chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

22 Maart 2004 

Suid-Afrika se politieke hof

Gister is die gebou op "Constitutional Hill" in Johannesburg waar Suid-Afrika se Grondwetlike Hof setel, amptelik geopen deur die ANC-leier, Thabo Mbeki. Die gebou staan op die plek waar die historiese Fort, wat deur Paul Kruger in 1899 opgerig is, was.

Kommerwekkend is die volgende uitspraak deur Mbeki tydens sy toespraak: "Ons howe het die afgelope tyd 'n paar beslissings gevel wat uiters onsensitief is teenoor die impak wat ons rassistiese verlede steeds op ons bewussyn, waardes en verwagtings het. Dié hof sal slegs die mense se respek geniet as sy beslissings die gemeenskapswaardes van die samelewing weerspieël."

Die manier waarop die Grondwetlike Hof hom ingemeng het in die Wouter Basson-saak is tekenend van die politieke rol wat die hof vir homself toeëien. Waarskynlik is dit waarna Mbeki verwys. Ongeag regsgebinsels, moet "die gemeenskapswaardes van die samelewing" [lees: ANC-waardes] in die hof se beslissings weerspieël word.

Die Grondwetlike Hof is gepak met ANC-ondersteuners wat byna een en almal Engelssprekend is. Daar is nie 'n enkele Afrikaner op die bank nie. Tot dusver is geen grondwetlike saak byvoorbeeld aanhangig gemaak oor die taaldiskriminasie waaronder Afrikaanssprekendes gebuk gaan nie, maar by voorbaat weet ons dat etnosentrisme 'n rol sal speel by 'n uitspraak oor taalbeleid in Suid-Afrika. Een van die regters, die kommunis Albie Sachs, het reeds by geleentheid laat blyk dat "Engels die taal is waarin ons asemhaal in Suid-Afrika."

In ander opsigte is dit duidelik dat die Grondwetlike Hof hom modelleer op die Amerikaanse Hooggeregshof of Supreme Court. Weens die aanstelling van uiters liberale regters, het die Amerikaanse Hooggeregshof toenemend buite die demokrasie begin optree en eenvoudig sy eie sienings van regstellende aksie, gelykheid en ander sake op die Amerikaanse samelewing begin afdwing. Republikeinse presidente het gepoog om meer balans in die samestelling van die regters te bring, maar dit nie eintlik reggekry nie.

Die benadering van die Amerikaanse Hooggeregshof staan bekend as "geregtelike aktivisme". Ons Grondwetlike Hof, wat gepak is met ultraliberale of kommunistiese regters wat pro-Engels en anti-Afrikaans is, gaan vorentoe die wense van die gewone Suid-Afrikaner en veral Afrikaner ignoreer ten einde hul eie vergesogte beginsels op ons samelewing af te dwing.

Twee sulke uitsprake is reeds in die onlangse verlede gelewer: dié oor stemreg vir gevangenes en die uitbreiding van welvaartbetalings aan buitelanders. In albei gevalle het die Grondwetlike Hof die ultraliberale standpunt ingeneem dat gevangenes behoort te kan stem en dat buitelanders geregtig is op Suid-Afrikaanse welvaartbetalings. In ryk, Westerse samelewings mag sulke kwessies debatteerbaar wees, maar in Suid-Afrika met sy misdaadepidemie, asook 600 miljoen armes in Afrika wat maar te graag oor ons grense sal wil stap om welvaartbetalings te eis, kom sulke beslissings neer op wêreldvreemdheid.

Verbasend genoeg het die Grondwetlike Hof nie beslis dat dagga en anders "sagte dwelms" gewettig behoort te word nie, maar selfs daardie uitspraak was nie eenparig nie. Suid-Afrika is reeds, tesame met Haïti en Kolombië, een van die wêreldsentrums van dwelmhandel en die grootste uitvoerder van cannabis ter wêreld. Iewers in die toekoms sal die Grondwetlike Hof waarskynlik wel dwelms toelaatbaar maak, waarna Suid-Afrika se reputasie as dwelmuitvoerland en misdaadparadys nog 'n verdere hupstoot sal ontvang.

Daar is vele mense wat reeds beweer dat die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie. Met so 'n hof, gevange tussen anglosentrisme, ANC-beleid en wêreldvreemde ultraliberalisme/sosialisme, kan mens by voorbaat die veelgeroemde grondwetlike orde in Suid-Afrika afskryf.

 

boontoe