chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

8 Maart 2005 

Stank vir dank in Senegal

"Die staat hoef nie sy optrede te regverdig nie." Dié onsterflike uitspraak deur die Senegalese president, Abdoulaye Wade, som waarskynlik die hele probleem van Afrikastaatkunde suid van die Sahara op.

Wade se woorde is geuiter in reaksie op klagtes weens die summiere sluiting van die Gorée-instituut wat met die Afrikaanse digter en skrywer, Breyten Breytenbach, as direkteur bedryf is.

Die Gorée-eiland beklee 'n spesiale plek in die hele mitologie rondom slawerny in Afrika, wat gewoonlik aan blanke boosheid toegeskryf word. Die feit dat sowel Arabiere as swartes lank voor die Europeërs se koms na die vasteland slawerny bedryf het, word gerieflikheidshalwe vergeet.

So onlangs as verlede week het die Londense Guardian berig dat slawerny steeds in Niger, 'n Afrikaland, bestaan. Die regering het onlangs 'n wet gemaak om slawe te bevry, maar ondervind probleme om dit toegepas te kry weens die gewone probleem van 'n "gebrek aan hulpbronne" wat soveel Afrikalande op byna alle gebiede kortwiek. Nou moet die vorige koloniale meesters Brittanje en Frankryk, tesame met internasionale hulporganisasies, die regering van Niger help om sy eie slawe te bevry.

Daar bestaan deesdae twyfel of Gorée-eiland ooit so 'n vername sentrum vir slawehandel was as wat beweer word. Soos gewoonlik word die waarheid egter onderdruk uit vrees dat dit Afrikane se "gevoelens sou seermaak".

Ook in Suid-Afrika is "gevoelens" besig om 'n greep op die waarheid te verkry en moet sekere mites geskep of aan die gang gehou word in die belang van "goeie rasseverhoudinge".

Vir Breytenbach, asook vir sy Amerikaanse en Europese skenkers wat die hele Gorée-instituut tot dusver geborg het, moet die jongste verwikkelinge as 'n groot ontnugtering kom.

Afrikaanse intellektuele kan gerus ook maar kennis neem van die feit dat mens in Afrika dikwels stank vir dank kry. Dit geld ook die vele plaaslike gevalle waar Afrikaanse intellektuele hul selfloos aan die swart saak wy.

Indien hulle net met 'n breukdeel van daardie ywer aan die volksaak gewerk het, sou Afrikaners nie vandag vervreem, onderdruk en toenemend verarm gewees het nie.

 

boontoe