Vandag word die sogenaamde
"Freedom Day" weereens gevier, maar die vraag kan tereg
gestel word: waar is die vryheid?
In die onlangse verlede het
Suid-Afrikaners se spraakvryheid, handelsvryheid, besitsreg,
onafhanklikheid van die reg, mediavryheid, vryheid om hul taal en
kultuur uit te leef, ens., toenemend onder skoot gekom.
Spraakvryheid staan in die
brandpunt, want daar word nuwe pogings deur sowel die regering as 'n
liggaam soos die Menseregtekommissie aangewend om die regering se
kritici die swye op te lę, alles in die naam van
"rassisme". Die ANC verteenwoordig 'n hoofsaaklik swart
regering. Om dit te kritiseer, kom op "rassisme" neer.
Selfs 'n figuur soos Biskop Desmond Tutu is daarvan beskuldig dat hy
die saak van "blanke rassiste" bevorder toe hy die ANC se
eenparty-hegemonie en gebrek aan politieke debat in die land
bevraagteken het.
Verwysings na die ongekende
geweld wat die land teister, en wat 'n bespotting maak van die reg
op lewe soos dit in die grondwet vervat is, word insgelyks met krete
van "rassisme!" begroet, aangesien die persone wat
sodanige geweld en misdaad pleeg, hoofsaaklik tot een rasse- en
geslagsgroep behoort.
Suid-Afrika is veronderstel
om 'n kapitalistiese samelewing volgens die liberaal-demokratiese
model te wees. Nietemin het die ANC 'n hele arsenaal van
rassewetgewing ingevoer wat dit moeilik maak vir blankes om handel
te dryf of om poste in die formele ekonomie te bekom. Terwyl
regstellende aksie in die VSA aangewend word om 'n minderheid teen
meerderheidsoorheersing te beskerm, geld dit hier by ons om
meerderheidstirannie te verseker.
Rassewetgewing is ook van
toepassing op besitsreg in Suid-Afrika. 'n Swart persoon mag honderd
persent van 'n onderneming of vaste eiendom besit, maar 'n blanke
nie. Hy is verplig om 'n gedeelte van sy bates aan swartes af te
staan, dikwels sonder vergoeding. Boere word verplig om 'n gedeelte
van hul plaas of boerdery aan hul werkers oor te maak, weereens
sonder vergoeding.
Ook die onafhanklikheid van
ons regbank het in onlangse tye in die gedrang gekom, met die
immerteenwoordige klag van rassisme wat selfs teen liberale blanke
regters geslinger word. Wetgewing word voorberei wat regters
ondergeskik aan politieke gesag gaan maak en wat die doodsklok gaan
lui vir die eeue-oue tradisie van onafhanklike regspraak wat deur
die Nederlanders en Britte na Suid-Afrika gebring is en wat deur
Afrikaners veral in die negentiende en twintigste eeue uitgebou is.
Selfs in die apartheidstyd toe daar veiligheidswetgewing
uitgevaardig is wat individuele vryheid in die land aangetas het,
het die regbank dikwels uitsprake teen die staat gelewer en die
regte van burgers eerste gestel. Hierdie tradisie mag binnekort iets
van die verlede wees as rassetransformasie en nie bekwaamheid of
regsbeginsels nie, die botoon in ons howe gaan voer.
Die situasie van Radio
Pretoria, 'n Afrikaanstalige gemeenskapsradiostasie, wat reeds
langer as tien jaar uitsaai, toon dat mediavryheid in
ANC-Suid-Afrika nie as 'n gegewe beskou kan word nie. Dié stasie
veg 'n verbete en duur hofstryd om sy uitsaailisensie te behou,
terwyl hy aangeval word op gronde soos dat hy nie anderskleuriges in
diens het nie. Weereens geld daar dubbele standaarde, want daar
bestaan swart radiostasies en ander ondernemings wat net swartes in
diens het, maar 'n radiostasie wat deur blanke Afrikaners bedryf
word en vir 'n Afrikanergehoor uitsaai, mag nie oor 'n
personeelkorps beskik wat sy gehoor weerspieël nie.
Die Afrikaanse taal en
kultuur het oor die afgelope tien jaar geweldig agteruitgegaan met
instellings soos skole, universiteite, navorsingsinstitute en musea
wat voor die voet aan verengelsing en etniese suiwering blootgestel
word. Die vryheid van die Afrikanervolk om sy eie kultuur uit te
leef, iets wat węreldwyd as normaal aanvaar word, geld nie onder
toestande van Afrosentriese "freedom" nie.
Onlangs het die ANC bevind
dat Zimbabwe 'n "demokrasie" en 'n vry land
verteenwoordig. Dieselfde begrippe van vryheid wat in Zimbabwe geld,
definieer toenemend Suid-Afrika se eie opvattinge van
"freedom".
Hoeveel keer het die kreet
van "freedom" of "oehoeroe" nie al in Afrika
opgeklink, net om die bevolkings nogmaals in tirannie te dompel nie?