MEDIAVRYSTELLING
OP 2 MAART 2006
STAANDE
TOEJUIGING VIR DAN ROODT IN VSA
Dr. Dan Roodt en sy vrou
Karin het so pas teruggekeer na 'n suksesvolle toer van 12 dae lank deur
Frankryk, België en die VSA. Tydens die tweejaarlikse konferensie van
American Renaissance, 'n konserwatiewe groepering in die VSA, het dr. Roodt
verlede naweek 'n staande toejuiging wat minute lank geduur het van die
ongeveer 400 konferensiegangers ontvang.
Vele Amerikaners het hul
steun toegesê aan die Afrikaner se stryd om selfbehoud in Suid-Afrika. Die
vyftig eksemplare van sy boek, The Scourge of the ANC, wat dr. Roodt op die
vliegtuig saamgebring het, het binne 'n kort tydjie ná sy optrede uitverkoop
by die boektafels aan die agterkant van die saal.
Verskeie konserwatiewe Britse
publikasies het dr. Roodt gevra om ook in hul blaaie te skryf en die Britse
publiek oor anti-blanke maatreëls en diskriminasie in SA in te lig, waaronder
die lyfblad van die Britse Nasionale Party en mnr. Derek Turner se
onafhanklike konserwatiewe tydskrif, "Right now!". Dr. Roodt
voorsien in 'n rubriek wat gister op die Praagwebwerf www.praag.org
gepubliseer is dat Afrikaners voortaan 'n beduidende en selfs 'n intellektuele
leiersrol kan speel in die nuwe internasionale beweging teen
multikultiralisme, gegewe hul insig in kultuurverskille, asook hul huidige
ervaring van verdrukking deur Suid-Afrikaanse swartes en veral Xhosas.
Op 21 Februarie het dr. Roodt
die Vlaamse Parlement in Brussel besoek waar hy die Vlaamse
Volksverteenwoordigers ingelig het oor die diskriminasie teen Afrikaners sover
dit hul taal, asook hul werks- en opvoedingsgeleenthede in Suid-Afrika betref.
Die Vlaminge was geskok om hiervan te verneem, maar veral is hulle onstig deur
die voortslepende plaasmoorde en ongebreidelde geweldsmisdaad wat in
Suid-Afrika woed. Tydens die noenmaal wat tot laat in die middag geduur het,
is Suid-Afrikaanse wyn gedrink.
Vanuit die geledere van mnr.
Filip de Winter se Vlaams Belang, wat deur 25% van alle Vlaminge gesteun word
en dus die grootste enkele politieke party in Vlaandere verteenwoordig, is
alle moontlike vorme van diplomatieke en politieke steun aan die Afrikanervolk
belowe. Mnr. De Winter het voorgestel dat dr. Roodt oor enkele maande na
Brussel terugkeer om al die konserwatiewe politieke partye in Europa toe te
spreek om sodoende die bewussyn van Afrikanerlyding en -onreg in Europa te
verhoog. Omdat sommige van dié partye, onder meer in Oostenryk, Denemarke en
Italië deel van hul regerende koalisies uitmaak, kan dit verdere positiewe
gevolge vir die Afrikaner se huidige stryd hê.
Ook mev. Rita de Bont van die
Vlaamse Volksbeweging, 'n kultuurorganisasie wat 'n beduidende politieke
invloed in Vlaandere uitoefen en Vlaamse onafhanklikheid nastreef, het haar
onvoorwaardelike steun aan die Afrikaner se vryheidstryd toegesê. 'n
Samewerkinsooreenkoms tussen PRAAG en die VVB word later vanjaar in die
vooruitsig gestel en verdere samesprekings hieroor sal binnekort tydens mev.
de Bont se Suid-Afrikaanse besoek gevoer word.
In Frankryk het 30 000 Jode
betoog teen die moord op Ilan Halimi, 'n 24-jarige Jood wat deur 'n swart
bende genaamd "Die Barbare" doodgemartel is. Regoor Europa is die
multikulturele samelewing besig om in duie te stort, met gepaardgaande
kultuur-, rasse- en etniese konflik. Vir die eerste keer in dekades kan die
gemiddelde Europeër hom dus vereenselwig met die Afrikaner se begeerte om vry
van oorheersing en diskriminasie, asook geweldsmisdaad en grondroof, te wil
leef.
Ná sy besoek aan Europa en
die VSA is dr. Roodt uiters optimisties oor die vooruitsigte vir
Afrikanerselfbeskikking in Suid-Afrika. "Die radikalisme en opkoms van
sosialistiese partye in Wes-Europa ná die sestigerjare het veroorsaak dat die
ANC internasionale steun verkry het en die ou Nasionale Party op diplomatieke
vlak oorrompel het met, soos ons weet, die holderstebolder oorgawe deur De
Klerk. Die huidige swaai na regs in Europa en die VSA téén immigrasie, met
die gepaardgaande kritiek op die multikulturele samelewingsmodel, gaan ons
bevoordeel net soos wat die ANC/SAKP twintig jaar gelede deur die radikale
idees ná 1968 bevoordeel is."
Hy het voortgegaan deur te
sê dat "dit van die uiterste belang is dat Afrikaners nou moet saamstaan
en die Afrikanerraad-gedagte moet steun sodat ons as volk uit een mond kan
begin praat. 'n Samehangende eis om selfbeskikking moet so gou moontlik aan
die heersende ANC/SAKP gestel word terwyl ons bondgenote in Europa en in die
VSA van ons vordering na vryheid op hoogte gehou word. Indien die ANC nie aan
ons redelike eis om selfbeskikking gehoor gee nie, moet hy besef dat hy hom
internasionaal ewe ongewild, of selfs nog ongewilder, as die ou Nasionale
Party gaan maak."
PRAAG, in samewerking met
ander Afrikaanse organisasies, het so pas 'n plaaslike en internasionale
kommunikasieveldtog van stapel gestuur om die onreg waaronder Afrikaners gebuk
gaan aan die groot klok te hang. "Teregstellende aksie en transformasie
aan SA ambassades in die buiteland strek ons net tot voordeel, aangesien dié
mense nie oor die vermoë of vaardighede beskik om doeltreffend met die
Europese en Noord-Amerikaanse gehore te kommunikeer nie. Hierteenoor beskik
ons oor honderde Afrikaanse, Europese en Amerikaanse vrywilligers wat een en
almal intelligent, goed opgelei en bekwaam is om as ambassadeurs vir die
Afrikanersaak op te tree," het dr. Roodt bygevoeg.
boontoe