MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP WOENSDAG 30 JULIE 2003
 
Die voortgesette etniese suiwering van die ANC-bewind jeens Afrikanersimbole-  name en -kultuur woed ongestoord voort. Die afgelope dae is aangekondig dat die Kruger-beeld by die Wildtuin verwyder sou word, asook dat Pretoria, die stad waarin dié Boereleier so 'n groot rol gespeel het, se naam permanent van die aardbol verwyder gaan word.
 
Sakeleiers het reeds laat weet dat hulle 'n boikot van plaaslike belastings oorweeg. So 'n stap is te verwelkom, maar dit moet veel verder gaan. Afrikaners betaal 78% van die belastings in Pretoria. Sonder hul bydrae sal die stadsraad binne 'n kort tyd bankrot speel. Hierdie ekonomiese mag moet nóú gemonster word, nie net om die naamveranderings en ander afskuwelinge vorme van etniese suiwering te stuit nie, maar ook om kulturele outonomie te verkry.
 
Pretorianers moet ook onmiddellik eis dat die inlywing van vyf gebiede in Noordwes by Pretoria om die Afrikaanse inwoners van die stad onder te ploeg, tersyde gestel word. Totdat kulturele en plaaslike outomie toegestaan word, moet geen fondse oorbetaal word aan die arrogante, anti-Afrikaanse owerheid nie.
 
PRAAG as aksiegroep is bereid om 'n rol te speel om Pretrorianers te help om dié doelwitte te bereik. Pogings van die stadsraad om inwoners se eiendom te onteien indien hulle nie meer erfbelasting betaal nie, moet in die howe en op straat beveg word. Hierdie boikot moet aanhou totdat die oorwinning bereik word. Afrikaners landwyd moet saamstaan sodat Pretorianers, die grootste konsentrasie Afrikaners op een plek ter wêreld, hulself van oorheersing kan bevry.
 
Ons doen 'n beroep op alle Afrikaanse politieke partye en organisasies om saam te werk om die stryd in Pretoria te laat slaag.
 
Die ANC het oorlog verklaar teen die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis. Kom ons laat dié Stalinistiese en rassistiese organisasie verstaan dat sy chauvinistiese onderdrukking van ons erfenis nie meer aanvaarbaar is nie.
 
Tot híértoe en nie verder nie!
 
Kontakpersoon: Dan Roodt 0824901036