NOTULE VAN DIE KONFEDERALE AFRIKANERFORUM VERGADERING, GEHOU IN DIE OU RAADSAAL, PRETORIA, OP SATERDAG 4 OKTOBER OM 09:00

1. Verwelkoming

1.1 Die voorsitter, Chris Jordaan, heet almal welkom by die vyfde vergadering van die Konfederale Afrikanerforum. Hy wens Christo Landman namens die Forum geluk met sy benoeming tot die 185-kommissie.

2. Opening

2.1 Egbert Bosman open met skriflesing en gebed.

3. Kulturele bydrae

3.1 Marié Bosman lees voor uit die geskiedskrywer Theale se beskrywing van die situasie in die destydse ZAR.

4. Inleiding

4.1 Dan Roodt bespreek die kwessie van kultuurkonflik aan die hand van voorbeelde uit J.M. Coetzee se Dusklands en Disgrace.

4.2 Indien N.P. van Wyk Louw reg was en Afrikaans 'n brug tussen die Weste en Afrika vorm, kan ons moontlik hoop om mekaar ten minste vandag by hierdie Forum kan verstaan, anders as Coetzee se karakters, wat hulleself nie verstaanbaar kan maak nie en gedoem is om die vreemdheid van die ander se reëls te aanvaar.

4.3 Leendert van Oostrum verwys na Jannie Momberg se uitspraak in 1997, toe hy na die Afrikaners verwys het as "the moral captives of the Blacks."

5. Bespreking van die wysigings aan die Wet op die Herstel van Grondregte

5.1 Derek Hanekom verduidelik namens die African National Congress (ANC) die agtergrond, konteks en beginsels van die wysigingswetgewing.

5.1.1 In 1994 het daar talle vrese rondom grondhervorming bestaan. Die debat het intussen verander. Min mense is vandag nog in beginsel teen grondhervorming gekant.

5.1.2 Die twee belangrike fasette is restitusie en die herverdeling van grond.

5.1.3 Restitusie moet op 'n regverdige wyse verloop. Die minister het slegs beperkte regte om in sekere gevalle grond te onteien.

5.1.4 Volgens ANC-beleid word onteiening van grond as 'n "measure of last resort" gesien. Daar is sekere gevalle waar dit die enigste uitweg is. Mense moet in gedagte hou dat die owerhede van enige land oor die reg beskik om grond in gemeenskapsbelang te onteien.

5.2 Cassie Aucamp voer namens die Nasionale Aksie (NA) die redes aan waarom sy party teen die wetsontwerp gestem het.

5.2.1 Die wysigings, wat die afgelope week in die Nasionale Raad van Provinsies deurgevoer is, gee ietwat meer duidelikheid en stop die skuiwergat toe om die nuwe magte van die minister te beperk tot grond wat geraak word deur bestaande restitusie eise.

5.2.2 Die NA se belangrikste beswaar is dat grondrestitusie van 'n juridiese proses na 'n administratiewe proses verander het. Waar die proses vroeër by die grondeisehof begin het, begin dit nou by die minister.

5.2.3 Die grondeienaar moet nou die onkoste dra om die teendeel te bewys.

5.2.4 Dit bring artikel 25 van die grondwet in die gedrang.

5.2.5 Die ANC se motivering vir die wysigings, naamlik dat dit die restitusieproses gaan bespoedig, is blote mooi woorde teenoor die populistiese werklikheid. Wanneer daar met die ANC-voetvolk gepraat word, word Mugabe-taal gebruik. Die vraag ontstaan wat die werklike agenda is.

5.2.6 Goeie verhoudinge in die land word deur hierdie onsekerheid benadeel.

5.2.7 Hierdie wetsproses is swak bestuur, het valse verwagtings geskep en Zimbabwe-persepsies laat ontstaan.

5.3 Andries Botha van die Demokratiese Alliansie (DA) beklemtoon dat sy party ten gunste van restitusie is.

5.3.1 Die nuwe wetgewing ondermyn egter die liberale beginsel van die individu wat bo die staat verhewe is.

5.3.2 Die minister van landbou - en grondsake is tans onder druk van die president om die restitusieproses teen 2005 af te handel. Sy kan gevolglik nie as 'n onafhanklike arbiter in hierdie saak beskou word nie.

