Die
koste van bloed gaan styg omdat die regering weier om te erken dat
verskillende rasse of genetiese groeperinge 'n anderse vatbaarheid
vir siekte soos byvoorbeeld MIV mag hê. Dié politieke ingryping
in die wetenskap is soortgelyk aan die sogenaamde
Lisenkoïsme in die voormalige Sowjet-Unie.
In
1948 het Lisenko by 'n kongres van die Kommunisteparty die
genetika van Mendel as "reaksionêr en dekadent"
beskryf, waarop daar so te sê 'n verbod op enige verdere
genetiese navorsing in Rusland geplaas is. Dit was 'n groot
wetenskaplike terugslag vir dié land wat hom op dié gebied
dekades agter die Weste geplaas het.
Ironies
gebruik die ANC ras as 'n juridiese begrip in sy regstellende
aksie-wetgewing, maar ontken dit as 'n epidemiologiese kategorie.
In die huidige Februarie-uitgawe van die gesaghebbende American
Journal of Human Genetics bevind prof. Neil Risch van die
Stanford-universiteit ná 'n uitgebreide studie
dat mense se eie plasing van hulself binne 'n rassekategorie so
akkuraat is dat dit slegs 0,14% van wetenskaplike analises
verskil.
In
'n ander artikel, "Categorization of humans in biomedical
research: genes, race and disease" in Genome
Biology maan prof. Risch en sy
medewerkers soos volg: "'n 'Ras-neutrale' of 'kleurblinde'
benadering tot biomediese navorsing is nóg regverdig nóg
voordelig en sal nie tot 'n verlaging van verskeidenheid in
siekterisiko of behandelingsdoeltreffendheid tussen groepe lei
nie. Verskille in behandelingsreaksie of siektevoorkoms tussen
rasse-/etniese groepe moet versigtig bestudeer word; naïewe
afleidings oor genetiese oorsake sonder getuienis behoort vermy te
word."
Dis
'n wetenskaplike en empiriese feit dat die voorkoms van MIV onder
lede van die swart of Afrika-rassegroep hoër is as onder blankes
of Oosterlinge. Die ANC is besig om, soos Lisenko, die wetenskap
as "reaksionêr en dekadent" te tipeer en sy eie
politieke siening daarop af te dwing. Net soos wat sy aanvanklike
ontkenning van die MI-virus reeds tot die dood van miljoene mense
bygedra het, gaan ontvangers van bloed aan hoër
risiko van MIV-oordrag blootgestel word, boonop teen 'n hoër
koste.
Suid-Afrika
kan Lisenkoïsme nie bekostig nie.