Vroeër
vandeesweek is daar berig dat mnr. Smuts Ngonyama,
sekretaris-generaal van die ANC, Afrikaans met haar 130ste
verjaardag gelukwens. Hierop het PRAAG 'n verklaring
uitgereik waarin die ANC se agterbaksheid verwerp word.
Asof
dié ongevraagde, skynheilige "gelukwensing" nie genoeg
was nie, het die regime nou in sy weeklikse pontifikale uitspraak op
die internet, ANC
Today, die poging om Afrikaans
heuning om die mond te smeer, voortgesit.
Het
die ANC mal geword? Waarom volhard die Afro-nasionalistiese bewind
wat gewoonlik 'n beleid van sistemiese rassisme teen Afrikaners
toepas - waarvan
taaldiskriminasie maar een van die manifestasies is - in sy pogings
om hom as kampvegter vir Afrikaans voor te doen? Niks kan seker meer
absurd wees as om te dink dat die ANC met sy "English
only"-beleid wat sedert 1994 met kwalik verdoeselde aggressie
afgedwing is, nou besig is om die Afrikaanse saak met digterlike
romantiek te besing nie.
Die
rede vir die "English only"-regime se ongemak oor
Afrikaans is dat die ANC se propagandamasjien steeds verwoesting
saai, behalwe as dit by taal kom. Reeds met die Inligtingskandaal
tydens die sewentigerjare het die Nasionale Party - en daarmee saam
die Afrikaner - se vermoëns om enigsins 'n ideologie te verdedig 'n
ernstige knou verkry. Die uiteindelike ineenstorting van die NP,
asook die eens magtige Broederbond, het die Afrikaner magteloos
gemaak sover dit sy propagandavermoëns betref. Met die openbare
televisie en radio onder sy beheer, het die ANC eenvoudig
voortgegaan om met hamerslae sy ideologie in die land te vestig.
Danksy
die volgehoue pogings van taalstryders wat egter ook gereeld in die
blaaie van Nasionale Perskoerante as "taalbulle",
"maniakke", "geestesversteurdes", ens. verguis
word, is die ANC se oënskynlik meedoënlose propaganda-oorlog teen
alles wat Afrikaans is - ten minste wat die taal self betref -
suksesvol gestuit.
Met
hul jarelange opleiding deur die Russiese KGB en die Oos-Duitse
Stasi, is die ANC en sy SAKP-bondgenoot natuurlik daarvan bewus dat
slegs totale ideologiese beheer oor die land sy
langtermynoorheersing sal verseker. Een manier om die netelige
taalkwessie te ondervang, is om eenvoudig voor te gee dat die
regerende party nie Afrikaansvyandig is nie. Terwyl ons arme taal
agter die skerms ondermyn en afgetakel word in die naam van
"English only".
Eerder
as wat die skynbare ommeswaai in die ANC se houding jeens Afrikaans
dus dui op 'n nuutgevonde, vreemde waardering vir die Afrikaanse
kultuur, is dit tekenend van die regime se bewustheid dat hy besig
is om te retireer sover dit sy voortgesette propaganda-oorlog teen
die Afrikaner betref.
Waarskynlik
sal die skoothondjiekoerante in die Naspersstal poog om die
groeiende taalbeweging, veral onder jongmense, te probeer ondergrawe
deur die sirenesang van "die opheffing van al elf tale, Engels
inkluis" aan te hef.
Sedert
die Inligtingskandaal wat sy uiteindelike afgang verseker het, is
die Afrikaner besig om vir die eerste keer in drie dekades punte
teen sy Angel-Saksiese en deesdae Afro-Saksiese vyande aan te teken.
Dis
nou die tyd om die stryd teen die ANC en "English only"
met hernieude ywer voort te sit.
29/09/05 03:09