In
Wes-Europa is die links-regsstryd tussen intellektuele en politici
op sy hewigste gevoer in die sewentiger- en tagtigerjare toe die
Sowjetstelsel sy eerste krake begin wys het. Solsjenitsin se boeke
soos Die Goelag-argipel het ook in dié tyd buite Rusland
begin verskyn en 'n geweldige polemiek ontlok.
Behalwe
enkele eilande van linkse denke op Engelstalige kampusse, het
Suid-Afrika nooit eintlik dié stryd meegemaak nie, aangesien die
vorige regering linkse denke in 'n groot mate onderdruk het deur die
Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in die ban te doen en sekere werke
van Marx en Lenin te verbied.
Omdat
kommunisme en linkse denke voorheen verbode was, het dit kennelik
die allure van 'n verbode vrug vir 'n klompie Afrikaners verkry,
veral joernaliste in die Naspers-stal en bydraers op die
internetwebwerf LitNet,
wat tot dieselfde persgroep behoort.
Die
onlangse aansluiting van mnr. Marthinus van Schalkwyk by die ANC, 'n
party wat steeds tot die Sosialistiese Internasionaal behoort,
verteenwoordig insgelyks 'n simptoom van die nuwe aansien wat linkse
en sosialistiese denke in Afrikaans verkry het. Die alomteenwoordige
skelwoord, "regse!" wat hetsy teenoor liberale persone,
hetsy teenoor diegene wat meer patrioties of nasionalisties ingestel
is, gebruik word, dui op die invloed van die ANC en SAKP op
vele Afrikaners.
Is
dit bloot 'n geval van die Eerste Wêreld wat hom in die Derde
Wêreld as klug herhaal? As mens kyk na die argumente van vele pas
bekeerde linkses, wat kwalik op die vlak van na-oorlogse Marxiste
soos Louis Althusser of Lucio Colletti verkeer, dan wil dit soms so
lyk. Dog op 'n ander manier verteenwoordig dit 'n demonstrasie van
Abraham Lincoln se bekende spreuk dat "niemand aan die
geskiedenis ontkom nie."
Terwyl
die ou Nasionale Party Suid-Afrika geïsoleer het van die links-regsstryd
wat elders ter wêreld gevoer is, is die geskiedenis as't ware
"teruggehou" en is ons moontlik besig om "in te haal"
by dit wat reeds elders plaasgevind het, naamlik die links-regsstryd
wat uitgeloop het op die ineenstorting van die sosialistiese stelsel
en ideologie.
Gister
het Jeremy Cronin van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty in die
koerant ThisDay geskryf dat sosialisme steeds oor 'n blink
toekoms in die land beskik; dit gaan bloot op ander maniere ingevoer
word as in die voormalige Oos-Europa. Moontlik gaan die kerke ook 'n
rol hierby speel, want sowel die NG Kerk as die Wêreldbond van
Gereformeerde Kerke het reeds hulself tot een of ander vorm van
sosialisme verbind. Ons weet dat die NG Kerk die huidige
nasionalisering van landbougrond oftewel "grondhervorming"
steun en dat laasgenoemde selfs die kapitalisme tot "afgodery"
verklaar het.
Terwyl
Suid-Afrika 'n beskawingskonflik ervaar soos wat Huntington ná die
einde van die Koue Oorlog voorspel het, dié tussen Afrika en die
Weste, is ons kennelik daartoe gedoem om terselfdertyd 'n klassieke
links-regsstryd mee te maak, veral onder Afrikaners.
Die
mekka van linkse denke in Afrikaans is natuurlik Nasionale Pers
waarvan ten minste een direkteur, Jakes Gerwel, 'n geesdriftige
aanhanger van die SAKP verteenwoordig. 'n Ander forum waar linkse
denke selfs fanaties gepropageer word deur selfaangestelde
revolusionêre onder 'n verskeidenheid noms de guerre, is LitNet
onder die redaksie van Etienne van Heerden, 'n leidende Marxistiese
intellektueel aan die Universiteit van Kaapstad, dieselfde
instelling wat Jeremy Cronin geproduseer het.
Vir
sommige verteenwoordig die links-regsstryd 'n agterhoedekonflik,
maar blykbaar gaan ons in Afrikaans nie ontsnap aan die uitwasse van
die wêreldgeskiedenis nie.
Laat
die links-regsstryd dus in alle erns begin. En garde!