chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Radio Pretoria-nuuskommentaar

17 Maart 2005 

Wat 'n stommiteit!

Dis om die spraaksaamste pedagoog stom te slaan. Só 'n stommiteit om kommunikasie tussen leerlinge van verskillende taalgroepe te bewerkstellig soos dr Mongezi Guma se voorstel vir tolke in die klaskamers, verlam die stembande en laat die verstand stilstaan.

Dr Guma is voorsitter van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, 'n grondwetlike liggaam wat hom, volgens vroeë aanduidings teenstrydig met sy naam, vir die bevordering van 'n eenvormige ANC-kultuur beywer.

Met verwysing na hofgedinge deur skole vir die behoud van Afrikaans as onderrigmedium en na swart studentebetogers wat die afskaffing van Afrikaans eis, het hy die volgende voorgestel, en ons haal aan:

Tolkdienste in die klaskamer of lesingsaal is 'n moontlike oplossing waardeur jy op 'n individuele grondslag wat die onderwyser of dosent sê, onmiddellik kan vertaal. Dit is 'n stap wat ook werk vir tolke kan skep. Op dié manier, sê hy, kan voorkom word dat 'n hele klas Afrikaanssprekendes gedwing word om in Engels met mekaar te kommunikeer ter wille van enkeles wat nie Afrikaans verstaan nie. Of omgekeerd, natuurlik.

Dit is seker moontlik vir sekere vakke op universiteitsvlak, maar op skoolvlak!

Ons praat nie eers oor die tydrowendheid van so 'n stelsel nie. Ons is mos in Afrika waar tyd volop is en alles rustig geskied, want more is nog 'n dag en oormore ook.

Ons kyk na wat in die klaskamer kan gebeur. Jy het 'n matriekklas van Engelsliewende en Afrikaanse leerlinge. Hulle is besig met wiskunde. Die onderwyser is Engels, of bied minstens die vak in Engels aan. Die tolk moet na Afrikaans vertaal.

Matriekwiskunde is deesdae al heel gevorderd. Daardie tolk moet nie net vlot in Engels en Afrikaans wees nie, hy moet ook sy sit en sy opstaan in wiskunde ken!

Nou watter tolk is so wiskundevaardig dat hy die vak uit Engels na Afrikaans kan oortolk en dan ook op so 'n manier dat die leerlinge die ingewikkeldhede kan verstaan? En waar 'n kind 'n verdere verduideliking of opheldering vra, dit en die antwoord so oordra?

Die antwoord is voor die hand liggend: 'n ander wiskunde-onderwyser en dan wel een wat volkome tweetalig is! Daar sit jy dan met twee wiskunde-onderwysers voor 'n klas en dit in 'n land waar wiskunde-leerkragte skaarser as Rand-miljoenêrs is!

Gestel nou net Onnie A en Onnie B sit vas oor 'n sekere aspek en die twee pak mekaar aan. Watter een se antwoord gaan reg gemerk word in die eksamen?

Die pyn is so onnodig, want die oplossing is so eenvoudig: Sit hulle in aparte skole, klaskamers of lesingsale en laat elkeen, soos goeie onderwysbeginsels dit vereis, onderrig in sy moedertaal ontvang.

Die goeie doktor bedoel dit dalk goed, maar daar kan kwalik iets goeds uit sy voorstel vloei.

 

boontoe