5.3.3 Die nuwe wysigings aan die wet gaan nie die proses bespoedig nie.

5.3.4 Die DA het 'n voorstel ingedien dat staat/donateursgeld gebruik moet word om eisers se eise te finansier.

5.3.5 Geen voorbeelde kon tot dusver deur die minister gegee word van sogenaamde vertragings en halsstarrige boere nie.

5.3.6 Die regering het tot dusver nie hul belofte van "a better life for all" nagekom nie.

5.3.7 Dit is die rede waarom die restitusiekwessie nou opgerakel word.

5.3.8 Die DA het teen die begroting vir grondsake gestem, aangesien die geld te min was. Die regering wil nie die begroting vermeerder nie en het hulle dus tot restitusie gewend.

5.4 Carol Johnson konsentreer op die wysigings wat die Nuwe Nasionale Party (NNP) met die ANC onderhandel het.

5.4.1 Daar is min kwessies wat soveel emosies ontlok. Daar was verder heelwat bespiegeling in die pers, veral ten opsigte van die magte van die minister.

5.4.2 Toe die wetsontwerp aanvanklik in die portefeuljekomitee bespreek is, was die NNP daarteen gekant.

5.4.3 Na afloop van die portefeuljekomitee bespreking en voor die aanvaarding deur die Nasionale Vergadering het die NNP met die ANC oor sekere wysigings ooreengekom

5.4.4 Eerstens maak die wet nou net voorsiening vir restitusie ten opsigte van reeds ingediende eise.

5.4.5 Tweedens is daar gekyk na die wet op administratiewe geregtigheid en meer spesifiek na hoe die minister haar funksies uitvoer. Dit is kruisverwys met die wet op die herstel van grondregte.

§ Die minister moet nou voldoende kennisgewing aan die grondeienaar gee

§ Die grondeienaar moet geleentheid kry vir vertoë en gespreksvoering.

§ Die minister moet redes vir die onteiening verskaf wat in die hof toetsbaar sal wees

§ Die onteiende mag appel aanteken.

§ Daar moet billike kompensasie wees.

5.4.6 Na aanleiding van hierdie veranderinge het grondeienaars niks om te vrees nie.

5.5 Pieter Groenewald van die Vryheidsfront + (VF+) meen dat mense hulle nie moet laat mislei nie.

5.5.1 Die benadeelde persoon moet nou koste aangaan om sy regte te beskerm.

5.5.2 Die wysigings is ingevoer ná die president se uitspraak dat die restitusieproses teen 2005 afgehandel moet wees.

5.5.3 Tussen 1994 en 1998 is slegs 41 eise afgehandel. Tans is daar nog nagenoeg 38 000 eise wat afgehandel moet word.

5.5.4 Volgens die VF+ word vertragings in die proses nie deur die boere veroorsaak nie, maar lê die probleem eerder by die administrasie.

5.5.5 Grondhervorming in Suid-Afrika se wortels is te vinde in die revolusionêre stryd van die ANC.

5.5.6 Die VF+ is teen die wetsontwerp gekant en beklemtoon dat daar tans baie grond beskikbaar is uit ander bronne: boere wat bankrot speel, staatsgrond, boere-verenigings wat probeer help, ens.

5.5.7 Volgens die minister is 5 - 7% van staatsgrond tans onbenut.

5.5.8 Die vrywillige koper/verkoper beginsel behoort gevolg te word.

5.5.9 Indien grondhervorming nie toegelaat word om 'n natuurlike pad te loop nie, gaan ons met 'n revolusie te make kry.

5.6 Ockie van Schalkwyk wys daarop dat ons holisties na die vraagstuk moet kyk. Boerdery word soos 'n besigheid bedryf. Waarom sal 'n jong man deesdae begin boer as hy nie meer seggenskap het oor wat op sy plaas gebeur nie?

5.7 Jack Loggenberg meen dat daar ook grondeise in stedelike gebiede bestaan en dat onteiening 'n werklikheid is wat al lankal met ons is. Hy haal aan uit 'n onlangse verklaring van die president: "The land shall belong to those who work it." Hy beskou dit as rassisme teen Blankes en waarsku dat mense nie naïef moet wees nie.

5.8 Christo Landman spreek sy verbasing uit dat politici nie artikel 25 van die grondwet gebruik nie. Hy wil weet of artikel 25 aangewend kan word om privaatgrondbesit te beskerm.

