Na vertoë van plaaslike
inwoners het PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) besluit om die onlangse
naamveranderings in die Limpopo-provinsie in die hof te beveg.
Sover ons kan vasstel het
geen van die naamveranderings vir dorpe soos Louis Trichardt, Potgietersrus,
Ellisras, Pietersburg, Warmbad, Nylstroom en ander wettiglik geskied nie.
Trouens, 'n mens kan hier praat van Mugabeïstiese naamveranderings,
aangesien die plaaslike inwoners nie geraadpleeg is nie, en daar geen
prosedure gevolg is soos dit in die toepaslike wetgewing neergelê is nie.
Die enigste dorp wat 'n
naamsverandering vrygespring het, is Tzaneen waar die inwoners 'n hofaansoek
gebring het en so die naamveranderaars in hul spore gestuit het.
PRAAG doen 'n beroep op die
publiek om ons te help om die onsinnige naamveranderings ongeldig verklaar
te kry deur ons regsaksie te steun. Ons vra dat alle inwoners van die
betrokke dorpe geld insamel vir dié doel, asook almal wat Afrikaans en
Afrikaanse name goedgesind is. Raak betrokke by hierdie aksie om ons name te
bewaar, en hierdie Stalinistiese naamrevolusie te kelder.
Vele van die nuwe name gee
aanstoot aan die plaaslike inwoners, en doen afbreuk aan goeie verhoudinge
in die land. Bowendien kom dit neer op 'n verkwisting van fondse deur
stadsrade wat onnodige nuwe borde moet aanbring. Dit skaad ook die
toerismebedryf wat oor baie jare belê het in reklame vir ons vertroude
name.
PRAAG sal aanhou veg vir
die belange van Afrikaanssprekendes om te sorg dat hul taal en erfenis nie
uitgewis word deur die aanhangers van Mugabeïsme wat bloot besig is met 'n
irrasionele magsvertoon wat geen ekonomiese of kulturele sin maak nie.