chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

10 September 2003 

Multikulturalisme, die nuwe Stalinisme?

Elders op hierdie webwerf verskyn daar 'n artikel oor 'n verslag wat so pas uitgereik is in Frankryk oor die spontane segregasie wat daar plaasvind in skole rondom die stad Bordeaux. Wat egter vir Bordeaux geld, geld regoor Frankryk en die res van Wes-Europa. Die instroming van immigrante uit Noord- en Wes-Afrika veroorsaak 'n Europese apartheid en segregasie wat vir die owerhede 'n verleentheid is.

Ná die afgang van die kommunisme met sy gelykheidsideaal, het die multikulturele samelewing met sy strewe na rassegelykheid die nuwe dogma geword. Kommunisme kon slegs deur die geweld van revolusie tot stand kom en onder dwang in stand gehou word. Josef Stalin het dit baie goed verstaan, en onder sy bewind is twintig miljoen mense in die ou Sowjet-Unie doodgemaak, om ideologiese redes, maar veral ook omdat hulle nie gehou het by die reëls van die huidige vyfjaarplan nie.

Net soos Stalinisme, kan die multikulturele samelewing slegs onder dwang verwesenlik word. Indien die bevolkings 'n keuse gegun word, sal hulle nêrens op aarde reënboognasies vorm nie. Die meeste mense verkies om binne hul eie etniese groep te trou en voort te plant, asook om hul kinders deur lede van hul eie groep te laat opvoed in etnies homogene skole.

In die VSA is honderde miljarde dollar reeds bestee om veral blanke Amerikaners te oorreed om vrylik met Afro-Amerikaners te meng, asook hul kinders na dieselfde skole te stuur. Dwangmaatreëls soos "bussing" geld reeds dekades lank. In weerwil hiervan, is veral skole in Amerika nou meer gesegregeer as dertig jaar gelede. In Boston, waar die munisipaliteit $30 miljoen per jaar bestee om kinders met busse na skole in ander gebiede aan te ry, het die aantal "geïntegreerde" skole verminder van 23% in 1974 na 17% tans.

Ook in Suid-Afrika is multikulturele dwangmaatreëls onderliggend aan die hele struktuur van die staat, die werkplek, opvoeding en selfs sport. Omdat Afrikaans as skooltaal veral by blanke Afrikaners gesog is, moet dié taal gepenaliseer word. Daarom moet skole en universiteite verengels word, en studente en leerlinge gedwing word om dikwels teen hul sin met mekaar te verkeer.

Afrikaanse jongmense in die mediese en verwante professies, selfs spraakterapeute, word voor die voet gedwing om in swart woonbuurtes te gaan praktiseer. Veral waar dit jong Afrikanermeisies raak, geskied hierdie gedwonge "gemeenskapsdiens" ongeag hul eie persoonlike veiligheid of eie voorkeure. Binnekort gaan dokters en privaathospitale gedwing word om nie net vir 'n jaar nie, maar permanent hul dienste aan te bied "waar daar behoefte bestaan", naamlik in swart gemeenskappe.

Die meeste mense stem met hul voete teen multikulturalisme. Privaatskole word teen buitensporige koste opgerig, en mense skep veiligheidsbuurte met hoë mure, elektriese drade en ander maatreëls wat dikwels die indruk skep van 'n geprivatiseerde volkstaat waar een etniese groep gewoonlik in beheer is.

Die Berlynse muur, wat dertig jaar lank die simbool was van gedwonge gelykheid, het 17 miljoen Oos-Duitsers gevange gehou in hul sogenaamde "werkersparadys". Die swetterjoel dwangmaatreëls wat veronderstel is om tot die utopie van 'n multikulturele samelewing te lei, is ietwat minder blatant, maar nie minder drakonies en onregverdig nie.

Terwyl multikulturele dwang in Westerse lande nog oorwegend individuele vryheid toelaat, het dit by ons in Suid-Afrika binne 'n kort tyd ontwikkel tot 'n vorm van totalitarisme wat moeilik te onderskei is van dit wat tot onlangs in Oos-Europa gegeld het.

Die vraag kan met reg gevra word: is multikulturalisme die nuwe inkarnasie van Stalinisme? 10092003 14:40

 

boontoe