Die
huidige skandaal rondom mnr. Jacob Zuma, die adjunk-president, se
aandeel in die wapenskandaal demonstreer weereens ‘n ou waarheid
aangaande die ANC, naamlik dat interne magstryde bepaal wie vir
korrupsie vervolg sal word en wie nie. Diegene wat uit guns raak
binne die ANC self, soos Zuma of onlangs ook die minister van
verdediging, Mosiuoa Lekota, wat ‘n boete moes betaal weens
onverklaarde sakebelange, is gewoonlik hulle wat die spit afbyt en
uiteindelik vervolg word of waaroor daar inligting aan die media
gelek word.
Die
hele wapentransaksie was kennelik deurtrek van korrupsie,
onderduimse kommissies en dergelike meer. Zuma en Shabir Shaik, die
Durbanse sakeman wat betrokke was by omkoopgeld en die
wanadministrasie van maatskappye, se kaperjolle is waarskynlik nie
veel verskillend van ander gedeeltes van die wapentransaksie nie.
Enkele weke gelede nog is berig dat een konsultant R2 miljard aan
kommissie vedien het, ‘n aardige bedrag om tenderdokumente in te
vul.
Hoewel
Zuma nie vervolg gaan word nie, wil dit voorkom asof sy politieke
loopbaan op die spel is. Dui dit daarop dat hy besig was om ‘n
lastige mededinger vir Mbeki te raak? Gerugte oor ‘n moontlike
derde termyn vir Mbeki wil maar nie gaan lê nie, en die feit dat
Zuma tegelyk adjunk-president en ‘n Zoeloe is met ‘n
streeksmagsbasis in Natal kan ‘n verduideliking bied waarom hy in
onguns verval het. Dit mag ook wees dat Zuma nie as ‘n geskikte
opvolger vir Mbeki beskou word nie, en daar vroegtydig gepoog word
om van hom ontslae te raak.
Die
wil om korrupsie teen te gaan, is duidelik nie by die ANC
teenwoordig nie. Daarom dui die geval Zuma eerder op ‘n interne
magstryd wat daarop gemik is om die adjunk-president te diskrediteer.
Wat
dit alles aan ons demonstreer, is dat die ANC ‘n meedoënlose
organisasie is wat periodiek van suiweringsveldtogte gebruik maak om
interne mededingers uit te skakel. Dit herinner sterk aan die
praktyke wat in die voormalige Sowjet-Unie en ander Oos-Europese
lande gangbaar was.
Vir
enigeen wat onder die indruk verkeer dat Suid-Afrika ‘n demokrasie
is, moet die manier waarop nou met Zuma te werk gegaan word,
versoberend wees. Indien die opposisie ooit die ANC by die stembus
begin bedreig, iets wat tans heeltemal buite die kwessie is, sal ons
‘n ander kant van ANC-meedoënloosheid begin sien. Tot dusver is
daar niks wat die ANC onderskei van die Nujoma- of Mugabe-bewinde
nie, behalwe dat Suid-Afrika ‘n veel ryker land is wat langer neem
om leeg te tap en dat geen opposisiegroep tot nogtoe daarin kon
slaag om hoegenaamd die ANC se mag te bedreig nie. 29/09/05 03:09