Die pas
afgelope nasionale grondberaad in Johannesburg het duidelik getoon
watter radikalisering daar in ANC-geledere rondom grondbesit in die
land aan die gang is. Markbeginsels, asook die gedagte van
"vrywillige koper, vrywillige verkoper" het algemeen onder
skoot gekom van die adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka, asook
verskeie ministers en senior party-amptenare.
Die
ANC se planne met "grondhervorming" moet uiteraard teen
die agtergrond van sy volgehoue steun vir die Mugabe-bewind gesien
word. Selfs die minister van finansies, Trevor Manuel, wat soms as
'n gematigde in die ANC-kabinet gesien word, het vandeesweek 'n
pleidooi gelewer dat Suid-Afrika vir Zimbabwe finansieel behoort by
te staan ten einde nie 'n "mislukte staat" op ons grense
te hê nie.
Die
invloed van Afronasionalisme met sy slagspreuk "Afrika vir die
Afrikaan" is besig om sterker in die land te word. Tydens die
grondberaad is blanke verteenwoordigers van die landbou-unies deur
die swart beraadgangers uitgejou en uitgelag. Verlede jaar het 'n
groot deel van Suid-Afrika se swart elite ook vir Robert Mugabe op
die grasperk van die Uniegebou toegejuig vanweë sy sterk
anti-blanke en anti-Westerse beleid.
Afrikaners
- en blanke Suid-Afrikaners in die algemeen - sou naïef wees om nie
die skrif aan die muur te lees nie. Indien die ANC daarin slaag om
blanke boere van hul grond af te sit soortgelyk aan wat Mugabe in
Zimbabwe vermag het, sal ander sektore van die ekonomie waarskynlik
kort daarna aan die beurt kom.
Kortom,
Suid-Afrika staar 'n grondkrisis in die gesig. Dit is nóú die tyd
vir Afrikanerorganisasies en nie net landbouverenigings nie, om saam
te staan en 'n verenigde standpunt oor grondbesit en eiendomsreg in
te neem.
Indien
ons die geveg rondom grondbesit verloor, is daar min kans dat daar
nog hoegenaamd vir ons 'n toekoms onder 'n toenemend radikale
swart-nasionalistiese regering gaan wees.