5.9 Leendert van Oostrum wys daarop dat plaasaanvalle die markwaarde van grond verlaag. Die vraag ontstaan waarom mense geld in plaaslike eiendom moet belê en of hulle dit nie eeder oorsee moet belê nie.

5.10 Derek Hanekom antwoord dat daar wel eise in sekere stedelike gebiede ingedien is, maar dat dit slegs 'n paar gevalle behels.

5.11 Die eiendomsklousule in die grondwet is destyds nie net met die NP onderhandel nie - ander partye was ook betrokke. Artikel 25 maak voorsiening vir grondonteiening in openbare belang.

5.12 Volgens Hanekom is daar steeds 'n gesonde landbousituasie met heelwat jong boere wat plase koop. Oral ter wêreld bestaan beperkings ten opsigte van grondgebruik, in die vorm van omgewings-en arbeidswetgewing.

5.13 Hy spreek verder die mening uit dat die grondeiseproses nie in 2005 afgehandel sal word nie. Daar is ingewikkelde sake wat langer gaan neem om op te los.

5.14 Elke Kelder wil weet waarom hierdie wysigings nodig was, aangesien die minister in elk geval tans van ander wetgewing gebruik maak om grond te onteien.

5.15 Andries Botha vra waarom grond nou onteien word aangesien die staat nie geld het om die vrywillige verkopers uit te betaal nie.

5.16 Hy verklaar verder dat die Suid-Afrikaanse regering nog nie een SA belegger in Zimbabwe gehelp het nie en dat hierdie gebrek aan optrede die verkeerde boodskap uitstuur.

5.17 Volgens Cassie Aucamp moet nie gevra word of die proses grondwetlik is nie, maar of dit reg en goed is.

5.18 Hy vra of ons eerlik ná die wysigings, wat deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar is, kan sê dat dit hier net oor restitusie handel en nie oor algemene grondhervorming nie.

5.19 Carol Johnson wys daarop dat daar meer onteienings voor 1994 plaasgevind het as daarna.

5.20 Billike kompensasie word deur die hof bepaal en is op elke geval se individuele meriete gebaseer.

5.21 Sy antwoord onomwonde ja op die vraag of ons hier moet aanbly en in die land moet belê.

5.22 Volgens Pieter Groenewald beskerm die grondwet ons eiendomsreg nie ten volle nie.

5.23 Hy verwys na die wet op eiendomsbelasting wat tans in die pyplyn is en die gevolge daarvan.

5.24 Johann Wingard bedank die vyf politieke verteenwoordigers en meen dat aanwesiges nou 'n blik gekry het op die toekomstige werkswyse van die Verteenwoordigende Afrikanerraad.

5.25 Piet Rudolph sekondeer Johann Wingard se opmerking. Hy wil verder weet waarom die grondeiseproses teruggaan na 1913 en nie 1902 nie, toe baie Afrikaners hulle grond verloor het.

5.26 Pol Doussy meen die wetswysigings kom neer op 'n skending van wat ons oor eiendomsreg belowe is. Hy vra verder waarom die HNP en ander partye nie genooi is nie. Hy wys daarop dat mense hulle moontlik met geweld teen hierdie wet sal verdedig.

5.27 Dan Roodt stel 'n vraag ten opsigte van die proses wat met die indiening van eise gevolg word en of daar organisasies en buitelandse regerings ook by die proses betrokke is.

5.28 Volgens Derek Hanekom is die afsluitdatum vir die indiening van eise reeds verby. Die proses het eenvoudig behels dat enigeen, wat onregmatig van sy grond ontneem is, 'n eis kon indien. Benewens individue was talle landbouorganisasies en ander by beide kante van die proses betrokke.

5.29 Chris Jordaan som die besprekings op deur te sê dat die gesprek van groot belang was, veral gesien in die lig van die huidige hongersnoodprobleem in die suider-Afrikastreek. Sommige van die politici het die gerusstelling gebied dat die proses net oor restitusie handel en nie oor globale grondhervorming nie. Verteenwoordigers van die opposisiepartye het dit egter duidelik gemaak dat dit slegs die eerste stap is op die pad na radikale grondhervorming.

5.30 Piet Uys merk op dat sulke debatte op 'n vroeër stadium moet plaasvind, waar die moontlikheid nog bestaan om die proses te beïnvloed.

