chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

16 Februarie 2005 

Pretoria-naamstryd verhewig

Die jongste verwikkeling in die voortslepende stryd rondom Pretoria se naamsverandering bewys weereens die kwade wil wat die ANC motiveer. Terwyl Minister Lekota verlede jaar in die Our Raadzaal die versekering gegee het dat die stad se naam nie gaan verander nie (klik hier), het die ANC se plaaslike tak so pas aangekondig dat "Pretoria se naam reeds in 2000 verander is". Dít, te midde van 'n debat wat nou reeds twee jaar lank woed oor die Pretorianaamkwessie.

Die DA het hom by monde van sy leier in die metroraad, mnr Fred Nel, neergelê by die ANC-besluit deur te verklaar dat "bly is die ANC behou die status quo en dat hy (die DA) nie eintlik vir meer kon baklei nie, omdat die besluit dat die stad se naam Tshwane is, reeds in 2000 geneem is."

Hierdie soort logika is verregaande. Daar is nooit in 2000 gesê dat die naam Tshwane uiteindelik Pretoria gaan vervang nie, slegs dat dit die naam van 'n nuwe administratiewe entiteit sou wees. Die logika van "ons het saamgestem om saam te stem" kenmerk egter die hele skikking van 1994 en enige anti-Afrikaanse stappe wat die regering mag neem, word op grond van hiervan geregverdig.

Intussen het die fameuse verslag wat die stadsraad tot dusver probeer onderdruk het, ook bevind dat bykans 90% van blanke Pretorianers teen die naamsverandering gekant is. Dit is meesal hulle wat die belastings vir die stadsraad betaal.

Anders as wat die DA dink, is die naamstryd nie verby nie. Die sogenaamde status quo waar "Pretoria" gereduseer word tot enkele strate in die middestad, is nie aanvaarbaar nie.

Die munisipaliteit van sogenaamde Tshwane het met sy onbekookte naamsverandering vir hom 'n lat gepluk. Weerstand is aan't oplaai en hy kan 'n felle stryd vir die behoud van Pretoria verwag.

Vir Afrikaners is die naamstryd ook besig om 'n lakmoestoets te word. Indien hulle nog oor die wil beskik om hulself, hul taal en tradisie in die land teen 'n oormag te handhaaf, verskaf die beweging teen die naamsverandering die ideale omstandighede om te toon dat hulle steeds oor die durf en moed beskik om te hul erfenis te verdedig.

 

boontoe