Die
jongste verwikkeling in die voortslepende stryd rondom Pretoria se
naamsverandering bewys weereens die kwade wil wat die ANC motiveer.
Terwyl Minister Lekota verlede jaar in die Our Raadzaal die
versekering gegee het dat die stad se naam nie gaan verander nie
(klik hier), het die ANC se plaaslike tak so pas aangekondig dat
"Pretoria se naam reeds in 2000 verander is". Dít, te
midde van 'n debat wat nou reeds twee jaar lank woed oor die
Pretorianaamkwessie.
Die
DA het hom by monde van sy leier in die metroraad, mnr Fred Nel,
neergelê by die ANC-besluit deur te verklaar dat "bly is die
ANC behou die status quo en dat hy (die DA) nie eintlik vir meer kon
baklei nie, omdat die besluit dat die stad se naam Tshwane is, reeds
in 2000 geneem is."
Hierdie
soort logika is verregaande. Daar is nooit in 2000 gesê dat die
naam Tshwane uiteindelik Pretoria gaan vervang nie, slegs dat dit
die naam van 'n nuwe administratiewe entiteit sou wees. Die logika
van "ons het saamgestem om saam te stem" kenmerk egter die
hele skikking van 1994 en enige anti-Afrikaanse stappe wat die
regering mag neem, word op grond van hiervan geregverdig.
Intussen
het die fameuse verslag wat die stadsraad tot dusver probeer
onderdruk het, ook bevind dat bykans 90% van blanke Pretorianers
teen die naamsverandering gekant is. Dit is meesal hulle wat die
belastings vir die stadsraad betaal.
Anders
as wat die DA dink, is die naamstryd nie verby nie. Die sogenaamde
status quo waar "Pretoria" gereduseer word tot enkele
strate in die middestad, is nie aanvaarbaar nie.
Die
munisipaliteit van sogenaamde Tshwane het met sy onbekookte
naamsverandering vir hom 'n lat gepluk. Weerstand is aan't oplaai en
hy kan 'n felle stryd vir die behoud van Pretoria verwag.
Vir
Afrikaners is die naamstryd ook besig om 'n lakmoestoets te word.
Indien hulle nog oor die wil beskik om hulself, hul taal en tradisie
in die land teen 'n oormag te handhaaf, verskaf die beweging teen
die naamsverandering die ideale omstandighede om te toon dat hulle
steeds oor die durf en moed beskik om te hul erfenis te verdedig.