MEDIAVRYSTELLING UITGEREIK
DEUR PRAAG (PRO-AFRIKAANSE AKSIEGROEP) OP 3 FEBRUARIE 2004
Sedert die naweek toe
minister Minister Mosiuoa Lekota die versekering gegee het dat Pretoria se
naam sal bly, het die munisipale woordvoerders in daardie stad die
teenoorgestelde standpunt ingeneem. Hierdie teenstrydige houding jeens die
Pretoriase naamsverandering ry versoening in die wiele en is besig om 'n wig
in te dryf tussen die regering en die Afrikanergemeenskap.
Pretoria verteenwoordig die
grootste konsentrasie van Afrikaners ter wêreld. As sodanig betrek enige
beoogde naamsverandering die internasionale reg en verskeie VN-konvensies
wat regerings verbied om streekskulture en -identiteite goedsmoeds te
vernietig deur arbitrêre maatreëls soos naamsveranderings en
taaldiskriminasie.
Die cowboy-agtige manier
waarop burgemeester Mkhatshwa en sy woordvoerders hierdie sensitiewe saak
hanteer, is besig om die demokrasie in Suid-Afrika te bedreig. Slegs 'n stem
ten gunste van 'n naamsverandering tydens 'n referendum onder inwoners van
die huidige Pretoria sal goed genoeg wees om so 'n stap te regverdig. PRAAG
daag burgemeester Mkhatshwa uit om so 'n referendum te hou indien hy nie wil
afsien van sy plan om die stad se naam te wysig nie.
Teenkanting teen die
naamsverandering is reeds deur die publiek uitgespreek by wyse van petisies,
betogings en 'n muur vol handtekeninge by die Universiteit van Pretoria. Dit
alles het nog nie die munisipaliteit oortuig om van sy plan af te sien nie,
wat vir ons 'n aanduiding is van 'n ondemokratiese ingesteldheid.
Die ANC moet sy interne
verdeeldheid oor die saak oorkom en 'n konsekwente standpunt oor die
naamsverandering inneem. Indien mnr. Mkhatshwa wil volhard in sy begeerte om
die naam Pretoria af te skaf, gaan hy egter nie ontkom aan 'n referendum oor
die saak nie.