chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

30 November 2005 

Wil die polisie plaasmoordenaars beskerm?

Die nuus dat boere van TLU-SA wat by plaasveiligheidsprogramme betrokke is nou deur die SAPD geteiken word deur opsporingsapparaat aan hul motors aan te bring, toon in watter mate die staat en sy organe onder politieke beheer van die ANC staan. Dit is dus nie vergesog om die SAPD voortaan as die ANC se Gestapo te bestempel nie.

Boere en ander inwoners in die Noord-Transvaal word daarvan verdink dat hulle uit protes teen ongewilde naamsveranderings naamborde verf. Teen hierdie onbenullige oortredings wat met graffiti vergelyk kan word, word spesialiseenhede van die polisie ontplooi wat hulle gewoonlik met staatsveiligheid of die bekamping van georganiseerde misdaad besig hou.

Intussen bly die Limpopoprovinsie 'n slagveld waar plaasmoordenaars oënskynlik straffeloos hul gang gaan. Verdagte moordenaars en geweldenaars se voertuie word kennelik nie bedraad met opsporingsapparaat nie.

Minister Jackie Selebi se opmerking dat dit "absurd is om van die polisie te verwag om winkelsentrums teen gewapende roof te beskerm" versterk die indruk dat die SAPD deesdae 'n beleid van laisser aller teenoor misdaad handhaaf en eerder wetsgehoorsame burgers wat van politieke inkorrektheid verdink word, wil teister.

Die vrees het altyd bestaan dat die ANC soortgelyk aan soveel Afrikaregerings die staatsmag vir sy eie politieke doelwitte sal gebruik. Die manier waarop daar tans teen boere opgetree word, laat min twyfel dat daar geen verskil meer tussen Suid-Afrika en 'n land soos Zimbabwe is nie.

Individuele vryheid en die reg op privaatheid wat kwansuis in die grondwet verskans is, word byna daagliks deur die SAPD en ander staatsdepartemente vertrap.

Wat egter nog meer kommerwekkend is, is dat die SAPD deur sulke optrede teen boere wat by plaasveiligheidsaksies betrokke is die indruk skep dat hy kop in een mus met plaasmoordenaars verkeer. Weereens kan mens nie verhelp om die parallel met sommige mislukte Afrikastate te tref nie en waar staatsamptenare dikwels kriminele aktiwiteite onder die beskerming van staatsgesag bedryf.

Geniet plaasmoordenaars dus deesdae die indirekte beskerming van die Suid-Afrikaanse polisie?

boontoe