29
April 2002, Barnard bedank by Korrektiewe Dienste
MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRAAG
(PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP MAANDAG 29 APRIL OM 14h00
Mnr. Wesley Barnard, die amptenaar van
die Departement van Korrektiewe Dienste wat verbied is om sy
eksamenvraestelle in Afrikaans te beantwoord, het bedank uit die
departement. Hiermee verval sy dringende aansoek in die
Pretoriase Hooggeregshof omdat daar nie langer gronde vir so 'n
aansoek sou wees nie, gegewe sy bedanking.
Dr. Dan Roodt van die Pro-Afrikaanse
Aksiegroep betreur hierdie verwikkeling. "Ons het ons bes
probeer om mnr. Barnard te oortuig om aan te gaan met sy stryd vir
Afrikaans aan die Zonderwater -opleidingskollege, maar verstaan dat
hy nie langer kon volhou weens die intimidasie en konstante druk op
hom en sy familie nie."
Volgens inligting tot PRAAG se
beskikking is mnr. Wesley Barnard op verskeie maniere geïntimideer,
en het hy selfs doodsdreigemente ontvang. Dit wil voorkom asof
daar in die departement of daarbuite individue is wat fanaties teen
Afrikaans en Afrikaners gekant is, en wat voor niks sal stuit om die
taal te onderdruk nie.
Die gebeure by Zonderwater, asook die
reaksie van die DKD wat poog om 'n ongrondwetlike eentalige beleid
te handhaaf, hou niks goeds in vir die toekoms van Afrikaans nie.
Die verdrywing van mnr. Wesley Barnard uit die departement spreek
ook boekdele aangaande die etniese onverdraagsaamheid wat kennelik
daar heers teen Afrikaanssprekendes. Vorige uitlatings soos
"fok die Boere" was daarom net die voorspel tot verdere
anti-Afrikaanse optrede deur die bestuur en amptenare van die
departement.
PRAAG beskou die Wesley-Barnard-insident
as 'n skande vir Suid-Afrika, en 'n klad op die veelgeroemde
demokratiese bestel wat daar in ons land sou heers. Indien
Afrikaanssprekendes wat op hul taalregte aandring, nie van hul
persoonlike veiligheid verseker is nie, watter toekoms het
veeltaligheid in Suid-Afrika?
Mediaverklaring uitgereik op 3 Maart
2002 om 15h30 deur PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep):
Die student by Korrektiewe Dienste, soos
bygestaan deur PRAAG, se aansoek om sy eksamen in Afrikaans te mag
skryf is besig om te ontwikkel in 'n toetssaak vir Afrikaans in die
hele staatsdiens. Die Departement van Korrektiewe Dienste hou
voet by stuk dat studente nul behoort te kry indien hulle vraestelle
in enige ander taal as Engels beantwoord.
Die DKD is insgelyks bereid om die
belastingbetaler se geld te verkwis in 'n poging om eiehandig die
Grondwet in die howe te herskryf ten einde Engels-eentaligheid op sy
studente en werknemers af te dwing. PRAAG het aanvanklik
hierdie saak gesien as 'n dringende aansoek om die betrokke student
se taalregte erken te kry. Dit lyk egter asof die Departement
die beginsel van veeltaligheid in staatsdepartemente as sodanig
uitgeskakel wil sien ten gunste van net Engels. In stukke voor
die hof het die Departement selfs geargumenteer dat enige student
wat sy vraestel in Afrikaans sou beantwoord, selfs terwyl hierdie
saak nog hangende is, nul behoort te kry sonder die opsie van 'n
vertaling van die antwoordstel.
Vir die oomblik het Regter Chris Botha
die DKD se voorstel verwerp en tussentydse regshulp aan die student
gegee. Selfs indien die staat se siening van eentaligheid sou
seëvier, is die keuse van 'n eventuele vertaling van die
antwoordstelle deur die regter toegestaan in 'n bevel op Woensdag 3
Maart 2002. Die student behou sy reg om vraestelle in
Afrikaans te beantwoord, hangende 'n bevinding deur die
Hooggeregshof in Pretoria. Die departement is tot 19 April
gegee om redes aan te voer waarom studente nie in Afrikaans hul
vraestelle mag beantwoord nie.
