25 Julie 2002, Jaap Steyn ontvang PRAAGprys
MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP DONDERDAG 25 JULIE 2002:
Gister op 24 Julie 2002 is die PRAAGprys vir Afrikaanse Voortreflikheid toegeken aan prof. Jaap Steyn van die Vrystaatse Universiteit tydens die TarenTAALtjiefees op Brandfort.
Die prys is bedoel om jaarliks 'n persoon of instansie te vereer wat bygedra het tot die bevordering van Afrikaans en die vestiging van 'n pro-Afrikaanse bewussyn. Jaap Steyn is reeds jare lank besig daarmee en sedert die publikasie van sy omvangryke werk Tuiste in eie taal (1980) lewer hy gereeld kommentaar oor die taalkwessie. Oor die afgelope tyd het hy hom reeds verskeie kere sterk uitgespreek oor diskriminasie teen Afrikaans, en hy word allerweë beskou as 'n prominente figuur in die nuwe taalstryd wat enkele jare gelede in Afrikaans ontstaan het in reaksie op verengelsing en owerheidsdiskriminasie teen die taal. In sy vyfweeklikse rubriek in Die Volksblad en Beeld publiseer hy gereeld feitelike en helder argumente vir 'n volledige Afrikaanse lewe en teen enige vorm van taalhensoppery soos tans te dikwels onder Afrikaners voorkom.
Jaap Steyn is 'n veelsydige skrywer, en benewens sy skeppende werke soos Die grammatika van liefhê(1975), Op pad na die grens (1976) en Dagboek van 'n verraaier (1978), het hy onlangs 'n manjifieke biografie oor N.P. van Wyk Louw gepubliseer (1998)waarin laasgenoemde se sienings oor Afrikaans in Johannesburg ook aan bod kom. Sy jongste werk is nog 'n biografie, Penvegter (2002), oor die joernalis Piet Cillié. Hy is een van die mees formidabele intellekte in Afrikaans, asook 'n keurige stilis.
Prof. Steyn beskik oor 'n legendariese beskeidenheid, maar gelukkig is hy reeds daaruit gelok deur die toekenning van verskeie literêre en wetenskapspryse. Met die huidige toekenning wil PRAAG hom spesifiek vereer vir sy rol as taalstryder, en veral die insig en kennis oor die Afrikaanse taalgeskiedenis waarsonder enige taalstryd doodgebore sou wees. Telkens verras hy ons met nuwe besonderhede aangaande die Afrikaanse verlede wat nog altyd gekenmerk is deur 'n ongelyke mededinging met 'n magtige wêreld- en koloniale taal.
Hopelik sal die PRAAGprys dien as aansporing vir ander om ook met dieselfde toegewyde deeglikheid hulself te beywer vir die bevordering van Afrikaans en Afrikaanse taalregte.
Kontakpersoon: Dr. Dan Roodt 082 4901036