chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

17 Augustus 2004

Links-regsstryd in Afrikaans?

In Wes-Europa is die links-regsstryd tussen intellektuele en politici op sy hewigste gevoer in die sewentiger- en tagtigerjare toe die Sowjetstelsel sy eerste krake begin wys het. Solsjenitsin se boeke soos Die Goelag-argipel het ook in dié tyd buite Rusland begin verskyn en 'n geweldige polemiek ontlok.

Behalwe enkele eilande van linkse denke op Engelstalige kampusse, het Suid-Afrika nooit eintlik dié stryd meegemaak nie, aangesien die vorige regering linkse denke in 'n groot mate onderdruk het deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in die ban te doen en sekere werke van Marx en Lenin te verbied.

Omdat kommunisme en linkse denke voorheen verbode was, het dit kennelik die allure van 'n verbode vrug vir 'n klompie Afrikaners verkry, veral joernaliste in die Naspers-stal en bydraers op die internetwebwerf LitNet, wat tot dieselfde persgroep behoort.

Die onlangse aansluiting van mnr. Marthinus van Schalkwyk by die ANC, 'n party wat steeds tot die Sosialistiese Internasionaal behoort, verteenwoordig insgelyks 'n simptoom van die nuwe aansien wat linkse en sosialistiese denke in Afrikaans verkry het. Die alomteenwoordige skelwoord, "regse!" wat hetsy teenoor liberale persone, hetsy teenoor diegene wat meer patrioties of nasionalisties ingestel is, gebruik word, dui op die invloed van die ANC en SAKP op vele Afrikaners.

Is dit bloot 'n geval van die Eerste Wêreld wat hom in die Derde Wêreld as klug herhaal? As mens kyk na die argumente van vele pas bekeerde linkses, wat kwalik op die vlak van na-oorlogse Marxiste soos Louis Althusser of Lucio Colletti verkeer, dan wil dit soms so lyk. Dog op 'n ander manier verteenwoordig dit 'n demonstrasie van Abraham Lincoln se bekende spreuk dat "niemand aan die geskiedenis ontkom nie."

Terwyl die ou Nasionale Party Suid-Afrika geïsoleer het van die links-regsstryd wat elders ter wêreld gevoer is, is die geskiedenis as't ware "teruggehou" en is ons moontlik besig om "in te haal" by dit wat reeds elders plaasgevind het, naamlik die links-regsstryd wat uitgeloop het op die ineenstorting van die sosialistiese stelsel en ideologie.

Gister het Jeremy Cronin van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in die koerant ThisDay geskryf dat sosialisme steeds oor 'n blink toekoms in die land beskik; dit gaan bloot op ander maniere ingevoer word as in die voormalige Oos-Europa. Moontlik gaan die kerke ook 'n rol hierby speel, want sowel die NG Kerk as die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke het reeds hulself tot een of ander vorm van sosialisme verbind. Ons weet dat die NG Kerk die huidige nasionalisering van landbougrond oftewel "grondhervorming" steun en dat laasgenoemde selfs die kapitalisme tot "afgodery" verklaar het.

Terwyl Suid-Afrika 'n beskawingskonflik ervaar soos wat Huntington ná die einde van die Koue Oorlog voorspel het, dié tussen Afrika en die Weste, is ons kennelik daartoe gedoem om terselfdertyd 'n klassieke links-regsstryd mee te maak, veral onder Afrikaners.

Die mekka van linkse denke in Afrikaans is natuurlik Nasionale Pers waarvan ten minste een direkteur, Jakes Gerwel, 'n geesdriftige aanhanger van die SAKP verteenwoordig. 'n Ander forum waar linkse denke selfs fanaties gepropageer word deur selfaangestelde revolusionêre onder 'n verskeidenheid noms de guerre, is LitNet onder die redaksie van Etienne van Heerden, 'n leidende Marxistiese intellektueel aan die Universiteit van Kaapstad, dieselfde instelling wat Jeremy Cronin geproduseer het.

Vir sommige verteenwoordig die links-regsstryd 'n agterhoedekonflik, maar blykbaar gaan ons in Afrikaans nie ontsnap aan die uitwasse van die wêreldgeskiedenis nie.

Laat die links-regsstryd dus in alle erns begin. En garde!

 

boontoe