MEDIAVERKLARING
UITGEREIK OP 5 JULIE 2006: PRAAG VERHEUG OOR BRINK SE BEDANKING
PRAAG is verheug oor die bedanking en vertrek
van prof. Chris Brink na Engeland. Hoewel Brink se bedankingsbrief geen
melding maak van sy beweegredes nie, moes die storm wat hy met sy T-opsieplan
vir die US ontketen het, 'n rol daarin gespeel het.
Prof. Chris Brink het deur sy kille politieke
korrektheid en traak-my-nie-agtige houding jeens Afrikaans die meerderheid
Afrikaners en oud-Maties van hom vervreem. Vele alumni het hul skenkings aan
Stellenbosch gestaak.
Maar dit was die polemiek rondom die T-opsie
wat Brink waarskynlik oorreed het om die aftog te blaas. Afgesien van honderde
lesersbriewe in Die Burger waarin hy fel gekritiseer is, het een van die
belangrikste lewende digters in ons taal, Breyten Breytenbach, sowel in
private korrespondensie as in 'n gewraakte brief aan die Matie, sy minagting
teenoor Brink en sy ruggraatlose taalverraad uitgespreek.
Al hierdie kritiek moes uiteindelik sy tol
geëis het. Daarmee saam kan Brink ook die skrif aan die muur vir
Suid-Afrikaanse onderwys sien. Met skole en veral wiskunde-onderrig wat
agteruit gaan, asook standaarde wat konstant afwaarts aangepas word, is dit
net 'n kwessie van tyd voordat eens voortreflike universiteite soos
Stellenbosch insgelyks 'n Derde Wêreldstatus gaan verkry.
Hoewel Brink in sy tyd alles in sy vermoë
gedoen het om Afrikaans aan Stellenbosch te verwoes, lê hy dus wel gesonde
oordeel aan die dag as dit by sy loopbaan en die veiligheid van sy gesin in 'n
misdaadgeteisterde Suid-Afrika kom. Met sy emigrasie spreek Brink ook
implisiet 'n finale oordeel oor Suid-Afrika en die toekoms van sy universiteit
uit.
Alles in ag genome, verteenwoordig Brink se
bedanking egter 'n oorwinning vir die taalstryders aan Stellenbosch en kan
elke Afrikaner wat steeds waarde aan sy moedertaal heg, vandag trots voel dat
ons 'n hanskakie in die see gejaag het al die pad Newcastle toe.
'n Veldslag is teen Brink gewen, maar die
taaloorlog aan Stellenbosch is nog nie verby nie. Brink se opvolger mag selfs
meer polities korrek en pro-Engels as hy wees. Daarom mag die openbare druk om
Stellenbosch vir Afrikaans behoue te laat bly, nie verslap nie en moet Brink
se akademiese geesgenote en hul gedweep met Engels met 'n arendsoog dopgehou
word. Ook hulle moet genadeloos aan die kaak gestel word en onder die
geregverdigde argwaan van die Afrikaanse publiek deurloop.
boontoe