chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

26 Februarie 2005 

Die konstitusionele fallasie

Die ANC-regering het reeds sy voorneme om die Suid-Afrikaanse regbank op 'n rassegrondslag te "transformeer" duidelik gemaak. (Sien die rubriek deur Piet Kotzé elders op dié werf.) Die Hlope-verslag en algemene bewerings van "rassisme" deur blanke regters en advokate gaan die grond verskaf vir 'n hele revolusie in ons regspraak.

Sedert 1994, en selfs daarvoor, is ons getrakteer op wat mens die "konstitusionele fallasie" sou kon noem. Dit is naamlik die gedagte dat 'n stuk papier, bekend as die grondwet, 'n volk of 'n taalgemeenskap se regte en toekoms kan verseker, selfs al beskik daardie volk oor geen politieke mag, getalle, grondgebied of invloed nie.

Diegene wat steeds daarvan droom dat die Afrikaanse taal, onderwys en selfs ons fisieke voortbestaan verseker sal word deur 'n beroep op abstrakte regte wat in die grondwet vevat is, word elke dag ontnugter deur gebeure op kampusse, in skole en in die alledaagse lewe waar Afrikaners naakte oorheersing in al sy vorme ervaar.

Sodra die totale regbank "getransformeer" is, gaan nie net die grondwet nie, maar ook die reg self, deur swart Engelssprekende regters geïnterpreteer word met toenemende Afrikanisering van die gewoontereg.

Die manier waarop die grondwet reeds tien jaar lank geminag word sover dit die veeltaligheidsklousules aanbetref, verskaf 'n voorsmakie van wat gaan kom. 

'n Ander kommerwekkende ontwikkeling is die voortslepende Wouter Basson-sage. Basson is in die Appèlhof vrygespreek en dus moes sy saak reeds ten einde geloop het. Die grondwetlike hof word tans gebruik in 'n poging om die hele voorafgaande regsproses nietig te verklaar op grond daarvan dat regter Hartzenberg as blanke Afrikaner "bevooroordeeld" sou gewees het. Ons sien duidelik hoe regspraak in Suid-Afrika toenemend deur 'n etniese en rassebril bekyk word.

Die belang van die Basson-saak vir die regering is duidelik: aanvanklik is daar geglo dat Basson se saak in 'n soort Stalinistiese skouverhoor omskep kan word om vir altyd die vorige Afrikanerregering met bewerings van Nazisme en volksmoord te verguis. So 'n propaganda-oorwinning sou oorheersing oor Afrikaners vir die volgende honderd jaar verseker omdat die "Nazi's" enige politieke aansprake sou verbeur het. Ongelukkig het dit vir die staat anders verloop en moes daar in ANC-kringe groot teleurstelling geheers het.

Indien Basson heraangekla word, gaan die grondwetlike hof, wat veronderstel is om oor die onafhanklikheid van die regbank te waak, effektiewelik daardie onafhanklikheid afskaf. Howe sal toenemend ondergeskik staan aan die ANC se politieke oogmerke van rassetransformasie en geïnstitusionaliseerde diskriminasie teen blankes in die algemeen en Afrikaners in besonder.

Daar bestaan weinig Afrikalande suid van die Sahara, indien enige, waar die regbank werklik onafhanklik van die uitvoerende gesag is. Gegewe die sterk Westerse tradisie van regspleging in Suid-Afrika wat tot onlangs geheers het, sodat howe selfs in die sogenaamde apartheidstyd gebruik is om staatsmag aan bande te lê en individuele regte te beskerm, was Suid-Afrika tot dusver die uitsondering op die reël.

Die skrif is egter aan die muur vir ons regbank. So ook vir die "konstitusionele fallasie" waarmee soveel mense oor die afgelope tien jaar gesus is.

 

boontoe