Die viering van die
UDF se twintigste verjaardag vandag het tegelyk nostalgiese en
politieke waarde. Nostalgie, omdat dit sommige van die deelnemers
aan dié beweging, wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap en in Natal
gesetel was en grotendeels uit bruinmense en Indiërs bestaan het,
die geleentheid bied om herinneringe op te haal oor vergange glorie.
Politieke waarde, omdat dit die verjaardaggangers oortuig dat hul
rol in die mitiese "stryd" nie heeltemal verniet was nie,
al het hulle kwalik in die buit gedeel toe poste en posisies
uitgedeel is.
Hoeveel
beeldmateriaal oor twintig jaar gelede se massavergaderings daar ook
al heruitgesaai word, tesame met die kragdadige uitsprake van
toentertydse UDF-aktiviste, beklemtoon die verhouding tussen die UDF
en die ANC bloot die ou waarheid in die Suid-Afrikaanse politiek dat
radikalisme gewoonlik die oorhand verseker.
Die UDF was 'n min
of meer demokratiese beweging wat by wyse van massamobilisering en -protes
sy doelwitte wou bereik. Hierteenoor was die ANC van daardie dae 'n
geslote en geheimsinnige kabaal wat vanuit die onderwêreld van
kommunistiese terreur en Oos-Europese geheime dienste geopereer het.
Vele mense in
Suid-Afrika het nie van die ANC se bestaan geweet nie, soos wat dr.
Alan Boesak vandag in 'n radio-onderhoud verduidelik nie. Nietemin
het dié beweging, danksy die radikale dreigement van geweld en
stedelike terreur die mees gesiene onderhandelingsvennoot van die NP
geword, en is die UDF opsygeskuif, ondanks sy blyke van massasteun.
Alistair Sparks het ook op dié verbasende feit gewys dat die De
Klerk-regering die mees onwaarskynlike bende van sosialistiese
dinosourusse uit hul selfopgelegde ballingskap gaan haal het om
Suid-Afrika te regeer, pleks van bewese plaaslike leiers,
waaronder die UDF, maar ook die tradisionele en tuislandleiers.
'n Ander parallel,
dié met oud-premier John Vorster, is frappant. Hy is tydens die
Tweede Wêreldoorlog as lid van die Ossewabrandwag op Koffiefontein
aangehou, iets wat hom nie verhoed het om later eerste minister van
Suid-Afrika te word nie. As ons dus na die twintigste-eeuse
geskiedenis van dié land kyk, wil dit lyk asof dit vir ons wil sê:
geweld betaal.
Dit is egter nie te
sê dat die UDF se metodes van massamobilisering en nie-gewelddadige
aksie waardeloos is nie, inteendeel. Ná alles verteenwoordig dit
die "Leipzig-opsie" waarmee Erich Hoenecker en ander
Oos-Europese diktators uit die saal gelig is.
Wanneer Afrikaners
vandag hul eie keuses opweeg, is dit belangrik om nie die
doeltreffendheid van nie-gewelddadige aksie te onderskat nie. 'n
Beweging soos die ANC, wat tans die land regeer, is gebore en getoë
in die duistere wêreld van stedelike terreur, geheimhouding en
skielike geweld op weerlose burgerlikes waarvan die Kerkstraatbom
miskien die eksemplariese voorbeeld is. Ewekansige geweld is sy
opvatting van politiek, en dit is in 'n groot mate ook wat hy van
Afrikaners verwag soos wat die skroef aangedraai word.
In 'n elektroniese
era waar protes tans ook by wyse van epos, soos nou in verband met
misdaad en die doodstraf, aangeteken word, kan nie-gewelddadige
aksie van die tipe wat tydens die studentebewegings van die
sestigerjare maar ook deur die Vlaminge aangewend is, 'n invloed
uitoefen op menige regering. Alhoewel die UDF 'n mindere voorbeeld
van nie-gewelddadige aksie verteenwoordig, behoort ons as
minderheidsgroep ook sy metodes en filosofie te bestudeer. Ons
behoort insgelyks hierdie geslag aktiviste te respekteer vir hul
ywer, al het dit so te sê op niks uitgeloop nie aangesien dit 'n
geval was van "twee honde baklei oor 'n been, en die derde loop
daarmee heen".
In daardie sin, sou
dit daarom heel gepas wees om te deel in die nostalgie van die UDF
en sy reste, of ten minste te sê: gelukkige verjaardag!