chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

17 Julie 2005 

Afrikanerdebat en nuwe sensuur

Meer as vyf jaar gelede het Rapport 'n artikel gepubliseer onder die opskrif, "Wie, wat en waar van die groot Afrikanerdebat". As ek reg onthou, is daar in dieselfde uitgawe ook 'n spotprent van Hermann Giliomee, Z.B. du Toit, Flip Buys, ekself en Willie Esterhuyse gepubliseer.

Kort hierna, aan die einde van Mei 2000 om presies te wees, het Praag Chris Louw se volledige Boetman-brief gepubliseer. Op daardie stadium het die hoop opgevlam dat daar ná jare van sensuur deur die Broederbond en die ou Nasionale Party-establishment werklik 'n vrye en oop gesprek soos Van Wyk Louw dit verwoord het, onder Afrikaners sou geld.

Veral oor die afgelope jaar of twee het daardie vlam van vrye en demokratiese debatvoering wat in 2000 so helder gebrand het, begin flikker en kwyn. Die spook van 'n nuwe sensuur wat eintlik veel erger as die ou sensuur van die verlede is, het begin loop.

In Februarie en Maart vanjaar het 'n groepie Stellenbosse akademici, asook Max du Preez, gepoog om my van 'n onskuldige literêre gesprek by die Woordfees te weerhou. In die proses is histeriese ideologiese aanklagte deur selfverklaarde linkses rondgeslinger wat sterk aan Mao se Kulturele Revolusie van 1966 of die onstabiele tydperk in Duitsland tydens die Weimar-republiek van die 1920s herinner het.

Sedert Maart vanjaar is ons telkens daaraan herinner dat Suid- Afrika tans 'n revolusie van die linkse tipe deurmaak en dat vryheid van spraak toenemend in die gedrang sal kom terwille van nuwe sensuur. Anders as in 2000, is dit deesdae moeilik, indien nie onmoontlik nie, om 'n brief of artikel op die meningsblaaie van Nasionale Pers se koerante gepubliseer te kry.

Presies 'n week gelede op 10 Julie 2005 het Willie Esterhuyse 'n verregaande artikel in Rapport gepubliseer waarin hy Afrikaners met Duitsers vergelyk wat swaar sou dra aan "die kruis" van volksmoord en rassisme. Die feit dat daar nog geen enkele konsentrasiekamp of massagraf uit die tydperk 1948-1994 in die land ontdek is nie, is natuurlik 'n bysaak.

Esterhuyse is 'n vertroueling van die ANC-regering en 'n amptelike propagandis vir die regerende party. Hoewel ek 'n versoek aan Rapport gerig het om repliek te lewer op Esterhuyse se belastering van ons volk wat met Nazi-Duitsers vergelyk word, is sodanige versoek nie toegestaan nie. Want - en dit kom ons meer en meer agter - nuwe sensuur geld voortaan en slegs gematigde en "opbouende" kritiek jeens die ANC sal geduld word.

Ook Max du Preez wat alreeds so bankrot is van lastereise dat hy blykbaar iewers in die Wes-Kaap vir sy skuldeisers wegkruip, het sedert Maart onverpoos voortgegaan om met smeertaktiek en hol beskuldigings van rassisme deelnemers aan die Afrikanerdebat te intimideer en die swye op te lê. Waarheid, redelikheid en feite het nie in die pad van Mao of Stalin gestaan nie, en gaan ook nie vir Max du Preez in sy veldtog teen die Afrikaner stuit nie.

In vandag se Sunday Times vaar Max du Preez teen een van sy ou vyande, die ontslape Lothar Neethling, uit. Laasgenoemde is in sy graf en kan dus nie terug antwoord nie. Maar Du Preez se eintlike teiken is die Afrikaner, want die opskrif lui immers, "Die aaklige gesig van Afrikaner-nasionalisme". Die sub-opskrif beduie dat Lothar Neethling die "verskrikkinge van apartheid verpersoonlik het". By implikasie sê Max dat elke Afrikaner 'n massa- of gifmoordenaar sou wees. Die vergelyking met dr. Mengele en ander Nazi's is nooit ver weg nie. Ook in die jongste uitgawe van die Engelstalige vrouetydskrif Fair Lady, insgelyks 'n publikasie in die Naspersstal, gooi Max du Preez en sy Stellenbosse bondgenoot, Yvonne Malan, verdere modder na my en Afrikaners in die algemeen.

Du Preez het onlangs 'n toespraak by die Grahamstown Arts Festival in Engels gelewer waarin hy, sonder om my by die naam te noem, in sy gewoonte verval om enigeen wat nie met hom saamstem nie van rassisme en ander eienskappe beskuldig. Dié jongste uitbarsting van "Mad Max" is op LitNet te siene.

Onder normale omstandighede in 'n demokratiese land sou daar ruimte gewees het om vir sowel Willie Esterhuyse as Max du Preez te antwoord en hulle op hul denkfoute en onredelike dogma te wys. Vanweë die sensuur wat deesdae geld, is dit nie moontlik om die apologete van die regime teen te gaan nie. Selfs die internet is nie vry van nuwe sensuur nie, want die webwerf LitNet onder eindredaksie van Etienne van Heerden het ingeval by die nuwe sensuur en het al male sonder tal repliek van my en ander geweier wat krities teenoor die Afro-nasionalistiese hegemonie in die land staan.

In die lig van die toenemende sensuur en bedreiging vir meningsvryheid in die land, skitter die Praagwebwerf in sy onverskrokke handhawing van liberaal-demokratiese beginsels van spraakvryheid. Ook sit ons die Afrikanerdebat wat in 2000 begin het sonder muilband of dwangbuis voort.

Ons nooi daarom ons lesers uit om in hierdie, waarskynlik een van die weinige vrye ruimtes wat in Afrikaans oorbly, op Willie Esterhuyse en Max du Preez te antwoord. Stuur u briewe aan inlig@praag.org.

Laat die Afrikaner nie langer belieg en belaster word nie. Mag ons ook nie voor die nuwe sensuur en intimidasie swig om ons sê te sê nie.

Hierdie mening word insgelyks as 'n mediaverklaring uitgereik.

 

boontoe