chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

14 Augustus 2006 

GRA-dag: die stryd gaan voort!

Vandag vier ons weereens die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners 131 jaar gelede in 1875. In weerwil van feitlik 200 jaar van konstante onderdrukking deur Engelsgesinde bewinde in Suid-Afrika, het Afrikaans sy naam gestand gedoen en daarin geslaag om te groei tot die belangrikste inheemse kultuurtaal in Afrika.

Met die onlangse verengelsing van die SA staat - asook die handel wat vanuit Johannesburg, die eertydse uitlanderstad, oorheers word - kry Afrikaans al weer die wind van voor. Ons kan die GRA se spreuk van destyds vandag effens wysig, maar dit bly geldig: "Daar is drie soort Afrikaners: Afrikaners met Engelse harte, Afrikaners met Afrikanistiese harte en Afrikaners met Afrikaanse harte."

Vanweë politieke oorheersing deur die Xhosa-gedomineerde ANC-alliansie het ons oor die afgelope aantal jare gesien hoe veral die Afrikaner-elite rondom Johannesburg en Kaapstad hulself tot Engels gewend het en ook stelselmatig begin het om hul kinders te verengels deur hulle na Engelstalige skole te stuur. Terselfdertyd het 'n groot deel van die vorige Broederbond-NG Kerk-Nasionale Party-establishment hulself tot Afrikanisme bekeer en word die leerstellinge van Kwame Nkroema, Steve Biko, Thabo Mbeki, Robert Mugabe en ander Afrikaniste deur hulle met godsdienstige ywer gepredik. Hierdie meelopers verteenwoordig die "Afrikaners met Afrikanistiese harte". Hulle poog ook om ons mooi taal wat in die eerste vyftig jaar van sy bestaan gestandaardiseer is, te vernietig deur negatiewe taalbeplanning en die grootskaalse invoer van Engelse woorde. Negatiewe taalbeplanning is veronderstel om Afrikaans se status te verlaag sodat dit finaal uit die skole en universiteite verdryf kan word en tot 'n kombuistaal gereduseer kan word.

Gelukkig bestaan daar die derde kategorie van ware Afikaners met Afrikaanse harte wat onverpoos stry om Afrikaans weer in ere te herstel, wat weier om voor die Xhosa-vedrukker met sy Engels te buig en wat die Afrikanistiese meelopers met die minagting wat hulle verdien, bejeën.

Die Afrikaanse tradisie wat sedert 1875 gevestig is, is onvernietigbaar. Selfs al verbrand die Xhosa-verdrukker elke Afrikaanse boek in elke openbare biblioteek en vernietig elke film in elke videoteek van die SAUK of elders, sal die Afrikaanse tradisie steeds bly voortleef in mense se huise, by kerkbasaars, boereverenigings, kusntefeeste en elders. 'n Nuwe geslag sal daardie tradisie herontdek en dit sal weer bloei soos gras na 'n veldbrand weer groei.

Die aanslag op Afrikaans is fel: nie net word elke moontlike Afrikaanse instelling wat vorige geslagte met bloed en sweet opgebou het, afgetakel nie, maar ons plekname word ook verander sodat ons soos vreemdelinge in ons eie land moet voel. Een van die instellings wat geheel en al deur die Xhosa-verdrukker vernietig is, is die voormalige kunsterade. TRUK, KRUIK, NARUK, SUKOVS EN SWARUK was die uitvloeisels van Anna Neethling-Pohl en André Huguenet se teatergeselskappe wat in die dertiger- en veertigerjare deur die land getoer het.

Toe die kunsterade deur die Xhosa-verdrukker tot niet gemaak is, is Afrikaanse teater geprivatiseer in die vorm van kunstefeeste. Hoewel dit geen vrye instellings is nie - want dikwels afhanklik van erg polities korrekte borge - het hierdie kunstefeeste nogtans 'n uitlaatklep vir die onderdrukte Afrikaanse tradisie geskep.

So pas egter het die ANC-verdrukker by monde van die burgemeester van Potchefstroom, 'n stad wat binnekort na die sorghumbier Tlokwe vernoem gaan word, aangekondig dat die bestaan van 'n Afrikaanse kunstefees soos Aardklop nie toelaatbaar is nie.

Afrikaans is tot staatlose taal gemaak en die kunsterade is afgeskaf. Maar ook privaat mag ons nie Afrikaanse teater bedryf nie, want dit pas nie die Afrofascistiese bewind van Mbeki nie. Dat die Xhosa-verdrukker hiermee 'n bespotting van menseregte en internasionale verdrae oor die regte van individue en volkere maak, het by die meelopers verbygegaan.

Op hierdie 14 Augustus sê elke Afrikaner met 'n Afrikaanse hart vir die Xhosa-narre wat ons regeer: gaan vlieg! Ons en ons taal het Lord Somerset, Lord Milner en die ander Britte oorleef. Ons sal Lord Thabo en sy "Engelse" lakeie ook oorleef.

Die stryd gaan voort! Mag die taal van Van Wyk Louw wat ondanks onderdrukking en teenstand so 'n voortreflike tradisie kon produseer, nog lank bly leef en gedy. En mag ons bevryding gou kom sodat ons nie langer bevele hoef te neem van Mugabe se dissipels in Suid-Afrika nie.

Net as die Afrikaner vry is, sal Afrikaans eindelik vry wees.

boontoe