27
Maart 2002, Fisieke intimidasie by Korrektiewe Dienste
Hiermee reik PRAAG (die
Pro-Afrikaanse Aksiegroep) die volgende mediaverklaring uit op 27
Maart 2002 om 11h15:
Ná PRAAG die Departement van
Korrektiewe Dienste gedreig het met 'n dringende aansoek om sy
diskriminasie teen Afrikaans en Afrikaanssprekendes te staak, het
die Departement 'n eksamen wat môre Donderdag 28 Maart gehou sou
word, afgelas. Hierdie eksamen by die
Zonderwateropleidingskollege naby Pretoria was die onderwerp van 'n
dispuut weens die departement se voorskrif dat geen vraestel wat in
Afrikaans beantwoord sou word, gemerk sou word nie.
Die Departement van Korrektiewe Dienste,
soos ook Justisie en Openbare Werke, het dit op hom geneem om geheel
al buite die Grondwet te tree. Artikel 6 (3) (a) verplig elke
staatsdepartement om ten minste twee amptelike tale te gebruik.
Terwyl die departement voorheen
voorgegee het dat daar geen opdrag bestaan dat Afrikaans nie gebruik
mag word nie, het hy in 'n brief aan PRAAG se prokureurs, asook in
dokumentasie wat aan die studente by Zonderwater versprei is,
duidelik die standpunt gestel dat geen ander taal behalwe Engels
voortaan as eksamentaal toegelaat sal word nie. Die DKD verwys
na 'n "uitvoerende besluit" wat in dié verband geneem is
op 18 Maart 2002.
Berigte van fisieke intimidasie, asook
dreigemente, is deur PRAAG ontvang van studente by Zonderwater.
Studente is ook vanmôre gedwing om 'n dokument te onderteken waarin
hulle afstand doen van hul taalregte en Engels aanvaar as voertaal
en eksamentaal. Geen eksemplaar van hierdie dokument is egter
beskikbaar gestel nie, selfs nie eens aan die ondertekenaars daarvan
nie. PRAAG poog tans om 'n kopie daarvan te bekom ten einde
dit nietig verklaar te kry deur PANSAT (Pan-Suid-Afrikaanse
Taalraad).
Daar is reeds twee klagtes teen die
Departement van Korrektiewe Dienste hangende by PANSAT, wat aantoon
in watter mate hy die argwaan en misnoeë van sy eie werknemers
ontlok. Dat daar ook verskeie ondersoeke van korrupsie teen
amptenare van die departement aan die gang is, getuig van die
laksheid waarmee daar omgegaan word met reëls, beginsels en regte
in die departement.
PRAAG spreek hom ten sterkste uit teen
die voortdurende ongrondwetlike taalsituasie by die DKD, asook die
Mugabeagtige dreigemente en intimidasietegnieke wat gebruik word by
Zonderwater. Die poging om studente se taalregte weg te neem
deur hulle te dwing om 'n onderneming te teken, is laakbaar en hoort
tuis in 'n Stalinistiese strafkamp.
PRAAG gaan voort met regsoptrede teen
die departement. Hoewel môre se eksamen uitgestel is tot
aanstaande Donderdag 4 April, is die taaldispuut nog geensins
opgelos nie, veral nie in die lig van die departement se onlangse
optrede nie. Viktimisering van studente wat op Afrikaans
aandring, hou aan.
Daarom word 'n dringende aansoek
voorberei deur PRAAG se regspan wat in alle waarskynlikheid net na
die Paasnaweek gebring sal word. Die Milneristiese en
koloniale afdwing van Engels tot nadeel van elke ander taal in
Suid-Afrika verteenwoordig 'n laagtepunt in die huidige bewind se
rekord tot dusver.
In sy brief gedateer 26 Maart 2002
verklaar die DKD dat "geen antwoordstel in enige taal behalwe
Engels gemerk sal word nie". Hiermee diskrimineer die
departement teen die moedertale van 93% van die land se bevolking.
Die feit dat die departement op kort
kennisgewing 'n eksamen kan afstel ten einde die regsproses teen hom
te fnuik en verdere uitstel te bekom, toon nie net dat hy geensins
die belange van die stundente en die goeie orde van die
Zonderwatersentrum op die hart dra nie, maar bereid is om van
hul opleiding en toekoms 'n politieke speelbal te maak. Ten
einde sy leë magsvertoon te handhaaf, is die departement bereid om
jongmense te benadeel en hul mees basiese menseregte te vertrap.
Die mense van Suid-Afrika gaan nie
langer buig voor die Stalinisme en Mugabeïsme van die DKD en ander
staatsdepartemente nie. Ons dring aan op ons regte.
Indien ons hoegenaamd in 'n "demokrasie" woon, behoort
gedrag soos dié van die DKD onmiddellik gesanksioneer te word met
die afdanking van die betrokke persone, asook die bedanking van
Minister Ben Skosana wat toegelaat het dat sake in sy departement
handuit ruk.
PRAAG praat namens 93% van die land se
bevolking as hy sê dat gedwonge verengelsing nie langer aanvaarbaar
is nie. Ons vestig die publiek se aandag daarop dat die vorige
bewind wat hom ingestel het op gedwonge verengelsing ook gebruik
gemaak het van volksmoord op onskuldige vroue en kinders waarvan die
honderdjarige herdenking vanjaar plaasvind. Die terugkeer van
koloniale taalverdrukking en totalitarisme moet met hand en tand
beveg word. Ons doen 'n beroep op die media om hulself in die
sterkste moontlike terme hierteen uit te spreek, want die toekoms
van demokrasie en die regstaat in Suid-Afrika is in die gedrang.
Op hierdie noot bedank ons graag daardie
koerante soos Beeld en Rapport wat in hoofartikels die standpunt
uitgespreek het dat benadeling van studente deur hulle te ontneem
van moedertaaluitdrukking tydens 'n eksamen ontoelaatbaar is.
Ons doen verder 'n beroep op die publiek
om by te dra tot PRAAG se fondse ten einde hierdie saak tot in die
hoogste hof in die land te voer, want ons mag nie toelaat dat die
Departement van Korrektiewe Dienste met 'n pennehaal ons van regte
ontneem waarvoor mense al tweehonderd jaar stry en reeds op die
slagveld en in konsentrasiekampe die hoogste prys betaal het nie.
Kontakpersoon: Dr. Dan Roodt 082
4901036