5.31 Ernie Fabel waarsku dat die ANC nie in wese verander het nie en dat mense hulle argumente nie goedsmoeds moet aanvaar nie.

5.32 Chris van Zyl meen dat 'n regskenner in meer détail na die gevolge van die wet behoort te kyk en dan terug te rapporteer aan die Forum.

5.33 Albert Smook voel dat die politieke verteenwoordigers meer tyd gegun moes word om hulle saak te stel.

5.34 Japie Stone het die gesprek insiggewend gevind en voel dat kwessies soos misdaad op dieselfde wyse hanteer behoort te word.

6. Die Nasionale Gesondheidswet

6.1 Johan van der Wat het laat weet dat hy nie die bespreking van vanoggend kan bywoon nie. Daar word besluit om die implikasies van die Nasionale Gesondheidswet die hoofbesprekingspunt van 'n volgende vergadering te maak.

7. Terugvoer van werkskomitees

7.1 Johann Wingard lewer terugvoer namens die tegniese komitee.

7.1.1 Na aanleiding van die bekendmaking van die name van die lede van die 185-kommissie het die FAK gepoog om by die kommissie te affilieer, maar aangesien die kommissie nog nie behoorlik georganiseerd is nie, is die versoek van die hand gewys.

7.1.2 Die OVK se bereidwilligheid om 'n nasionale verkiesing vir Afrikaners te organiseer, word verder as 'n baie positiewe stap vir die totstandkoming van 'n Verteenwoordigende Afrikanerrraad gesien.

7.1.3 Daar is diegene wat 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad as verdelend vir die nasiebouproses ervaar. Hulle is van mening dat Afrikaners eerder deel moet word van die hoofstroom. Hulle sien die skep van nuwe kulturele strukture as oorbodig.

7.1.4 Die etniesgesinde Afrikaners voel egter anders, meen dat die huidige politieke stelsel die Afrikaners ontmagtig het en dat bestaande kulturele strukture uitgediend is.

7.1.5 Pogings om eenstemmigheid tussen hierdie twee groeperinge te bewerkstellig, is futiel.

7.1.6 Om Afrikaners op ras-en taalgronde te wil klassifiseer, het nie meer veel sin nie. Baie Afrikaners beskou hulleself nie meer as Afrikaners nie. Daar mag dalk so min as 12% etniesgesinde Afrikaners oor wees.

7.1.7 'n Tussentydse Afrikanerraad moet intussen opgerig word terwyl voorbereidings vir die verkiesing van 'n Verteenwoordigende Raad aangaan. Hierdie Tussentydse Raad sal uit 200 leidende figure uit die Afrikanergemeenskap bestaan, waarvan die helfte vroue sal wees. Die instansie sal namens die Afrikanergemeenskap met die staat en die 185-kommissie skakel. Befondsing sal deur middel van gemeenskapsraadheffings, donateursfooie, erflatings en registrasiegeld geskied. Gemeenskapsrade sal ontwikkel moet word in voorbereiding vir die verkiesing van 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad in September 2005.

7.1.8 Tydens die 2005-verkiesing sal 'n balans geskep moet word tussen geografiese- en belangeverteenwoordiging. Verteenwoordigers sal in die Ou Raadsaal ingesweer word. Lede sal vir 'n periode van 5 jaar verkies word en sal komitees, asook 'n sekretariaat, aanwys.

7.1.9 Piet Uys vra of daar gedink word aan 'n provinsiale of nasionale liggaam en of daar al vordering gemaak is ten opsigte van gesprekvoering met ander groepe.

7.1.10 Chris Jordaan verduidelik dat daar gemeenskapsrade en 'n nasionale liggaam sal wees. Streeksrade is ook 'n moontlikheid.

7.1.11 Oelie Oelofse wys daarop dat lede van die Tussentydse Raad ook ingesweer behoort te word om hul erns te bewys.

7.1.12 Johann Wingard stem saam dat lede ingesweer moet word.

7.1.13 Moolman Mentz meen dat ons reg moet wegspring en dat 'n definisie van die Afrikaner opgestel moet word.

7.1.14 Chris Jordaan antwoord dat dit hier om vereenselwiging en aanvaarding van Afrikanerwaardes handel.

7.1.15 Daar word besluit dat die tegniese komitee die totstandkoming van die Afrikanerraad sal hanteer. Nominasies van lede vir die Tussentydse Raad kan deur Lydia van Eeden gekanaliseer word.

