chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

25 November 2005 

Naamsveranderings en beeldverwery

Dit word reeds algemeen aanvaar dat Suid-Afrika in 1994 'n politieke revolusie in die klassieke sin van die woord beleef het. Eie aan revolusies - teenoor 'n gewone demokratiese bewindsverandering - is die aftakeling van die simbole van die ou orde en die vestiging van die revolusie se nuwe simbole.

Soms keer ou simbole en name egter skielik terug, soos wat in die doodsnikke van die ou Sowjetunie gebeur het. Op 'n dag het die wit, blou en rooi van die imperiale Russiese vlag eenvoudig bokant 'n gebou in Leningrad gewapper, wat sedertdien natuurlik sy ou naam Sint Petersburg teruggekry het.

Oor die afgelope aantal jare het Suid-Afrika se radikale ANC-bewind wat gereeld die voortreflikhede van revolusie in sy verklarings besing, voortgegaan om naamsveranderings op vele dorpe, buurte en strate af te dwing. Sulke naamsveranderings geskied meesal teen die wense van die plaaslike inwoners en sonder dat die korrekte prosedure gevolg word.

Op 13 September is die nuwe beeld van hoofman Makhado op Louis Trichardt oranje, wit en blou geverf. Kennelik het dit 'n presedent geskep, want so pas is Beyers Naudé se gedenkteken in Johannesburg in dieselfde kleure toegetakel.

Terwyl die ANC sy politieke mag en beheer oor die polisie en weermag gevestig het, het hy nog nie sy nuwe simboliese orde met dieselfde stelligheid kon afdwing nie. Vandaar dus die stryd wat tans rondom naamsveranderings, vlae, standbeelde en simbole woed.

Beyers Naudé is een van slegs twee of drie historiese Afrikanerfigure wat vir die ANC aanvaarbaar is. Die ander is natuurlik die voormalige hoof van die Kommunistiese Party, Braam Fischer. Vir die gewone Afrikaner is Naudé egter 'n randfiguur, iemand wat Afrikanisme en radikalisme in die vorm van die bevrydingsteologie aangegryp het en blykbaar selfs vir Umkhonto we Sizwe wapens gesmokkel het. In elk geval het Naudé sy posisie as geestelike gebruik om revolusionêre geweld te verskoon of selfs te vergoeilik.

Om 'n bekende hoofpad in Johannesburg na Beyers Naudé te vernoem, was omstrede. Dat daardie naamsverandering - soos dié van Louis Trichardt - tot reaksie sou lei, was min of meer voorspelbaar.

Hoe die simboliese stryd rondom Afrikaans, plekname, vlae en standbeelde verder ontplooi, mag die toekoms van Suid-Afrika bepaal.

25 November 2005 07:46:31 AM

boontoe