chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

10 Februarie 2005 

Pretoria-referendum

Die nuus dat die burgemeester van Pretoria, Smangaliso Mkhatshwa 'n referendum oor die naamsverandering beoog, moet verwelkom word. Dit is die enigste demokratiese wyse waarop die kwessie beslis kan word.

Die mense van Pretoria behoort egter hieroor te stem, en nie diegene in ander provinsies wat ten onregte by die huidige munisipaliteit ingedeel is nie. Die eerste stryd gaan dus wees oor wie geregtig sal wees om aan die referendum deel te neem, en wie nie.

Soos ons die ANC ken, sal hy die ondemokratiese weg kies en dus poog om deur rassenasionalisme getalle teen die inwoners van Pretoria te monster. Hierteenoor sal diegene wat die naamsverandering teenstaan slim moet speel deur dit duidelik te maak dat die finansiering vir die naamsverandering uit die pro-Tshwane-gebiede moet kom, en nie uit Pretoria nie.

As die stemme in die referendum getel word, moet die uitslag volgens wyk gepubliseer word, om aan te toon hoe die Pretorianers gestem het en hoe die buite-provinsiale en buite-munisipale kiesers van Tshwane hul stemme uitgebring het.

Nietemin het die ANC en Mkhatshwa hier vir hul 'n wilde perd opgesaal. Robert Mugabe se probleme het begin toe hy 'n referendum verloor het. Pogings van die ANC om deur massasielkunde en fascistiese aanhitsing 'n verenigde swart front voor te hou, was tot dusver in verkiesings suksesvol want dit gaan oor swart teen wit. 'n Referendum oor 'n naamsverandering kan egter 'n verrassende uitslag oplewer, veral as die voorstanders van die "nee"-stem die geleentheid goed gebruik om hul eie propaganda in die plakkerskampe in te dra.

Die enigste kwelling is dat die opposisiepartye in Pretoria soos die DA en die Vryheidsfront nie vir die naamstryd opgewasse gaan wees nie. Tot dusver was hulle baie louwarm in hul kritiek jeens die naamsverandering. Daarom sal buite-parlementêre groepe moet sterk staan en die leiding moet neem.

Hopelik gaan Mkhatshwa voort met sy referendum-idee. Inderdaad verteenwoordig dit 'n geveg om na uit te sien!

 

boontoe