chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

26 Augustus 2005 

ANC-debakel lei tot groter onderlinge begrip

Die gesprek tussen die ANC en sommige Afrikanerleiers wat deur die F.W. de Klerk-stigting aangelê is, het intussen wyd onder skoot gekom. Kritiek wissel van die bruin joernalis Henry Jeffreys se beswaar dat die afvaardiging geen kleurlinge of Indiërs ingesluit het nie, tot aanklagte van verraad en 'n "nuwe uitverkoop".

Gegewe die swak onderhandelings wat De Klerk en Roelf Meyer in die vroeë negentigerjare gevoer het, asook die onbeholpe magsoorgawe aan die ANC, is dit te verstane dat die gemiddelde Afrikaner skepties staan teenoor enige nuwe inisiatiewe wat van De Klerk sou uitgaan. De Klerk word ook allerweë gesien as iemand wat nie volkome eerlik met die Afrikanerkieser was nie en geniet daarom min geloofwaardigheid.

Op Donderdag 25 Augustus is 'n debat onder beskerming van die FAK, wat een van die rolspelers in die gesprek met die ANC was, rondom die sogenaamde "nasionale vraagstuk" gevoer. Tydens die gesprek het dit geblyk dat ten minste die FAK en Solidariteit bewus sou wees van die vrugteloosheid van gesprekke met die ANC indien daar geen vooraf mobilisering van Afrikaners rondom hul eie belange plaasvind nie.

In 'n sekere sin het die FAK dus reeds 'n mea culpa aangeteken. Dieselfde kan egter nie van F.W. de Klerk gesê word nie, wat intussen weer Afrikaanse skole betig het dat hulle nie genoeg bruines en swartes (wat juis op Engels as onderrigmedium aandring) inneem nie. Duidelik speel De Klerk 'n dubbele spel wat op die Afrikaner se ondergang gerig is.

Uit die debat rondom die "nasionale vraagstuk" of dan die Afrikaner se posisie in Suid-Afrika het die voorstel gekom dat Afrikaanse organisasies oor 'n breë front moet saamwerk om kulturele mobilisering onder Afrikaners te bewerkstellig. Ook jeugbewegings soos die Voortrekkers kan tydens sodanige mobilisering betrek word.

Hoewel die gesprek met die ANC dus op die oog af vrugteloos en verdag - weens die deelname van De Klerk - was, is die lug nou grotendeels gesuiwer sover dit moontlike samewerking tussen Afrikaanse organisasies betref.

Heel waarskynlik kan die FAK as voertuig dien om 'n groot verskeidenheid Afrikaanse organisasies byeen te bring. Terwyl robuuste debat 'n voorvereiste is vir 'n behoorlike strategie rondom Afrikaneroorlewing, behoort Afrikaners mekaar se goeie trou rondom die huidige mobiliseringsaksie te aanvaar.

Kulturele mobilisering moet ook nie plaasvind om die ANC-bewind van enigiets te oortuig nie, maar om ons volk self te versterk en te inspireer om deur toenemenende verset teen onbillike maatreëls ons probleme te oorkom.

Hoe gouer gekoördineerde samewerking tussen organisasies 'n werklikheid kan word, hoe beter.

29/09/05 03:09

 

boontoe