun aan 'n radikale ondergrondse beweging sonder bewysbare openbare steun.
Die Sweedse regering het groot bedrae geld - tot $100 miljoen per jaar - aan
die ANC geskenk om terreur teen Suid-Afrika te pleeg en 'n opstand teen die
wettige regering van die land te probeer organiseer.
Skrywers, intellektuele en
studente is op sleeptou geneem en gemanipuleer op die manier waarop die ou
Sowjetunie, Oos-Duitsland en Kuba die naïewes vir politieke propaganda
rondgelei en by vergaderings uitgestal het. Vandag is vele van hulle wat in
die tagtigerjare felle kritiek teen mnr. Botha se regering gelewer het diep
ontnugter deur die huidige bestel met sy geweld, korrupsie en onbekwaamheid.
In die aangesig van
plaasmoorde, taaldiskriminasie, rassistiese beleid teen blankes,
naamsveranderings en grondonteiening, swyg dieselfde buitelandse moonhede wat
destyds revolusie in die land gestook het in alle tale. Terwyl Mugabe 'n
skrikbewind in Zimbabwe voer, word sy land nie met sanksies getref nie en word
daar - anders as in die geval van PW Botha - geen pogings van buite aangewend
om hom te ontsetel nie.
Een ding staan egter soos 'n
paal bo water: vandag is die Afrikaner nie meer vry nie. Daar mag "bevryding"
of oehoeroe na die Afrikamodel plaasgevind het, maar mnr. De Klerk se
eksperiment het nie daarin geslaag om 'n billike bedeling tot stand te bring
waarin daar vir minderheidsgroepe ook voorsiening gemaak is nie. Die
voortbestaan van die Afrikanerminderheid word vandag wesentlik bedreig deur 'n
simplistiese stelsel wat in Suid-Afrika een "nasie" en een "geheel"
poneer wat deur die geskiedenis en die werklikheid van talige en kulturele
verskeidenheid ontken word.
Sedert 1994 het meer as 'n
miljoen blankes die land verlaat, oftewel een uit elke vyf. Die mate van
ontnugtering en vervreemding wat daar onder Afrikaners ingetree het as gevolg
van ongebreidelde geweldsmisdaad, taaldiskriminasie, naamsveranderings en die
mees radikale rassevoorkeurbeleid ter wêreld, is ongekend in die geskiedenis.
In daardie opsig was PW Botha,
tesame met elke ander Afrikanerleier gedurende die twintigste eeu, hetsy Louis
Botha, hetsy Jan Smuts, J.B.M. Hertzog, D.F. Malan, H.F. Verwoerd of B.J.
Vorster, oënskynlik korrek in hul siening dat swart oorheersing in
Suid-Afrika onversoenbaar sou wees met die voortbestaan van die inheemse
blanke kultuur en beskawing wat sedert 1652 tot stand gekom het.
Die geskiedenis is nie verby
nie en Suid-Afrika se probleme is nie deur FW de Klerk se oorgawe besleg nie.
Daarom sou ons 'n fout maak deur die stroom te volg en PW Botha vandag as
halsstarrig en outokraties te tipeer. Enigeen wat met hom persoonlik te doene
gehad het, sou kon getuig dat hy die verwikkeldheid van ons multi-etniese
samelewing goed begryp het en onder die omstandighede sy bes probeer het om 'n
billike bedeling tot stand te bring.
Tot aan die einde van sy lewe
was sy integriteit ongeskonde. Omdat hy geen korrupsie gedoog het nie, het hy
gesterf as die armste Afrikaleier in die geskiedenis, met net 'n huis in
Wilderness op sy balansstaat. Ook in sy weerstand teen die propagandamaneuvers
van die Waarheids- en versoeningskommissie, het hy manhaftig en oortuigend
opgetree. Ondanks alle pogings van die ANC en sy handlangers, is hy nooit aan
enige misdryf skuldig bevind nie, anders as die groot aantal korrupte ANC-politici
wat steeds in die parlement sit.
Hy sal ook onthou word as
iemand wat die Suid-Afrikaanse Weermag tot 'n gedugte en professionele
gevegseenheid opgebou het. Onlangse nuus oor die onbekwaamheid en chaotiese
toestande in die geamalgameerde Nasionale Weermag toon dat ook dié deel van
sy erfenis nie die ANC-bewind oorleef het nie.
Die bou van ses
kerntoetstelle onder sy bewind wat met groot verantwoordelikheid geskied het,
verteenwoordig een van Suid-Afrika se merkwaardigste militêre en tegnologiese
prestasies. So iets sal nooit weer gebeur nie omdat die land nie meer oor
dieselfde mate van kundigheid beskik nie.
Ongeag of mens met sy
politiek saamgestem het, moet mens erken dat PW Botha diep spore in
Suid-Afrika getrap het. Veral was hy geen jabroer nie. Sy persoonlike woorde
aan my sal my altyd bybly: "Ek hou van 'n vriend wat my kritiseer, want
hy is 'n ware vriend. Maar 'n vriend wat my poleer, ag ek nie." Hoe
anders was so 'n man nie as die ruggraatlose kruipers en jellieagtige
voetewassers wat deesdae deur die regime en sy gedienstige media as "Afrikanerleiers"
voorgehou word nie!
'n Mens kan PW Botha van baie
dinge beskuldig, maar nie dat hy ongevoelig teenoor sy land, sy volk en hul
vryheid gestaan het nie. Om daardie rede behoort Afrikaners vandag verenig te
wees in hul rou, maar gesterk in die wete dat ons vryheidstryd nie verby is
nie. Uit die geslag van PW Botha en sy roemryke voorgangers wat terugstrek tot
Kruger en die Trekkerleiers, sal daar wel iemand verrys om ons van die huidige
oorheersing te bevry.
Kontakpersoon: Dan Roodt
inlig@praag.org
boontoe