PRAAG se opsomming van die situasie is
dat die Departement van Korrektiewe Dienste so vasbeslote is om sy
eentalige beleid erken te kry op grond van die "praktiese
verkieslikheid van Engels" dat hy waarskynlik die saak op appél
sal neem na die Grondwetlike Hof. Sodoende kan 'n presedent
geskep word vir alle staatsdepartemente en alle staatsondersteunde
opleiding in Suid-Afrika.
Viktimisering van die student, asook
familielede van hom wat werksaam is in die DKD, hou steeds aan.
Dr. Govender, die hoof van die Zonderwateropleidingskollege, waar
die frase "Fok die Boere" voorheen gebruik is, is blykbaar
iemand wat Afrikaners haat en dus bereid is om Afrikaans met alle
mag en geweld te bestry.
PRAAG wou graag een of ander tyd 'n
grondwetlike saak teen 'n staatsdepartement aanvoer ten einde die
uitskakeling en aftakeling van Afrikaans te stuit. Dit is
soveel te meer nodig aangesien staatsdepartemente, soos bv. Openbare
Werke, hulle nie steur aan PANSAT se bevindings nie. Hierdie
departement het byvoorbeeld 'n bevinding wat in die Staatskoerant
gepubliseer is, geïgnoreer, kompleet met sperdatums waarteen
Afrikaans tot sy vorige posisie herstel moes word.
Die probleem waarteen PRAAG tans te
staan kom is dat, terwyl die staat se fondse onbeperk is, ons
waarskynlik nie die fondse gaan hê om die huidige saak enduit te
veg nie. Die gevaar bestaan dan dat Afrikaans vir altyd
benadeel kan word en permanent uit die staatsdiens geweer kan word,
bloot weens 'n gebrek aan fondse om 'n duur, komplekse hofsaak te
voer wat in die Grondwetlike Hof mag eindig indien dit op appél sou
gaan.
PRAAG doen daarom 'n beroep op beide die
publiek en ander Afrikaanse organisasies om by te dra tot die koste
van hierdie hofgeding wat bepalend vir die toekoms van die taal mag
wees. Ons mag nie toelaat dat 'n staatsdepartement na
willekeur die grondwet herskryf na eentaligheid toe nie.
Ons indruk is dat al die
staatsdepartemente, soos Korrektiewe Dienste, Openbare Werke,
Justisie, die Polisiediens, die Weermag, ens., besig is om Afrikaans
uit te gooi en alle opleiding en kommunikasie oor te skakel na
Engels. As mens in ag neem dat daar onlangs reeds 'n hele paar
Hooggeregshofaansoeke was om skoolhoofde van Afrikaanse skole weer
aan te stel ná hulle summier geskors is eenvoudig omdat hulle
Afrikaans by hul skole wou handhaaf, verkry die gebeure 'n sinistere
aanskyn. Daar is inderdaad 'n staatsgedrewe golf van
verengelsing aan die gang wat die amptelike status van
Afrikaans ongedaan gaan maak en die horlose gaan terugdraai na die
vroeë jare van die vorige eeu toe die taal ná die Britse
oorwinning van 1902 geen amptelike status gehad het nie.
Ons mag nie toelaat dat 'n eeu se harde
werk verlore gaan en Afrikaans terugkeer na die kombuis toe nie.
Mense wat wil bydrae tot PRAAG se fondse
vir die doeleindes van die huidige toetssaak vir Afrikaans, kan die
volgende nommer skakel gedurende kantoorure: 011 469 0292.
Andersins kan e-pos gerig word aan inlig@praag.org.
Kontakpersoon: dr. Dan Roodt 082
4901036