|
Dan Roodt 15
November 2005 Frankryk
se Chirac kapituleer |
Gisteraand het president
Jacques Chirac van Frankryk 'n lang TV-onderhoud toegestaan waarin hy
die onluste wat deur Arabiese en swart jeugdiges in sy land gepleeg
word, bespreek het.
'n Mens sou gehoop het dat die
Franse wat al dikwels in die verlede moedige standpunte verdedig het,
die eerste Westerse moondheid sou word wat sy voet neersit oor
geweldpleging deur immigrante op eie grondgebied en 'n duidelike
boodskap sou uitstuur dat hy nie afgepers kan word om nog meer
toegewings aan oproeriges te maak nie.
Helaas het Chirac van 'n sterk
standpunt weggeskram en met 'n tipiese benadering van "wit
skuld" en "wat kan ons doen om dinge vir julle nog
aangenamer te maak" gekom. Dit kom daarop neer dat hy voor die
petrolbomme van die jong onlusmakers gekapituleer het.
Die universele slagkreet van
"rassisme!" het ook sy tol op die Franse president geëis,
want in 'n emosionele betoog het hy die multikulturalisme besing deur
te sê: "Ek wil aan die kinders van die probleembuurte sê, wat
ook al hul oorsprong, dat hulle een en almal dogters en seuns van die
Republiek is."
In die aangesig van Frankryk
se beleid van "integrasie", oftewel verfransing, wat nie
werk nie, het Chirac weereens beter middele en meer geld belowe om die
gewraakte beleid te maak werk. Dat daar toenemend rassekwotas in
Frankryk op alle gebiede toegepas gaan word, kan mens reeds met
stelligheid voorspel.
Intussen het die steun vir die
nasionalistiese mnr. Jean-Marie le Pen wat allerweë as
"verregs" bestempel word, maar wat hom nogtans streng by die
reëls van die demokrasie hou, tot 25% gestyg. Een uit elke vier
Franse, oftewel 13 miljoen mense, wil dus hê dat immigrasie gestaak
moet word en selfs dat Derde Wêreld-immigrante na hul lande van
oorsprong teruggestuur behoort te word. Dit is die hoogste mate van
steun vir 'n nasionalistiese party in die Westerse wêreld wat daar
sedert die Tweede Wêreldoorlog behaal is en dui op die intensiteit
van die krisis wat hom in Frankryk afspeel.
Die Franse onluste het opnuut
die internasionale debat oor multikulturalisme, enersyds, maar ook die
behoud van Westerse nasionale identiteite, andersyds, gestimuleer.
Hoewel die SA situasie in baie opsigte anders is omdat Westerlinge
hier in 'n minderheid verkeer, is die basiese argumente oor kunsmatige
bevoordeling van dikwels gewelddadige "agtergeblewenes" wat
deur regstellende aksie en ander maatreëls bevoordeel moet word,
dieselfde.
Chirac het gisteraand
teruggedeins van 'n moeilike werklikheid wat radikale besluite aan hom
opdwing. Die Afrikaner, wie se voortbestaan op die Afrikakontinent
meer as ooit tevore bedreig word deur geweld, taaldiskriminasie en
demografiese agteruitgang, het nie meer die Franse luukse om die
probleem aan 'n volgende geslag oor te laat nie. By ons sal die
ideëbotsing tussen multikulti en voortgesette volkskap met meer moed
en insig gevoer móét word.
boontoe
|