Noudat die uitslae
van die munisipale verkiesings twee dae gelede grotendeels bekend
is, kan mens reeds die volgende afleidings daaruit maak.
In die eerste
instansie is dit duidelik dat die absurde stelsel wat in 1994 op
Suid-Afrika afgedwing is, misluk om enige werklike politieke debat
of demokrasie moontlik te maak. Soos in elke verkiesing sedert 1994
volg die uitslae die patroon van 'n rassesensus waar die oorgrootte
meerderheid swartes vir die ANC stem en die minderheidsgroepe soos
blankes en kleurlinge vir die opposisie.
In 'n Afrikaland
met miljoene ongesofistikeerde kiesers spreek dit vanself dat die
party wat die media beheer, ook die stembus beheer. Daarom het die
ANC nie gras onder sy voete laat groei om totalitêre beheer oor die
openbare uitsaaier, maar ook oor die meeste koerante in die land, in
te stel nie. Sover dit die Afrikaanse media betref, werk die
Nasionale Persgroep lustig mee om die gewone kieser elke dag oor die
kop te knuppel met ANC-propaganda aangaande blanke skuld, die
wenslikheid van teregstellende aksie en die gevaar wat enige
aandrang op Afrikanerregte mag inhou. Enige vorm van kritiese denke
deur Afrikaner-intellektuele, skrywers en vanuit die georganiseerde
kultuurlewe word enersyds doodgeswyg en andersyds gedemoniseer omdat
dit die totalitêre stelsel in die gevaar mag stel.
Dat
Afrikanerkiesers desnieteenstaande deur die bank vir die
opposisie-DA gestem het, is een aanduiding dat Naspers en die SAUK
se greep op die gedagtewêreld van die gewone mens nie volkome is
nie. In weerwil van totalitêre ANC-wetgewing wat ten doel het om
beheer oor die internet in te stel, speel dié medium toenemend 'n
rol om die ideologiese dwangbuis waarin die land verkeer te laat
uitrafel.
PRAAG is 'n
nie-politieke of dan buite-parlementêre organisasie wat hom nie
noodwendig met die partypolitiek wil bemoei nie. Nogtans huldig ons
die standpunt dat Afrikanerselfbeskikking die enigste logiese en
aanvaarbare uitweg uit die huidige stelsel van rassesensusse en
Xhosa-oorheersing bied. Die enigste politieke party wat tans
selfbeskikking voorstaan, is die Vryheidsfront Plus. Dat die
Vryheidsfront Plus dus soos in die voorafgaande parlementêre
verkiesing 'n teleurstellende vertoning gelewer het, is tot nadeel
van elkeen wat Afrikanervryheid op die hart dra, al is mens dit nie
noodwendig volkome eens met die VF+ se beleid of leierskap nie.
Uit die swak
vertoning van die VF+ onstaan die volgende vrae wat indringend gevra
moet word:
-
Die
Mulder-model van "samewerkende opposisie" wat reeds
heelwat kritiek ontvang het, is deur die kiesers verwerp en
indien die party wil voortbestaan sal hy 'n veel aggressiewer en
strydlustiger beeld, soortgelyk aan die DA s'n, moet verkry.
Daarom: behoort die VF+ nie die hand in eie boesem te steek en
indringend oor sy huidige benadering, asook Pieter Mulder se
voortgesette leierskap, te besin nie? Die saak van
Afrikanervryheid is immers groter as enige individu of party.
-
Is die
partypolitiek en deelname aan die stelsel van rassesensusse nie
reeds uitgedien nie? Wat die Afrikaner betref, sal die klem heel
moontlik moet verskuif na die buite-parlementêre politiek wat
nie so afhanklik is van goeie mediablootstelling en finansiële
middele soos die parlementêre politiek nie.
-
Is die VF+ se
middelmatige steun nie besig om die hele idee van
Afrikanerselfbeskikking te ondergrawe nie? Soos 'n swak
verkoopsman wat 'n goeie produk kan bederf, is die VF+ besig om
selfbeskikking 'n slegte naam te gee deur sy gebrek aan
noemenswaardige steun by die stembus.
Die huidige stelsel
in Suid-Afrika is gedoem om te misluk omdat dit die multi-etniese
aard van die land fundamenteel misken. Die artikel in die grondwet
wat elf amptelike tale erken - hoewel dit natuurlik in die praktyk
nie erken word nie weens Engels as enigste amptelike taal -
weerspreek die res wat van "een nasie" praat.
Indien daar vrye
meningsuiting, toegang tot media en demokratiese debat bestaan het,
sodat interetniese alliansies en koalisies moontlik was, kon die
huidige stelsel moontlik op die duur gewerk het. Onder die huidige
omstandighede is dit egter wensdenkery want sowel die ANC as die
SAUK, Naspers en die res van die regeringsbeheerde media het op die
eenpartymodel besluit.
Moontlik is dit die
belangrikste uitslag van die munisipale verkiesings, naamlik dat
Suid-Afrika soos Zimbabwe en vele ander Afrikastate nou volledig tot
'n eenpartystaat gevorder het.
Etniese oorheersing
deur 'n meerderheid soos in Sri Lanka, Franco se Spanje of vele
lande in Afrika lei noodwendig tot geweld soos wat die minderheid in
opstand daarteen kom. Met grondroof en die voortgesette
onderdrukking van Afrikaans en Afrikaanse skole voor die deur, gaan
dit 'n wonderwerk verg vir Suid-Afrika om nie die paadjie van
etniese konflik te volg nie.