chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 


 

MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OOR GEO CRONJÉ-DEBAKEL OP 29 AUGUSTUS 2003

VRYSTELLING: ONMIDDELLIK
 
Die intense heksejag wat daar teen die Springbokslot, Geo Cronjé, uitgebars het, demonstreer weereens die onstabiele en fundamentalistiese aard van die Suid-Afrikaanse samelewing. Cronjé is reeds in die media aan "rassisme" skuldig bevind omdat hy glo vir een aand nie 'n kamer wou deel met sy medeslot en mededinger om 'n plek in die span, Quinton Davids, nie.
 
Die moontlikheid dat die hele debakel georkestreer is om hom uit die span te hou, kan geen redelike mens ontgaan nie. Hierbenewens is Cronjé as "konserwatief" bestempel omdat hy glo sy moedertaal, Afrikaans, praat en handhaaf. Dit mag dus wees dat Cronjé self die slagoffer is van rassisme en chauvinisme vanweë sy Afrikanerskap. Dit is bekend dat Engels die afgelope jare in rugbykringe afgedwing is, en dat die verengelste Afrikaners aan die stuur van SA Rugby erg haatdraend teenoor die taal staan.
 
Voor en ná rugbywedstryde word daar slegs Engels gepraat, en vir alle praktiese doeleindes het die Springbokrugbyspan 'n Engelse span geword.
 
Indien Cronjé hom hoegenaamd skuldig gemaak het aan enige wangedrag, wat op hierdie stadium nog glad nie bewys is nie, kan enige sodanige optrede ook verklaar word aan die hand van die intense haatveldtog teen Afrikaans en Afrikaners wat tans gevoer word deur die onderdrukking van Afrikaans, moorde op plaasboere, verwydering van standbeelde en plekname, en dergelike meer. Dit mag wees dat hy gemarginaliseer en geviktimiseer gevoel het as gevolg van sy etnisiteit en dat hy bloot gereageer het op kwetsende houdings en taal van ander spanlede. In gevalle soos dié is een party nooit volkome skuldig nie, en is daar altyd 'n ander kant van die saak.
 
Die behandeling wat Cronjé tans ontvang, waar hy uit alle oorde beswadder word voordat die werklike besonderhede bekend gemaak is, laat die vraag ontstaan of daar nog hoegenaamd plek is vir enige Afrikaners in die Springbokrugbyspan. Terwyl Afrikaanse plekname verander word as apartheidsname, is dit nie hoog tyd dat die naam van die nasionale rugbyspan insgelyks gewysig word nie?
 
PRAAG betreur veral die erge verguising van Cronjé deur politieke partye. Van die ANC is dit sekerlik te wagte, maar die feit dat sowel die NNP as die DA wat in 'n mate nog Afrikanersteun geniet of hulle beroep op Afrikanerkiesers, hulle kan skuldig maak aan die algemene uitbarsting van etniese haat jeens Cronjé behoort die boodskap deur te stuur dat Afrikaners voortaan 'n ander politieke tuiste behoort te soek.
 
Soos PRAAG dit al voorheen beklemtoon het, en ongeag Cronjé se eie optrede waaroor ons tans net kan spekuleer, is mindere voorvalle van etniese wrywing in 'n multietniese land soos Suid-Afrika onvermydelik. Krapperige gevoelens bestaan al jare lank tussen Engelse en Afrikaners, byvoorbeeld. Tensy daar sprake is van vervolgbare gedrag soos crimen injuria of aanstigting tot rassehaat - waarvan die meeste voorvalle tans teen Afrikaners self gemik is - behoort geringe insidente onder sportlui wat in mededinging verkeer nie buite verband geruk te word nie.
 
Afrikaanse rugbyspelers in die Springbokspan behoort dit ernstig te oorweeg om uit die span te bedank ná die onbillike en oordrewe verguising van hul spanmaat, want elkeen behoort te weet dat hy die volgende slagoffer van so 'n propagandistiese en ideologiese aanslag kan wees.
 
Kontakpersoon: Dan Roodt 0824901036