MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR
PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 27 OKTOBER 2003
PRAAG ONDERSTEUN
ANTI-MISDAADVELDTOG
PRAAG ondersteun alle pogings deur individue
en organisasies om grootskaalse betogings teen geweld en misdaad in
Suid-Afrika van stapel te stuur. Ons het reeds aan sowel mev. Lynne
Vince-Jillings as mev. Deidré Meurs ons steun toegesê en is bereid om ons
ervaring en kundigheid as aksiegroep tot die beskikking van die huidige
veldtog teen misdaad te stel.
In ons samesprekings met alle belanghebbendes
het ons tot dusver beklemtoon dat daar 'n verenigde front teen misdaad
geskep behoort te word en dat die hele Suid-Afrika op een dag teen
geweldsmisdaad behoort te betoog. Standpunte vir of teen die doodstraf mag
nie 'n verdelende faktor wees nie, aangesien die belangrikste is om
binnelandse en buitelandse druk op die regering te plaas om op te hou
voorgee dat hy iets in verband met misdaad doen en daadwerklik moet begin
optree.
PRAAG wil insgelyks die rol van bemiddelaar
tussen die verskillende anti-misdaadgroepe speel sodat gesamentlike en
eendragtige aksies tot stand kan kom. Die vertoon van 'n verenigde openbare
front teen die misdadigers wat ons terroriseer sal veel doen om
Suid-Afrikaners wakker te skud uit hul toestand van apatie, defaïtisme en
belangeloosheid.
Die hou van 'n betoging op 30 November, 'n
Sondag, mag aanstoot gee aan sekere konserwatiewe Christene en daar is reeds
individue en organisasies wat voorbehoude hieroor uitgespreek het. Ons doen
egter 'n beroep op teoloë en predikante om hul stemme positief hieroor te
laat hoor, aangesien dit tog hier gaan om die red van menselewens en om die
bose dade van moordenaars en verkragters te probeer stuit. Om boosheid op 'n
Sondag te beveg, kan dus kwalik gesien word as Sabbatsontheiliging.
Ons doen veral 'n beroep op die publiek om in
groot getalle op te ruk na die betoging op 30 November te Newtown,
Johannesburg. Verder moet Afrikaans die taal van bevryding word teen misdaad
en behoort soveel plakkate en baniere as moontlik in daardie taal gedra te
word. Die woorde "moord" en "misdaad" het nabye
ekwivalente in Engels, Frans, Duits en Nederlands, en sal vir 'n
internasionale gehoor verstaanbaar wees. Daar is dus geen rede vir
Afrikaanssprekendes om Engelse plakkate na die betoging te bring nie.
PRAAG is reeds geruime tyd besig om
Afrikanerveiligheid te ondersoek, in samewerking met die Veiligheidskomitee,
asook die Komitee vir Menseregte en teen Volksmoord van die Konfederale
Afrikanerforum. Die stryd vir Afrikaans en Afrikanerregte het geen sin as
ons mense, asook vele ander inwoners van die land, op 'n daaglikse grondslag
beroof en uitgemoor word nie. Die toenemende anargie en wetteloosheid in die
land maak 'n bespotting van ons sogenaamde demokrasie.
Ons doen insgelyks 'n beroep op mnr. Mbeki om
die indruk dat 'n menselewe in Afrika en veral in Suid-Afrika veel minder
werd is as op enige ander kontinent, om te keer deur onmiddellik sy sinlose
buitelandse reise te staak en toe te sien dat die polisie en die howe hul
werk doen.
Die reg op lewe is die mees basiese mensereg.
Kom ons verdedig dit met alles tot ons beskikking! Kom ons keer die
volksmoord wat besig is om op gewone mense, en veral op Afrikanerboere,
gepleeg te word!
Inligting in Afrikaans oor die betoging en
verwante vergaderings sal deur die loop van die dag in Afrikaans beskikbaar
raak op PRAAG se webwerf www.praag.org.
Kontakpersoon: Dan Roodt 0824901036
boontoe