Haas
sestien jaar na die opheffing van die verbod op die ANC en SAKP en
12 jaar na hul bewindsoorname, staar Afrikaners toenemend ‘n
donker toekoms in die gesig. ‘n Onlangse berig in die Finweek het
byvoorbeeld aangetoon dat jongmense wat die land weens regstellende
aksie verlaat, besig is om die blanke bevolkingsaanwas rampspoedig
te laat daal omdat 'n groot deel van die blanke bevolking tussen 20
en 40 reeds in die buiteland verkeer. Met ander woorde, die
ouderdomsgroep wat die volgende geslag Afrikaners sou voortbring,
bevind hulself reeds in Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Engeland
en ander lande.
Oor die
afgelope feestyd is dagblaaie deur gruverhale oor geweldsmisdaad
oorheers. Misdaad, tesame met regstellende aksie, stimuleer die
reeds ongekende uittog van Afrikaners uit Suid-Afrika. Binne enkele
jare gaan ons bevolking dermate verouder en verminder het dat die
ANC soos ZANU-PF in Zimbabwe eenvoudig die laaste oorblywende bates
in blanke hande sal kan afvat sonder om 'n skoot te skiet.
Die
Afrikaanse taal is reeds uit die staatsdiens en die handel geweer en
kou harde bene op universiteit. In weerwil van ‘n stortvloed
berigte oor die taalstryd op Stellenbosch verlede jaar, kan mens nie
sê dat die agteruitgang van Afrikaans op tersiêre en selfs op
skoolvlak gestuit is nie. Baie Afrikaanse ouers sien nie meer vir
hul kinders ‘n toekoms in die land nie en is daarom self besig om
hulle te verengels deur hulle na Engelse skole te stuur en selfs met
hul bloedjies Engels in die huis te praat.
Om al
hierdie redes staar Afrikaners vandag ‘n bestaanskrisis in die
gesig: gestroop van politieke mag en ekonomies toenemend
gemarginaliseer as gevolg van die ANC-rassewetgewing. Slegs ‘n
baie groot poging gaan ons in staat stel om in Afrika en in
Suid-Afrika te kan voortbestaan.
Hoe langer
Afrikaners wag met ‘n teenbeweging om hul huidige agteruitgang te
stuit, hoe moeiliker gaan dit wees. Daarom gaan 2006 ‘n bepalende
jaar wees. Daar bestaan steeds die geleentheid om die oorblywende
twee en 'n half miljoen Afrikaners in die land in ‘n sterk
beweging saam te snoer ten einde ‘n magsbasis soos ‘n eie
grondgebied of reële politieke toegewings van die ANC-bewind te
bekom. Die tyd is egter besig om uit te loop en elke jaar wat
verbygaan, maak ons situasie des te hopeloser.
Dus,
indien daar ‘n lysie Nuwejaarsvoornemens vir Afrikaners opgestel
sou word, moet dit die volgende insluit:
-
Die uitbou van strukture
om groter volkseenheid te skep.
-
Die oprigting van
alternatiewe media (soos bv. ‘n dagblad) om die Afrikanersaak
te stel en ons mense te oortuig dat alles nie verlore is nie.
Indien
daar nie vanjaar op 'n praktiese en aantoonbare manier vooruitgang
gemaak word met die herstel van die magsewewig in die land ten einde
ons voortbestaan te verseker nie, kan ons maar net sowel tou opgooi.
In 2007 mag dit al te laat wees.