29
April 2002, Afrikaans by Potchefstroomse Universiteit
MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRAAG
(PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OM 14H30 OP MAANDAG 29 APRIL 2002:
Die onlangse aankondiging deur dr.
Theuns Eloff, rektor van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO,
dat 'n buitelandse verslag aanbeveel het dat die universiteit
wegbeweeg van sy taalmedium na "tweetaligheid" toe, is 'n
kommerwekkende ontwikkeling.
Ná die PUK geïndentifiseer is as die
laaste oorblywende Afrikaanse kampus, is die universiteit aangeval
deur Minister Kader Asmal, wat summier die voorsitter van die
ANC-jeugliga op die Raad daarvan benoem het. Asmal se
uitlatings teen Afrikaanse universiteite het tot die Gerwelverslag
gelei, waarvan ons intussen weinig verneem het.
Dit is duidelik dat die
onderwysowerheid, en dan spesifiek Asmal, 'n beleid van ondergrawing
volg teenoor Afrikaans op tersiêre vlak. Dit is ook baie
helder dat Potchefstroom, anders as byvoorbeeld prof. Andreas van
Wyk wat tot onlangs rektor was van Stellenbosch, min of meer geen
weerstand bied teen ministeriële en ander vorme van druk om die
kampus te verengels nie.
Tydens PRAAG se bywoning van 'n openbare
debat op die kampus enkele weke gelede, het ons gekonstateer dat
Afrikaanse reeds in 'n mindere posisie verkeer teenoor Engels,
aangesien die verrigtinge byna uitsluitlik in daardie taal
plaasgevind het.
Daar bestaan byna twintig uitsluitlik
Engelstalige universiteite in Suid-Afrika, waarop geen druk geplaas
word om meertalig te word nie. Die huidige verengelsing van
Potchefstroom, wat voorspel is in die openbare uitlatings van
dr. Eloff tydens Mariëtta Kruger se Prontuit-program op KykNET,
verteenwoordig die grand finale van die aggressiewe
diskriminasie teen Afrikaans op tersiêre vlak sedert 1994.
Dit kom kort op die hakke van die aankondiging deur die Pretoriase
Akademiese Hospitaal dat geen ander taal as Engels voortaan
toegelaat sal word by dié hospitaal nie.
Die PUK, vanweë sy plattelandse
ligging, was 'n laaste bastion vir Afrikaans as wetenskapstaal.
Die manier waarop dr. Eloff, in samewerking met die ANC-regering,
besig is om teen Afrikaans aldaar op te tree, maak 'n bespotting van
die Suid-Afrikaanse grondwet wat kastig voorsiening maak vir
tweetaligheid.
In die onlangse weke was daar egter al
soveel gevalle van taalvertrapping deur die owerheid, asook
Mugabeagtige intimidasie van Afrikaanstaliges, dat die jongste nuus
oor Potchefstroom kwalik verras. Dat die owerheid reeds male
sonder tal sy vyandigheid teenoor Afrikaans bewys het, staan reeds
vas. Dit is egter vir ons betreurenswaardig dat die bestuur
van Potchefstroom, wat uit Afrikaanse instellings kom, so min waarde
heg aan hul eie erfenis dat hulle bereid is om die weg van die
minste weerstand te volg en eenvoudig te hensop voor die eise van
Engelse politieke korrektheid.
Kontakpersoon: dr. Dan Roodt
0824901036