Gister
is die gebou op "Constitutional Hill" in Johannesburg waar Suid-Afrika se
Grondwetlike Hof setel, amptelik geopen deur die ANC-leier, Thabo
Mbeki. Die gebou staan op die plek waar die historiese Fort, wat
deur Paul Kruger in 1899 opgerig is, was.
Kommerwekkend
is die volgende uitspraak deur Mbeki tydens sy toespraak: "Ons
howe het die afgelope tyd 'n paar beslissings gevel wat uiters
onsensitief is teenoor die impak wat ons rassistiese verlede steeds
op ons bewussyn, waardes en verwagtings het. Dié hof sal slegs die
mense se respek geniet as sy beslissings die gemeenskapswaardes van
die samelewing weerspieël."
Die
manier waarop die Grondwetlike Hof hom ingemeng het in die Wouter
Basson-saak is tekenend van die politieke rol wat die hof vir
homself toeëien. Waarskynlik is dit waarna Mbeki verwys. Ongeag
regsgebinsels, moet "die gemeenskapswaardes van die samelewing"
[lees: ANC-waardes] in die hof se beslissings weerspieël word.
Die
Grondwetlike Hof is gepak met ANC-ondersteuners wat byna een en
almal Engelssprekend is. Daar is nie 'n enkele Afrikaner op die bank
nie. Tot dusver is geen grondwetlike saak byvoorbeeld aanhangig
gemaak oor die taaldiskriminasie waaronder Afrikaanssprekendes gebuk
gaan nie, maar by voorbaat weet ons dat etnosentrisme 'n rol sal
speel by 'n uitspraak oor taalbeleid in Suid-Afrika. Een van die
regters, die kommunis Albie Sachs, het reeds by geleentheid laat
blyk dat "Engels die taal is waarin ons asemhaal in Suid-Afrika."
In
ander opsigte is dit duidelik dat die Grondwetlike Hof hom modelleer
op die Amerikaanse Hooggeregshof of Supreme Court. Weens die
aanstelling van uiters liberale regters, het die Amerikaanse
Hooggeregshof toenemend buite die demokrasie begin optree en
eenvoudig sy eie sienings van regstellende aksie, gelykheid en ander
sake op die Amerikaanse samelewing begin afdwing. Republikeinse
presidente het gepoog om meer balans in die samestelling van die
regters te bring, maar dit nie eintlik reggekry nie.
Die
benadering van die Amerikaanse Hooggeregshof staan bekend as "geregtelike
aktivisme". Ons Grondwetlike Hof, wat gepak is met
ultraliberale of kommunistiese regters wat pro-Engels en
anti-Afrikaans is, gaan vorentoe die wense van die gewone Suid-Afrikaner
en veral Afrikaner ignoreer ten einde hul eie vergesogte beginsels
op ons samelewing af te dwing.
Twee
sulke uitsprake is reeds in die onlangse verlede gelewer: dié oor
stemreg vir gevangenes en die uitbreiding van welvaartbetalings aan
buitelanders. In albei gevalle het die Grondwetlike Hof die
ultraliberale standpunt ingeneem dat gevangenes behoort te kan stem
en dat buitelanders geregtig is op Suid-Afrikaanse welvaartbetalings.
In ryk, Westerse samelewings mag sulke kwessies debatteerbaar wees,
maar in Suid-Afrika met sy misdaadepidemie, asook 600 miljoen armes
in Afrika wat maar te graag oor ons grense sal wil stap om
welvaartbetalings te eis, kom sulke beslissings neer op
wêreldvreemdheid.
Verbasend
genoeg het die Grondwetlike Hof nie beslis dat dagga en anders
"sagte dwelms" gewettig behoort te word nie, maar selfs
daardie uitspraak was nie eenparig nie. Suid-Afrika is reeds, tesame
met Haïti en Kolombië, een van die wêreldsentrums van dwelmhandel
en die grootste uitvoerder van cannabis ter wêreld. Iewers in die
toekoms sal die Grondwetlike Hof waarskynlik wel dwelms toelaatbaar
maak, waarna Suid-Afrika se reputasie as dwelmuitvoerland en
misdaadparadys nog 'n verdere hupstoot sal ontvang.
Daar
is vele mense wat reeds beweer dat die Suid-Afrikaanse Grondwet van
1996 nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie. Met so 'n
hof, gevange tussen anglosentrisme, ANC-beleid en wêreldvreemde
ultraliberalisme/sosialisme, kan mens by voorbaat die veelgeroemde
grondwetlike orde in Suid-Afrika afskryf.