Sedert
sy bewindsoorname in 1994 het die ANC uit sy pad gegaan om die
Afrikaanse taal en kultuur te benadeel. Afrikaanse instellings is
afgetakel en onder dwang verengels.
Deur
'n uiters suksesvolle intimidasieproses wat deur die
Onderwysdepartement geloods is, is een Afrikaanse skool na die
ander, asook een Afrikaanse universiteit na die ander, gedwing om
dubbel- of parallelmedium te word. Die ANC weet goed genoeg dat die
wette van die sosioslinguïstiek agterna oorneem om te sorg dat
sulke instellings binne ongeveer vyf jaar daarna heeltemal
verengels.
Thabo
Mbeki se onlangse uitspraak
in die parlement "Soos julle weet, het ons nog altyd positief gereageer op die noodsaak om Afrikaans te beskerm,"
is lagwekkend. Soos Zimbabwiese demokrasie of Kongolese
ontwikkeling, behoort dit tot een van daardie mooi begrippe in
Afrika waar die realiteit dikwels reëlreg van die idee verskil.
Die
Pro-Afrikaanse Aksiegroep (PRAAG) het so pas vyf jaar oud geword.
Daar gaan nie 'n dag verby dat ons nie klagtes van
Afrikaanssprekendes ontvang teen wie daar gediskrimineer word in
staatsdepartemente, universiteite, skole, kolleges en openbare
maatskappye nie. Die aantal opgetekende gevalle van duidelike
taaldiskriminasie deur die staat is legio. PANSAT beskik oor
honderde klagtes in dié verband. As mens in ag neem dat waarskynlik
slegs 'n klein persentasie mense ooit die moeite doen om sulke
klagtes aanhangig te maak, dan bestaan daar letterlik reeds duisende
gevalle van taaldiskriminasie in die land.
Mbeki
se uitspraak oor Afrikaans moet dus in dieselfde lig as sy
idiosinkratiese menings oor Vigs en Zimbabwe gesien word: 'n mens
kan dit nie ernstig opneem nie.