chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

27 April 2005

Nog 'n "Freedom Day", maar waar's die vryheid?

Vandag word die sogenaamde "Freedom Day" weereens gevier, maar die vraag kan tereg gestel word: waar is die vryheid?

In die onlangse verlede het Suid-Afrikaners se spraakvryheid, handelsvryheid, besitsreg, onafhanklikheid van die reg, mediavryheid, vryheid om hul taal en kultuur uit te leef, ens., toenemend onder skoot gekom.

Spraakvryheid staan in die brandpunt, want daar word nuwe pogings deur sowel die regering as 'n liggaam soos die Menseregtekommissie aangewend om die regering se kritici die swye op te lę, alles in die naam van "rassisme". Die ANC verteenwoordig 'n hoofsaaklik swart regering. Om dit te kritiseer, kom op "rassisme" neer. Selfs 'n figuur soos Biskop Desmond Tutu is daarvan beskuldig dat hy die saak van "blanke rassiste" bevorder toe hy die ANC se eenparty-hegemonie en gebrek aan politieke debat in die land bevraagteken het.

Verwysings na die ongekende geweld wat die land teister, en wat 'n bespotting maak van die reg op lewe soos dit in die grondwet vervat is, word insgelyks met krete van "rassisme!" begroet, aangesien die persone wat sodanige geweld en misdaad pleeg, hoofsaaklik tot een rasse- en geslagsgroep behoort.

Suid-Afrika is veronderstel om 'n kapitalistiese samelewing volgens die liberaal-demokratiese model te wees. Nietemin het die ANC 'n hele arsenaal van rassewetgewing ingevoer wat dit moeilik maak vir blankes om handel te dryf of om poste in die formele ekonomie te bekom. Terwyl regstellende aksie in die VSA aangewend word om 'n minderheid teen meerderheidsoorheersing te beskerm, geld dit hier by ons om meerderheidstirannie te verseker.

Rassewetgewing is ook van toepassing op besitsreg in Suid-Afrika. 'n Swart persoon mag honderd persent van 'n onderneming of vaste eiendom besit, maar 'n blanke nie. Hy is verplig om 'n gedeelte van sy bates aan swartes af te staan, dikwels sonder vergoeding. Boere word verplig om 'n gedeelte van hul plaas of boerdery aan hul werkers oor te maak, weereens sonder vergoeding.

Ook die onafhanklikheid van ons regbank het in onlangse tye in die gedrang gekom, met die immerteenwoordige klag van rassisme wat selfs teen liberale blanke regters geslinger word. Wetgewing word voorberei wat regters ondergeskik aan politieke gesag gaan maak en wat die doodsklok gaan lui vir die eeue-oue tradisie van onafhanklike regspraak wat deur die Nederlanders en Britte na Suid-Afrika gebring is en wat deur Afrikaners veral in die negentiende en twintigste eeue uitgebou is. Selfs in die apartheidstyd toe daar veiligheidswetgewing uitgevaardig is wat individuele vryheid in die land aangetas het, het die regbank dikwels uitsprake teen die staat gelewer en die regte van burgers eerste gestel. Hierdie tradisie mag binnekort iets van die verlede wees as rassetransformasie en nie bekwaamheid of regsbeginsels nie, die botoon in ons howe gaan voer.

Die situasie van Radio Pretoria, 'n Afrikaanstalige gemeenskapsradiostasie, wat reeds langer as tien jaar uitsaai, toon dat mediavryheid in ANC-Suid-Afrika nie as 'n gegewe beskou kan word nie. Dié stasie veg 'n verbete en duur hofstryd om sy uitsaailisensie te behou, terwyl hy aangeval word op gronde soos dat hy nie anderskleuriges in diens het nie. Weereens geld daar dubbele standaarde, want daar bestaan swart radiostasies en ander ondernemings wat net swartes in diens het, maar 'n radiostasie wat deur blanke Afrikaners bedryf word en vir 'n Afrikanergehoor uitsaai, mag nie oor 'n personeelkorps beskik wat sy gehoor weerspieël nie.

Die Afrikaanse taal en kultuur het oor die afgelope tien jaar geweldig agteruitgegaan met instellings soos skole, universiteite, navorsingsinstitute en musea wat voor die voet aan verengelsing en etniese suiwering blootgestel word. Die vryheid van die Afrikanervolk om sy eie kultuur uit te leef, iets wat węreldwyd as normaal aanvaar word, geld nie onder toestande van Afrosentriese "freedom" nie.

Onlangs het die ANC bevind dat Zimbabwe 'n "demokrasie" en 'n vry land verteenwoordig. Dieselfde begrippe van vryheid wat in Zimbabwe geld, definieer toenemend Suid-Afrika se eie opvattinge van "freedom".

Hoeveel keer het die kreet van "freedom" of "oehoeroe" nie al in Afrika opgeklink, net om die bevolkings nogmaals in tirannie te dompel nie?

 

boontoe