chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

4 September 2003 

Geo Cronjé en verdeeldheid

Die Geo Cronjé-debakel het hier en oorsee 'n ongekende stortvloed kommentaar ontketen, wat alles 'n aanduiding gee van die verdeeldheid van die Suid-Afrikaanse samelewing.

Aanvanklik is Cronjé deur beide die ANC en die DA uitgekryt as 'n rassis. Van die Engelse koerante soos die Cape Argus, asook die Londense Guardian, het 'n etniese stryd daarvan gemaak deur die rugbspeler as 'n stereotipe Boer voor te stel, met 'n baard en net die hoed en bandolier wat nog kortkom.

Verlede Saterdag het die waarheid in 'n mate geseëvier toe daar bevind is dat "rassisme nie bewys kon word nie", wat dit ook al mag beteken. Skaars het die rusie bedaar of Marc Keohane bedank met bewerings van "vooroordeel" in die Springbokspan.

Rian Oberholzer, die Besturende Direkteur van SA Rugby, moes lankal bedank het, want alles dui daarop dat dit sy gebrekkige oordeel en politieke vrese was wat aanleiding gegee het tot die stap om Cronjé uit die span te skors. Oberholzer is 'n tipiese voorbeeld van die Afrikanerkruiper waarvan die land wemel sedert 1994, mense wat ter wille van hul eie posisie mede-Afrikaners in die rug sal steek of selfs wêreldwyd deur die media sal laat verguis.

Die jongste stap om nog 'n King-kommmissie van ondersoek aan te stel, verteenwoordig 'n blatante poging van Oberholzer om sy eie bas te red. Hiermee beweeg die hele kwessie na die vlak van "subliminale rassisme", want kennelik gaan dit moeilik wees om enigsins rassistiese gedrag by die spelers te bewys. Die ondersoek gaan dus onvermydelik beweeg na die die simboliese en sielkundige dimensie waar enigiets moontlik is en funeste interpretasies geheg kan word aan die onskuldigste gedrag of uitlatings.

Anders as wat die sogenaamde "nasiebouers" beweer, het Suid-Afrika geensins gevorder op die pad om sogenaamd "een nasie" te word nie. Verdeeldheid en etniese vyandigheid, veral tussen Afrikaners en die Engelse pers, word by die dag duideliker. Desnieteenstaande bestaan daar geen meganismes in die Suid-Afrikaanse bestel om hierdie verdeelheid en spanninge te bestuur nie, behalwe die geykte aandrang op samesmelting tot 'n enkele nasie.

Die behandeling wat Cronjé ontvang het, asook die internasionale media wat opnuut soos haaie op die Afrikanerdom toegesak het, behoort ons tot diepe nadenke te stem. Indien Afrikaners hoegenaamd in die toekoms die kwessies wat hulle raak, geopper wil sien, sal hierdie felle propaganda-aanslag uit binnelandse en buitelandse kringe die hoof gebied moet word. Dit gaan 'n reusetaak wees, asook baie moed en verbeelding verg, maar dit kan nie langer uitgestel word nie. 04/09/2003 12:31

 

boontoe