Sowel die dagblad Beeld
as mnr. Kallie Kriel van die Pretoriase Burgerlike Aksie is van
mening dat 'n kompromie oor die naamsverandering moontlik is. In die
eietydse idioom van Amerikaanse gemeenplase, bestempel mnr. Kriel
die gebruik van twee name as 'n "wen-wenoplossing".
Logika
en gesonde verstand sê egter dat een plek nie twee name kan hê
nie. Die huidige naamstryd het immers juis ontstaan vanweë die
verwarrende gebruik van twee name vir die stad Pretoria, een
"administratiewe" naam en een "geografiese"
naam.
Volgens die
ANC het die administratiewe naam reeds in 2000 die geografiese naam
vervang. Om die weg van kompromie voort te sit, gaan die huidige
beweging teen die naamsverandering kniehalter.
Die
geskiedenis van kompromieë wat Afrikaners oor die afgelope vyftien
jaar aangegaan het, het hulle niks in die sak gebring nie. Mens sou
trouens kon sê dat hierdie halfhartige, kruiperige houding vir hul
huidige penarie verantwoordelik is. Die ANC sien in ons 'n
lamsakkige, ruggraatlose volk waaroor daar straffeloos baasgespeel
kan word.
Die saak
téén die Pretoriase naamsverandering is egter reg. Die publiek is
eenhonderdpersent agter die versetsbeweging. Daar bestaan historiese
én finansiële gronde wat pleit vir die behoud van
"Pretoria". Om sake nou te beduiwel met verdere
kompromiepraatjies sou ramspoedig wees.
Ons
sê: Tshwane delenda est. Hierdie belaglike naam moet vir
eens en vir altyd met wortel en tak uitgeroei word. Al moet ons elke
naambord elke dag van die week gaan verf.