"Die
staat hoef nie sy optrede te regverdig nie." Dié onsterflike
uitspraak deur die Senegalese president, Abdoulaye Wade, som
waarskynlik die hele probleem van Afrikastaatkunde suid van die
Sahara op.
Wade
se woorde is geuiter in reaksie op klagtes weens die summiere sluiting
van die Gorée-instituut wat met die Afrikaanse digter en
skrywer, Breyten Breytenbach, as direkteur bedryf is.
Die
Gorée-eiland beklee 'n spesiale plek in die hele mitologie rondom
slawerny in Afrika, wat gewoonlik aan blanke boosheid toegeskryf
word. Die feit dat sowel Arabiere as swartes lank voor die
Europeërs se koms na die vasteland slawerny bedryf het, word
gerieflikheidshalwe vergeet.
So
onlangs as verlede week het die Londense Guardian berig
dat slawerny steeds in Niger, 'n Afrikaland, bestaan. Die regering
het onlangs 'n wet gemaak om slawe te bevry, maar ondervind probleme
om dit toegepas te kry weens die gewone probleem van 'n "gebrek
aan hulpbronne" wat soveel Afrikalande op byna alle gebiede
kortwiek. Nou moet die vorige koloniale meesters Brittanje en
Frankryk, tesame met internasionale hulporganisasies, die regering
van Niger help om sy eie slawe te bevry.
Daar
bestaan deesdae twyfel of Gorée-eiland ooit so 'n vername sentrum
vir slawehandel was as wat beweer word. Soos gewoonlik word die
waarheid egter onderdruk uit vrees dat dit Afrikane se
"gevoelens sou seermaak".
Ook
in Suid-Afrika is "gevoelens" besig om 'n greep op die
waarheid te verkry en moet sekere mites geskep of aan die gang gehou
word in die belang van "goeie rasseverhoudinge".
Vir
Breytenbach, asook vir sy Amerikaanse en Europese skenkers wat die
hele Gorée-instituut tot dusver geborg het, moet die jongste
verwikkelinge as 'n groot ontnugtering kom.
Afrikaanse
intellektuele kan gerus ook maar kennis neem van die feit dat mens
in Afrika dikwels stank vir dank kry. Dit geld ook die vele
plaaslike gevalle waar Afrikaanse intellektuele hul selfloos aan die
swart saak wy.
Indien
hulle net met 'n breukdeel van daardie ywer aan die volksaak gewerk
het, sou Afrikaners nie vandag vervreem, onderdruk en toenemend
verarm gewees het nie.