MEDIAVERKLARING DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE
AKSIEGROEP) OOR BURGEMEESTER MKHATSHWA SE JONGSTE SET, ASOOK DIE ELEKTRONIESE
PETISIE OOR DIE NAAMSVERANDERING VAN PRETORIA
DATUM: 30 AUGUSTUS 2003
VRYSTELLING: ONMIDDELLIK
Nadat PRAAG Woensdagaand 'n
elektroniese petisie op sy webwerf www.praag.org
beskikbaar gestel het, is reeds ná aan 500 name ontvang van mense wat hulle
uitspreek téén die beoogde naamsverandering van Pretoria. Intussen het die
burgemeester, mnr. Smangalise Mkhatshwa, tydens die jongste munisipale
raadsvergadering verklaar dat "al Tshwane se inwoners inspraak sal hê in
die besluit" om die naam te verander.
PRAAG verwerp hierdie gedagte, aangesien die
huidige Tshwane-gebied vyf gebiede uit die Noord-Wes-provinsie insluit wat nog
nooit enigiets met Pretoria te make gehad het nie. Dit is ook nie regverdig
dat Centurion, Akasia en ander gebiede wat nie onder Pretoria val nie, daarby
betrek moet word nie. Dit sou ewe absurd wees om die inwoners van Soweto of
Durban te vra om hulle oor Pretoria se naam uit te spreek.
Die enigste billike en demokratiese beginsel wat
behoort te geld, is dat die inwoners van die historiese Pretoriagebied hulle
moet uitspreek oor die naam van hul stad.
Hoewel Mkatshwa besig is met 'n gekonkel om die
uiteindelike konfrontasie met die inwoners van Pretoria te vermy, is PRAAG vol
vertroue dat die naamsverandering gestuit sal word, mits die publiek aanhou om
hul teenkanting op 'n aktiewe manier te betoon. Daarom is dit allernoodsaaklik
dat elkeen die elektroniese petisie teen die naamsverandering op www.praag.org
moet onderteken.
Die winkelsentrums in Pretoria is onwillig om
die verspreiding van petisies toe te laat, uit vrees vir viktimisering deur
die munisipale owerheid. Dus is die internet en selfone die enigste manier om
die name van petisionarisse te versamel. SMS-boodskappe kan ook gestuur word
aan inlig@praag.org [spasie] tik dan jou
naam en adres, en versend aan die nommer 4004 vir Vodacom-gebruikers en 083
123 6245 vir MTN-gebruikers. Alle name sal deur PRAAG op die elektroniese
petisie geplaas word en aan die burgemeester van Pretoria voorgelê word.
Tot dusver is dit duidelik dat die opposisie
teen die Pretoriase naamsverandering veel groter is as die steun daarvoor.
Meer as 6 000 Tukkie-studente het reeds petisies teen die naamsverandering
onderteken, en die betoging wat deur PRAAG op kort kennisgewing gereël is, is
bygewoon deur meer as 200 mense op 16 Augustus. Gerugte van 'n
pro-Tshwane-betoging wat die daaropvolgende Maandag gehou sou word, is nooit
gerealiseer nie.
Kontakpersoon: Dan Roodt
0824901036