President Thabo Mbeki se
toespraak in die Soedan verteenwoordig 'n onthulling sover dit sy
denke oor Suid-Afrika betref. Hy tipeer die verhouding tussen die
blanke minderheid en die swart meerderheid as dié van 'n "koue
oorlog" met die implikasie dat dit een of ander tyd in 'n
"warm oorlog" mag ontaard.
Mbeki gebruik hier die tipe
taal wat dikwels in Afrika gehoor word. Dit herinner aan die
slagspreuk van Charles Taylor, voormalige president van Liberië wat
'n "demokratiese" verkiesing in daardie land gewen het met
die slagspreuk, "I killed your Ma, I killed your Pa, vote for
me if you want peace."
Mbeki se holruggeryde
retoriek oor "apartheid en kolonialisme" maak lank nie
meer indruk nie, hetsy op Westerse waarnemers van Afrika, hetsy op
die Afrikanervolk in Suid-Afrika. Die hele wêreld is bewus van die
morele, politieke en ekonomiese bankrotskap van Afrika suid van die
Sahara. Die geweld, korrupsie en wetteloosheid van Afrika word in
twee onlangse boeke deur Westerse joernaliste blootgelê, "The
Shackled Continent" deur Robert Guest van die Britse Economist
en "Negrologie - waarom die swart kultus Afrika doodmaak"
deur Stephen Smith van die Franse koerant Le Monde. Laasgenoemde
boek is reeds in Afrikaans vertaal en sal in die loop van Februarie
in Suid-Afrika gepubliseer word deur Uitgewery Praag.
'n Mens sou Mbeki se jongste
uitbarsting teen die rasseminderheid in Suid-Afrika kon afgelag het
as net nog 'n absurde uitspraak deur 'n Afrikaleier soos Mugabe of
Nujoma. Die Namibiese president het nie te lank gelede nie in 'n
onderhoud met die Duitse Welt-am-Sontag met oorlog teen "die
wittes van Duitsland" gedreig. Maar onlangse stappe deur die
ANC-regering verleen 'n meer sinistere element aan Mbeki se
antagonisme teenoor blankes wie se teenwoordigheid in Suid-Afrika hy
as 'n "gevolg van kolonialisme" beskou. Die grootskaalse
wapenaankope deur die ANC-regering, asook die huidige debakel waar
aansoeke om wapenlisensies deur die publiek voor die voet geweier
word, verraai 'n bepaalde obsessie om blankes te ontwapen en die
ANC-staat te bewapen. Met watter einddoel? wil 'n mens vra.
Tot dusver het die
buitewêreld Suid-Afrika beskou as 'n "spesiale geval" in
Afrika, 'n land wat oënskynlik of wonderbaarlik demokrasie kon
handhaaf en wat nog nie verval het in die etniese oorloë wat groot
dele van die kontinent sedert onafhanklikwording, maar veral oor die
afgelope vyftien jaar, kenmerk nie. Duidelik gaan die "negrologie"
wat tot die verval van soveel Afrikalande gelei het, ook sy rol in
Suid-Afrika speel om antagonisme teenoor blankes en Afrikaners op te
wek, waarna die verhaal 'n voorspelbare verloop, soos onlangs nog in
Zimbabwe gesien is, behoort te neem.
Die Koue Oorlog is getipeer
deur 'n intense wapenwedloop en spanning tussen Oos en Wes. Die
keuse van hierdie metafoor vir sy regering se verhouding teenoor die
blanke minderheid spreek boekdele en behoort elke Afrikaner of
blanke Suid-Afrikaner tot kommer te strek.
Mbeki se aanprysings van
Soedanese onafhanklikheid nege-en-veertig jaar gelede het nie
vermeld dat die land byna voortdurend in een of ander burgeroorlog
gewikkel was nie. Ironies genoeg behels die huidige vredesplan juis
outonomie vir die suide van Soedan en 'n billike verdeling van die
olierykdom, dinge wat die ANC nie bereid is om in Suid-Afrika te
oorweeg nie.
Mbeki se tirade teen
kolonialisme het geen verwysing na Somalië, tesame met Liberië die
enigste Afrikaland wat nooit gekoloniseer is nie, ingesluit nie.
Soortgelyk aan Liberië, het Somalië verval in 'n mislukte staat of
soos Smith dit in "Negrologie" beskryf, "'n nasie
sonder 'n staat" wat 'n dekade of wat gelede bekendheid verwerf
het toe die lyke van Amerikaanse soldate deur die strate van
Mogadiscio gesleep is. Dat daardie soldate daar was nie om die land
te koloniseer nie, maar om te verseker dat humanitêre hulp by die
hulpbehoewendes uitkom sonder dat sogenaamde "krygshere"
of warlords dit vir hulself toeëien, is maar nog 'n indikasie van
die anargie in dié Afrikaland wat gelukkig (of ongelukkig) genoeg
was om aan kolonialisme te ontkom het.
Mbeki en sy ANC
verteenwoordig 'n anachronisme wat uit die tydmasjien van Afrika se
anti-koloniale politiek van veertig jaar gelede ontsnap het, danksy
die mal wetenskaplike FW de Klerk. Ons is besig om aan 'n groteske
eksperiment blootgestel te word waar ons gedurig moet wonder wanneer
die ANC die daad by die woord gaan voeg om volgens sy anti-koloniale
en anti-blanke beginsels te begin optree.
Anders gestel, is ons
daartoe gedoem om te wonder wanneer Mbeki sy "Koue Oorlog"
vir 'n finale "bevrydingsoorlog" van die warm tipe in
Suid-Afrika gaan verruil soos sy vriend en vertroueling Robert
Mugabe dit onlangs gedoen het.