7.2 Chris van Zyl lewer terugvoer namens die veiligheidskomitee.

7.2.1 Hy vra eerstens vir klarigheid oor die mandaat van die veiligheidskomitee.

7.2.2 Daar word besluit dat die veiligheidskomitee hulle sal bepaal by die kriminele aspekte van veiligheid en dat praktiese veiligheid ook kortliks toegelig sal word.

7.2.3 Chris van Zyl lig die volgende punte uit:

§ Onlangse vrystelling van die SAPS-misdaadverslag: geen werklike statistiek is verskaf nie - slegs persentasies toename/afname in verskillende misdade. § Vrystelling van die verslag van die kommissie van ondersoek na plaasmoorde. Verskeie vrae is nog steeds onbeantwoord, bv hoe soveel aanvalle aan blote misdaad toegeskryf kan word indien niks uit die plaashuise gesteel word nie. Die kommissie het egter bevind dat rassehaat 'n geringe rol speel in die motivering van plaasaanvalle. § Toenemende intimidasie vind in die landelike gebiede plaas in die vorm van onwettige begrafnisse op plase. § Plaasaanvalle is net 'n deel van die bedreiging: belastings, vervreemding, hoë voorvalle van brandstigting en diefstal vind ook plaas. § Toenemende gevalle van SAPS vooroordeel kom voor. § Individue is onder toenemende druk om hulle eie veiligheid te verseker.

7.2.4 'n Dokument oor praktiese veiligheid sal by Lydia van Eeden gelaat word vir diegene wat belangstel.

7.2.5 Albert Smook wil weet watter persentasie aanvalle polities/misdaadgemotiveerd is.

7.2.6 Volgens Chris van Zyl spreek die kommissie van ondersoek na plaasaanvalle die mening uit dat slegs 2% van plaasaanvalle polities gemotiveerd is - iets wat die TLU sterk betwyfel.

7.3 Ben Pieters lewer terugvoer namens die werkskeppingskomitee. Die volgende aanbevelings word gemaak:

§ Die titel van die komitee moet beperk word tot werkskepping. § 'n Opname moet onder Afrikaners gedoen word om die omvang en impak van werkloosheid te bepaal. § Fase 1: stel kerngroep van sakeleiers saam om 'n befondsingsinisiatief te dryf. § Fase 2: ontwerp struktuur en bedryfsraamwerk vir die fonds. § Fase 3: vestig die fonds en stel bestuur aan. § Fase 4: loods befondsingsinisiatief onder Afrikanerpubliek en sakegemeenskap. § Fase 5: stel fonds in bedryf.

7.3.1 Voorgestelde struktuur:

Aandeelhouers

Raad van direkteure

KAF-fonds

Projekleiers

Klein-en mikro-organisasies

7.3.2 Jaap Kelder berig kortliks oor die sukses van die sweisinstituut by Balmoral, waar opleiding op 6 Oktober 'n aanvang neem.

7.3.3 Johann Wingard stel voor dat die projekleiers terselfdertyd voorsitters van gemeenskapsrade kan wees.

7.3.4 Volgens Egbert Bosman sal kerke en Volkshulp 2002 statistiek kan verskaf om 'n idee van die omvang van werkloosheid te vorm.

7.3.5 Chris Jordaan meen dat ook Solidariteit oor relevante statistiek beskik.

7.3.6 Pol Doussy meld dat hy 'n voorstel het wat hy by 'n latere geleentheid aan die werkskeppingskomitee sal wil voorhou.

7.3.7 Dan Roodt meen dat groot firmas nou reeds genader kan word ten einde tot die befondsingsinisiatief by te dra.

7.3.8 Chris Jordaan beklemtoon dat mense nie hulle eie, individuele bydraes moet onderskat nie.

8. Samevatting

8.1 Dan Roodt meen dat daar baie aspekte is wat mense tans ontmoedig.

8.2 Afrikaners het te lank hulle heil by die staat gesoek. Met die politieke veranderinge het hulle alles verloor en moet alles weer van voor opgebou word.

8.3 Die volgende vergadering vind, hetsy op 8 November, hetsy begin Januarie, plaas.