chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

14 Oktober 2005 

Afrikaner-eenheid rondom taal?

Waarskynlik is Chris Brink van die Stellenbosse Universiteit reeds besig om die dag dat hy dubbelmediumklasse wou instel, te berou. Nog nooit sedert die tweede simboliese ossewatrek van 1938 was daar so 'n opwelling van Afrikaner-emosie soos oor die dreigende verengelsing van Stellenbosch nie.

Selfs die skrywer André P. Brink, wat 'n jaar gelede nog die spot gedryf het met taalstryders en die Engfrikaanse skryfsels van Jackie Nagtegaal as van hoër waarde as die poësie van Van Wyk Louw geag het, het hom gister aan die kant van tagtig ander skrywers geskaar wat ten gunste van 'n Afrikaanse Stellenbosch is.

Ook kenmerkend in die hele debat is die afwesigheid van die bruin intellektuele soos Jakes Gerwel, Neville Alexander en ander wat hul in die verlede al oor Afrikaans uitgelaat het. Dis goed en wel om ten gunste van "meertaligheid" en ander mooi begrippe te wees, maar in die praktyk kom daar 'n tyd dat Afrikaans verdedig moet word teen die gekoördineerde aanslag van die ANC-staat en sy meelopers soos Chris Brink. Hiertoe is die bruin intellektuele, wat self oorwegend in Engels publiseer, natuurlik nie bereid nie.

Al die individue en organisasies wat in weerwil van hul verguising deur die Nasionale Perskoerante as "taalbulle", "taalosse", "reaksionêres" en "verregses" betrokke was by vyf lange jare van intense taalstryd, pluk nou die vrugte daarvan. Die "kantelpunt" is bereik en skrywers, intellektuele en die volk self staan bankvas teen die finale aanslag op Afrikaans wat met die verengelsing van Stellenbosch en daarna Potchefstroom volvoer sou word.

Kader Asmal wou Verwoerd "in sy graf laat tol" deur die samesmelting en verengelsing van Afrikaanse kampusse, maar vandag is dit Braam Fischer wat in sy graf tol, asook Kader Asmal se rokershoesie wat in 'n desperate gehyg na asem oorslaan.

Dat hierdie beweging téén die "nasiebou"- en multikulturele propaganda van die hoofstroommedia in plaasgevind het, is des te meer merkwaardig.

Sover dit die Afrikaanse openbare mening betref, het ons  sowel teen die ANC as teen die media gewen. Dieselfde mnr. Arrie Rossouw wat vier jaar gelede nog diegene uitgejou het wat Afrikaans op Parmalat se produkte wou sien, plaas vandag briewe in sy koerant, Die Burger, deur onder andere Heilna du Plooy wat die verengelsing van Stellenbosch as "dood in die familie" beskryf.

Afrikaners is besig om rondom hul taal te begin saamstaan. Watter ander wonderlike dinge kan daar nie in hierdie land gebeur as ons oor ander kwessies ook gesamentlik begin praat en optree nie?

Skielik is 1938 - en Afrikanereenheid - besig om voor ons oë te herleef...

 

boontoe