Waarskynlik is Chris Brink
van die Stellenbosse Universiteit reeds besig om die dag dat hy
dubbelmediumklasse wou instel, te berou. Nog nooit sedert die tweede
simboliese ossewatrek van 1938 was daar so 'n opwelling van
Afrikaner-emosie soos oor die dreigende verengelsing van
Stellenbosch nie.
Selfs
die skrywer André P. Brink, wat 'n jaar gelede nog die spot gedryf
het met taalstryders en die Engfrikaanse skryfsels van Jackie
Nagtegaal as van hoër waarde as die poësie van Van Wyk Louw geag
het, het hom gister aan die kant van tagtig ander skrywers geskaar
wat ten gunste van 'n Afrikaanse Stellenbosch is.
Ook
kenmerkend in die hele debat is die afwesigheid van die bruin
intellektuele soos Jakes Gerwel, Neville Alexander en ander wat hul
in die verlede al oor Afrikaans uitgelaat het. Dis goed en wel om
ten gunste van "meertaligheid" en ander mooi begrippe te
wees, maar in die praktyk kom daar 'n tyd dat Afrikaans verdedig
moet word teen die gekoördineerde aanslag van die ANC-staat en sy
meelopers soos Chris Brink. Hiertoe is die bruin intellektuele, wat
self oorwegend in Engels publiseer, natuurlik nie bereid nie.
Al
die individue en organisasies wat in weerwil van hul verguising deur
die Nasionale Perskoerante as "taalbulle",
"taalosse", "reaksionêres" en
"verregses" betrokke was by vyf lange jare van intense
taalstryd, pluk nou die vrugte daarvan. Die "kantelpunt"
is bereik en skrywers, intellektuele en die volk self staan bankvas
teen die finale aanslag op Afrikaans wat met die verengelsing van
Stellenbosch en daarna Potchefstroom volvoer sou word.
Kader
Asmal wou Verwoerd "in sy graf laat tol" deur die
samesmelting en verengelsing van Afrikaanse kampusse, maar vandag is
dit Braam Fischer wat in sy graf tol, asook Kader Asmal se
rokershoesie wat in 'n desperate gehyg na asem oorslaan.
Dat
hierdie beweging téén die "nasiebou"- en multikulturele
propaganda van die hoofstroommedia in plaasgevind het, is des te
meer merkwaardig.
Sover
dit die Afrikaanse openbare mening betref, het ons sowel teen
die ANC as teen die media gewen. Dieselfde mnr. Arrie Rossouw wat
vier jaar gelede nog diegene uitgejou het wat Afrikaans op Parmalat
se produkte wou sien, plaas vandag briewe in sy koerant, Die Burger,
deur onder andere Heilna du Plooy wat die verengelsing van
Stellenbosch as "dood in die familie" beskryf.
Afrikaners
is besig om rondom hul taal te begin saamstaan. Watter ander
wonderlike dinge kan daar nie in hierdie land gebeur as ons oor
ander kwessies ook gesamentlik begin praat en optree nie?
Skielik
is 1938 - en Afrikanereenheid - besig om voor ons oë te herleef...