Die
gesprek tussen die ANC en sommige Afrikanerleiers wat deur die F.W.
de Klerk-stigting aangelê is, het intussen wyd onder skoot gekom.
Kritiek wissel van die bruin joernalis Henry
Jeffreys se beswaar dat die afvaardiging geen kleurlinge
of Indiërs ingesluit het nie, tot aanklagte van verraad en 'n
"nuwe uitverkoop".
Gegewe die
swak onderhandelings wat De Klerk en Roelf Meyer in die vroeë
negentigerjare gevoer het, asook die onbeholpe magsoorgawe aan die
ANC, is dit te verstane dat die gemiddelde Afrikaner skepties staan
teenoor enige nuwe inisiatiewe wat van De Klerk sou uitgaan. De
Klerk word ook allerweë gesien as iemand wat nie volkome eerlik met
die Afrikanerkieser was nie en geniet daarom min geloofwaardigheid.
Op
Donderdag 25 Augustus is 'n debat onder beskerming van die FAK, wat
een van die rolspelers in die gesprek met die ANC was, rondom die
sogenaamde "nasionale vraagstuk" gevoer. Tydens die
gesprek het dit geblyk dat ten minste die FAK en Solidariteit bewus
sou wees van die vrugteloosheid van gesprekke met die ANC indien
daar geen vooraf mobilisering van Afrikaners rondom hul eie belange
plaasvind nie.
In 'n
sekere sin het die FAK dus reeds 'n mea culpa aangeteken. Dieselfde
kan egter nie van F.W. de Klerk gesê word nie, wat intussen weer
Afrikaanse skole betig het dat hulle nie genoeg bruines en swartes
(wat juis op Engels as onderrigmedium aandring) inneem nie. Duidelik
speel De Klerk 'n dubbele spel wat op die Afrikaner se ondergang
gerig is.
Uit die
debat rondom die "nasionale vraagstuk" of dan die
Afrikaner se posisie in Suid-Afrika het die voorstel gekom dat
Afrikaanse organisasies oor 'n breë front moet saamwerk om
kulturele mobilisering onder Afrikaners te bewerkstellig. Ook
jeugbewegings soos die Voortrekkers kan tydens sodanige mobilisering
betrek word.
Hoewel die
gesprek met die ANC dus op die oog af vrugteloos en verdag - weens
die deelname van De Klerk - was, is die lug nou grotendeels gesuiwer
sover dit moontlike samewerking tussen Afrikaanse organisasies
betref.
Heel
waarskynlik kan die FAK as voertuig dien om 'n groot verskeidenheid
Afrikaanse organisasies byeen te bring. Terwyl robuuste debat 'n
voorvereiste is vir 'n behoorlike strategie rondom
Afrikaneroorlewing, behoort Afrikaners mekaar se goeie trou rondom
die huidige mobiliseringsaksie te aanvaar.
Kulturele
mobilisering moet ook nie plaasvind om die ANC-bewind van enigiets
te oortuig nie, maar om ons volk self te versterk en te inspireer om
deur toenemenende verset teen onbillike maatreëls ons probleme te
oorkom.
Hoe gouer
gekoördineerde samewerking tussen organisasies 'n werklikheid kan
word, hoe beter.
29/09/05 03:09