Oor
die afgelope twee dae word Suid-Afrika getrakteer op 'n uitstorting
van emosie rondom Beyers Naudé wat enige meegevoel met sy weduwee
ver oortref. Naudé se dood is deur die staatsmedia, asook die
pro-ANC-koerante in die Nasionale Persgroep, aangegryp om weereens
propaganda te maak vir Afrikaner-oorgawe en die lydsame aanvaarding
van die huidige oorheersing.
Nelson
Mandela en ander ANC-leiers het reeds by herhaling gesê dat die
enigste Afrikanerfigure wat in die "nuwe" landsgeskiedenis
gedenk sal word, Braam Fischer en Beyers Naudé sal wees. Albei het
verskeie dinge in gemeen. Altwee was opperste dwepers wat een of
ander vorm van rooi evangelie aangehang het: in die geval van
Fischer die droom van proletariese revolusie en wêreldsosialisme;
sover dit Naudé betref, die bevrydingsteologie en uiteindelike
assimilasie van die Afrikaner. Beide het ook geweld gekies om hul
politieke oogmerke te bereik en veral Naudé word tans geloof omdat
hy 'n lid van die ANC en van sy gewapende vleuel, Umkhonto we Sizwe,
was wat ANC-terroriste van materiële en morele steun voorsien het.
Dit
is ironies dat dieselfde koerante wat enige vorm van pro-Afrikaanse
standpunt deesdae as "ekstremisties" verguis, bereid is om
'n godsdienstige en politieke ekstremis soos Beyers Naudé as 'n
heilige op te hemel.
Sowel
Desmond Tutu as Allan Boesak het verklaar dat hulle sonder Naudé se
optrede om aan die sogenaamde swart bevrydingstryd deel te neem,
alle blankes sou "gehaat" het. As 'n mens Boesak kan glo,
het hy alle wittes gehaat totdat hy vir Naudé ontmoet het.
Daarom,
onderliggend aan die huidige Schwärmerei rondom "Oom
Bey", heers daar steeds 'n ondertoon van geweld en dreigement
dat blankes en Afrikaners "gehaat" sal word indien hulle
nie sy voorbeeld volg en hulself verlaag om die ANC-ideologie tot
religieuse dogma te verhef nie.
Dat
sogenaamde geestelikes hulself in sulke terme uitdruk, is maar nog
een van die paradokse rondom die hele onverkwiklike spektakel wat
daar van Naudé se dood gemaak word.